Filtra per genere

God se Woord VARS vir jou Vandag

God se Woord VARS vir jou Vandag

Jokkie Gauché on behalf of Berni Dymet

JOU DAAGLIKSE GRATIS OORDENKING Wil jy graag direkte toegang tot VARS hê? Dit is ‘n daaglikse e-oordenking van 3 minute om jou te help om dieper in God se Woord en nader aan Jesus te kom. Elke oordenking bevat ‘n kragtige Bybelvers, met ‘n paar woorde van inspirasie, hoop en aanmoediging wat daagliks per e-pos na jou slimfoon, tablet of rekenaar gestuur word. Jy kan na die klank luister of die teks lees. Dit gaan alles daaroor om jou te help om God se stem te hoor, sodat jy in ‘n ryk, dinamiese en kragtige verhouding met Jesus kan leef. God se Woord in Afrikaans. Vars, vir jou, elke dag.

1184 - Die Bose Diep in die Mens
0:00 / 0:00
1x
  • 1184 - Die Bose Diep in die Mens

    Galasiërs 2:20ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê. 

    Daar is soveel boosheid in hierdie wêreld. Dink net aan mense met hul trots, selfsug en arrogansie. Wat van mishandeling, gesinne wat verdeeld is, nasies wat in oorlog vasgevang is, die armes, die uitgeworpenes. . .? Ja, boosheid is deesdae beslis nie skaars nie.

    Maar kom ons kyk na die boosheid wat in ons eie harte lê. Miskien dink jy, "Wag nou, my vriend, waarvan praat jy? Ek is nie boos nie." Maar nie een van ons is perfek nie. Ons almal flankeer met die bose. Soos die Russiese skrywer Aleksandar Solzhenitsyn in sy boek "Gulag Archipelago" geskryf  het...

    As dit maar slegs moontlik was om daardie groepie bose mense, wat verraderlike bose dade pleeg, uit die samelewing te verwyder en hulle te vernietig! Maar die lyn tussen goed en kwaad, sny deur die hart van elke mens. En wie is bereid om 'n stukkie van sy eie hart te vernietig?

    Dis ‘n goeie vraag. Dis waarom Jesus ons maan om ons kruis op te neem en om Hom te volg. Dis hoekom Hy ons roep om ons lewens af te lê, om aan onsself te sterf om die ware lewe te vind. Die apostel Paulus stel dit so in:

    Galasiërs 2:20 ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.

    Terwyl jy dink aan daardie skeidslyn tussen goed en kwaad wat deur jou hart sny, mag ek jou vra ... het jy die finale besluit geneem om saam met Christus gekruisig te word, om jou lewe af te lê, sodat jy ook kan verklaar: dit isnie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe?

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Mon, 06 May 2024
  • 1183 - Moenie die Rooi Vlag Ignoreer nie

    Matteus 10:16 “Onthou: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in. Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe. 

    Ek dink ons sal saamstem dat dit 'n voortreflike eienskap is om die goeie in ander mense raak te sien, hul potensiaal te waardeer en om hulle so 'n bietjie genadig te wees wanneer hulle foutjies begaan - nie waar nie? Die gevaar is egter dat jy dit te ver kan voer en dat dit tot langtermyn skade en ongelukkigheid kan lei.

    Kom ons kyk na hierdie scenario: man ontmoet meisie. Hulle raak verlief. Hy vra die jawoord. Sy aanvaar… ten spyte van die feit dat sy so ‘n effense ongemaklikheid in haar binneste voel en diep in haar hart ervaar dat iets dalk nie heeltemal pluis is nie. . . Maar hulle is verlief. Sy gaan hom beslis nog verander. Hulle trou … en binne ses maande ontdek sy dat sy met 'n vrouslaner getroud is. 

    Die hartverskeurende waarheid is dat nie almal dié mense is, wat hulle voorgee om te wees nie. Nou ja, dit is wonderlik om altyd na die mooi en goeie in ander mense te soek. Dit is 'n uitdrukking van God se karakter; van sy liefde. Maar daardie liefde moet met wysheid gepaard gaan. Jesus het dit so aan sy dissipels gestel in:

    Matteus 10:16 “Onthou: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in. Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe.

    Hy het hulle daardie waarskuwing gegee voordat Hy hulle onder 'n godsdienstige nasie, God se eie volk, uitgestuur het om sy goeie nuus te verkondig. Daardie mense sou tog sekerlik die dissipels met ope arms ontvang het? Maar Jesus het vooraf geweet dat hulle nie sou nie.

    Let op die skerp kontras in daardie waarskuwing: wees wys soos slange (met ander woorde sien mense vir wie hulle werklik is) en onskuldig soos duiwe (liefdevol, sagmoedig, sonder om hulle te oordeel). 

    Soos iemand eenkeer gesê het … as jy die rooi vlae ignoreer omdat jy die goeie in mense wil raaksien, sal dit jou duur te staan kom.

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Sun, 05 May 2024
  • 1182 - Roei ‘n Geskindery Uit

    Spreuke 11:13 'n Geskinder lap geheime uit; betroubare mense bewaar geheime. (NLV) 

    Skinder het die mag om reputasies te verwoes. 'n Ou geruggie hier, 'n konfidensiële ou storietjie daar en voor jy jou oë uitvee, word die skinderstroompie ‘n magtige rivier. Wat dryf ons om deel van daardie dwaasheid te wees? En glo my, dis baie meer as net dwaasheid! Dit vernietig lewens.

    Ja, en ons het elkeen maar dinge in ons lewens waarop ons nie trots is nie; en ons wil beslis nie hê dat ons sonde van die dakke af verkondig word nie.

    Dink nou net wat sou gebeur het as God oor jou wou skinder. Hy weet alles van jou af; alles wat jy al ooit gedink, gesê en gedoen het. Wat sou gebeur as Hy jou donkerste geheime met Jan en Alleman sou bespreek?

    Gelukkig is Hy nie ‘n skinderbek nie. Gelukkig sal Hy nooit wees nie. Sy Woord, die Bybel, spreek van sy deernis vir elkeen van ons, en dit spreek baie sterk en konsekwent teen skinderpraatjies.

    Spreuke 11:13 Die opregtheid van eerlike mense bepaal hulle koers; die valsheid van onbetroubares bring hulle ondergang.

    Sal jy iemand wat jy ken, vertrou as hy bekendstaan as 'n skinderbek? Jy sal dit nooit as te nimmer doen nie. Jy wil tog hê dat ander mense jou as 'n betroubare persoon sien, nie waar nie? En die manier waarop ons daardie reputasie ontwikkel, is om skinderstories nek om te draai voordat hulle ‘n kans kry om in iets gevaarliks te ontaard.

    Soos iemand eenkeer gesê het, skinder sterf wanneer dit 'n wyse persoon se ore tref. Nouja, dink ‘n bietjie watter verskil jy in jou werkplek, in jou vriendekring, selfs in jou eie familie, kan maak deur ‘n geskindery te stop!

    Wees daardie wyse persoon. Wees die een wat skinder wortel en tak uitroei. Wees die een wat God se liefde bewys deur jou mond styf toe te hou.

    ’n Geskinder lap geheime uit; betroubare mense bewaar geheime. (NLV).

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Sat, 04 May 2024
  • 1181 - Moenie Klippe Gooi Nie

    Johannes 8:7,10,11 Toe hulle aanhou om vrae te vra, het Jesus regop gestaan en vir hulle gesê: “Laat die een onder julle wat sondeloos is, die eerste een wees wat ’n klip na haar gooi.” Toe Jesus weer orent kom, het Hy vir haar gesê: “Vrou, waar is hulle heen? Het niemand jou veroordeel nie?”

    Sy het geantwoord: “Niemand nie, Meneer.” Jesus sê toe vir haar: “Ook Ek veroordeel jou nie. Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” (NLV) 

    Wanneer ons sien dat iemand anders ‘n verkeerde ding doen, voel ons al te dikwels verplig om regter te speel. Dit is 'n reaksie waartoe Christene ongelukkig, meer as ander mense, geneig is. Hoekom is dit?

    Miskien is dit omdat enigiemand wat daartoe verbind is om Jesus te volg, 'n sterker sin het van wat reg en van wat verkeerd is. En hoe meer ingeburger daardie sin van reg en verkeerd in ons word, hoe groter is die kans dat ons die slegte gedrag van ander sal beoordeel.

    En ons weet dat die moraliteit waarvan die Bybel praat, ver verwyder is van wat in vandag se samelewing die aanvaarbare morele standaarde is. So kom ons in ons hoogheilige ou groepie bymekaar en begin met die vinger wys na “daardie verskriklike mense daar buite”. Dit is maklik om meerderwaardig te voel, en dit is tog te maklik vir godsdienstige mense om ander mense te veroordeel.

    Die godsdiensleiers het destyds in Jesus se tyd, ‘n vrou wat aan owerspel skuldig was, voor Jesus gesleep om Hom te toets. Die Joodse wet het gesê sy moet gestenig word. Alhoewel die Romeinse wet bepaal het dat slegs die Goewerneur die doodsvonnis kon uitspreek. 

    Johannes 8:7,10,11Toe hulle aanhou om vrae te vra, het Jesus regop gestaan en vir hulle gesê: "Laat die een onder julle wat sondeloos is, die eerste een wees wat 'n klip na haar gooi." Toe Jesus weer orent kom, het Hy vir haar gesê: "Vrou, waar is hulle heen? Het niemand jou veroordeel nie?"

    Sy het geantwoord: "Niemand nie, Meneer." Jesus sê toe vir haar: "Ook Ek veroordeel jou nie. Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie." (NLV)

    Dis interessant, nè? Die enigste persoon in daardie groep wat sondeloos was, die enigste een wat gekwalifiseerd was om 'n klip te gooi, het verkies om dit nie te doen nie!

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Fri, 03 May 2024
  • 1180 - Een Blinde Lei ‘n Ander

    Lukas 6:39,40 Jesus het toe die volgende voorbeeld gebruik: “Hoe kan ’n blinde persoon ’n ander blinde lei? Die eerste sal in ’n sloot val en die ander een saam aftrek.’n Leerling is nie belangriker as sy leermeester nie. Maar die leerling wat hard werk, sal net soos sy leermeester word. (NLV) 

    Dis ‘n ernstige en gevaarlike situasie wanneer enigiemand hul vertroue in ‘n persoon of enigiets anders as die waarheid van die Evangelie van Jesus Christus stel. Selfs Christene (in werklikheid veral Christene), kan hul geloof tot belaglike en gevaarlike uiterstes neem.

    Ja, mense word mislei om gewelddadig op te tree; en dit is hoe die Kruistogte, daardie verskriklike godsdiensoorloë tussen 1095 en 1291 ontstaan het; asook die Katolieke Inkwisisie van die 12de tot die middel van die 15de eeu. Ja, en vandag kry ons dit in die vorm van die selfmoordbomaanvallers van ander godsdienstige groeperinge. 

    Vir 'n Christen is die waarheid van die Evangelie 'n onweerlegbare werklikheid. Maar daar is deesdae baie invloedryke leraars, wat Christene oproep om op te staan, om hul regte terug te eis, om hul land (in watter land hulle ook al woon) met mag in 'n Christelike een te verander. Hulle gebruik oortuigende argumente … en tog mis hulle die punt.

    Lukas 6:39,40 Jesus het toe die volgende voorbeeld gebruik: “Hoe kan ’n blinde persoon ’n ander blinde lei? Die eerste sal in ’n sloot val en die ander een saam aftrek.’n Leerling is nie belangriker as sy leermeester nie. Maar die leerling wat hard werk, sal net soos sy leermeester word. (NLV)

    Moenie toelaat dat blinde gidse jou op 'n dwaalspoor lei nie. Die doel van die Evangelie, die Goeie Nuus van Jesus Christus, is nie om dit op ander af te dwing nie. Soos iemand eenkeer gesê het, wanneer jy Christenskap met mag begin meng, het jy kort voor lank leiers wat besig is om ‘n kruis op iemand anders se skouers af te forseer, eerder as om dit vir hulself op te neem.

    Tree dus oordeelkundig op. Kies jou onderwysers versigtig. Ja, ek weet ons moet opstaan teen die kwaad, maar onthou, die Evangelie van Christus is 'n Evangelie van God se liefde, sy vergifnis, sy begeerte om mense na Hom toe te trek.

    Moenie in die duiwel se slagyster trap nie.

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Thu, 02 May 2024
Mostra altri episodi