Filtrar por gênero

God se Woord VARS vir jou Vandag

God se Woord VARS vir jou Vandag

Jokkie Gauché on behalf of Berni Dymet

JOU DAAGLIKSE GRATIS OORDENKING Wil jy graag direkte toegang tot VARS hê? Dit is ‘n daaglikse e-oordenking van 3 minute om jou te help om dieper in God se Woord en nader aan Jesus te kom. Elke oordenking bevat ‘n kragtige Bybelvers, met ‘n paar woorde van inspirasie, hoop en aanmoediging wat daagliks per e-pos na jou slimfoon, tablet of rekenaar gestuur word. Jy kan na die klank luister of die teks lees. Dit gaan alles daaroor om jou te help om God se stem te hoor, sodat jy in ‘n ryk, dinamiese en kragtige verhouding met Jesus kan leef. God se Woord in Afrikaans. Vars, vir jou, elke dag.

1190 - God Sal Jou Dra
0:00 / 0:00
1x
  • 1190 - God Sal Jou Dra

    Jesaja  46:3,4 Luister na My, nageslag van Jakob, almal wat oor is uit die nageslag van Israel, julle vir wie Ek gedra het van julle geboorte af, wat Ek vasgehou het vandat julle daar is. Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou julle dra en julle red. 

    In 'n wêreld wat so om sukses wentel, kan dit moeilik wees om die gevoel dat jy nie goed genoeg is nie, af te skud. Ons is mos veronderstel om bekwaam en selfstandig te wees, of hoe? Ons is veronderstel om sukses te behaal, nè?

    Ek is, soos so baie van ons, van kleins af geprogrammeer om sukses te behaal. En dit is iets waarmee ek beslis langs die pad gesukkel het. En hoe meer gedrewe, hoe meer sukses-georiënteerd jy is, hoe harder val jy wanneer jy misluk.

    Ja, natuurlik, ken ons die teorie dat ons die lewe se belangrike lesse deur ons foute leer. Dit is hoe ons ontwikkel, fatsoenlik en volwasse word. Wonderlik! Maar wat gebeur wanneer jy misluk; wanneer mense neersien op jou en jou oordeel?

    My vriend, hierdie vrees vir mislukking is iets wat ons moet hanteer, want wanneer jou hart op God gerig is, is die waarheid dat dit nie saak maak wat jou tref nie; of dit nou as gevolg van jou eie onnoselheid is of iets wat heeltemal buite jou beheer is; Hy sal jou daardeur dra.

    Dit is wat Hy vir sy volk Israel, wat soveel foute gemaak het; hulle rug op Hom gedraai het; en Hom soveel keer in die steek gelaat het, gesê het:

    Jesaja 46:3,4 Luister na My, nageslag van Jakob, almal wat oor is uit die nageslag van Israel, julle vir wie Ek gedra het van julle geboorte af, wat Ek vasgehou het vandat julle daar is. Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou julle dra en julle red.

    Toemaar my ou maat, jy sal nog baie foute maak, maar God sal jou tot op jou oudag deurdra na veiligheid.

    Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Sat, 11 May 2024
  • 1189 - Loop op die Regte Pad

    Spreuke 12:28 Op die weg van geregtigheid is daar lewe, maar die pad van hulle wat 'n wrok koester, lei na die dood. 

    Die lewensreis het baie kinkels en draaie, en baie vurke in die pad. Jy kan ongetwyfeld terugkyk en sien hoe 'n onbeduidende klein besluitjie om hierdie kant toe te loop, in plaas van daardie kant toe, die loop van jou lewe heeltemal verander het.

    Baie jare gelede, toe ek nog ’n nuwe Christen was, het ek op ’n taamlik onindrukwekkende kerkgeboutjie afgekom. Ek het besluit om 'n kans te waag en om in te gaan. Ja, en so ek het die volgende Sondag weer teruggegaan en die diens bygewoon.

    Vir my kritiese oë en harde hart was die binnekant van die kerk net so onindrukwekkend soos die buitekant. Maar weet jy, deur die wonderlike mense daar binne, het God my hele lewe verander. Een Sondagoggend het ek by die kerkdeur ’n brosjure van ’n plaaslike Bybelkollege opgetel. Ek het sommer, sonder deeglike oorweging, soos nuwe Christene dikwels doen, ‘n besluit geneem: Ek het in my ywer om Jesus te volg, ingeskryf vir ’n Baccalaureus graad in die Bediening.

    En hier is ek en jy, al die jare later saam – ek het die voorreg om die Goeie Nuus van Jesus met jou te deel. Kyk nou net! Twee onbenullige besluite. Groot gevolge.

    Ek het daardie besluit op die ingewing van die oomblik geneem. Ek het dit instinktief geneem. Maar hoe kies jy? Hoe moet jy die regte pad kies wanneer jy by 'n vurk in die pad kom, soos jy beslis sal kom?

    Spreuke 12:28 Op die weg van geregtigheid is daar lewe, maar die pad van hulle wat 'n wrok koester, lei na die dood.

    Kies altyd die pad van geregtigheid. Hoe meer jy Jesus volg, hoe meer instinktief word die geregtigheid deel van jou. Om Jesus te volg, is soos in-diens-opleiding wat jou leer hoe goedheid en geregtigheid lyk.

    Kies die pad van geregtigheid. Dit is waar die ware lewe is. Dit is hoe jy vir ewig sal lewe.

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.



    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Fri, 10 May 2024
  • 1188 - ‘n Evangelie van Teenstrydighede?

    2 Korintiërs 5:21 Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees. 

    Weet jy daar is tye, wanneer die goeie nuus van Jesus glad nie soos goeie nuus voel nie. Hy het immers self vir ons gewaarsku dat om sy dissipel te word, harde werk van ons sal vra. Hoe kan ons dit as goeie nuus bestempel?

    Soms sal jy vind dat jy met sekere versoekings worstel op 'n manier, wat ongelowiges nooit eers sal pla nie. En Jesus se opdrag om ongelowiges netso lief te hê soos ons onsself het … dit gee jou sommer 'n verskriklike kramp as jy net daaraan dink; dis mos nie maklik nie!

    Gister het ons gesien hoe God ons sonde hanteer deur dit op Jesus se skouers te sit, sodat, wanneer ons in Hom glo, ons, uit genade,  volkome vrygespreek en regverdig voor God kan staan.

    2 Korintiërs 5:21 Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

    'n Massiewe gratis geskenk met ewige belonings! En tog het Jesus gewaarsku dat om sy dissipel te wees, nie rosegeur en maanskyn gaan wees nie. Boonop weet ons uit eie ervaring dat ons hard moet werk om in hierdie lewe vooruitgang te maak.

    Spreuke 12:27 Die luiaard gaan vang nie eens wild om te braai nie; 'n hardwerkende mens versamel kosbare besittings.

    Die gratis gawe van genade aan die eenkant en harde werk aan die anderkant. Dit is mos teenstrydig? Al wat ek vir jou kan sê, is dat wanneer jy op jou lewensreis vertrek, is jou skuldboek heeltemal uitgevee. Dit vrywaar jou nie van beproewings langs die pad nie, maar op een of ander manier verander Jesus jou in 'n nuwe mens; dié een wat Hy altyd beplan het jy moet wees.

    Dit blyk dat hierdie oënskynlike teenstrydigheid die wonderlikste vennootskap op ons reis na die ewigheid is.

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Thu, 09 May 2024
  • 1187 - God se Genade

    2 Korintiërs 5:21 Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees. 

    So baie dinge in hierdie lewe vereis harde werk. Goeie huwelike werk nie vanself nie, dit verg moeite. Om kinders groot te maak, verg baie moeite. Loopbaanbevordering vereis … wel, jy verstaan wat ek bedoel, nè?

    Ek wonder, hoe jy nou voel oor al die dinge in jou lewe wat dag na dag harde werk vereis? Dit is werklik uitputtend. En jy weet baie goed dat as jy ‘n Jesus-volgeling is, dat Hy ons self gewaarsku het, dat om ons lewens vir Hom te leef, harde werk sal verg.

    Regtig! Nog 'n ding om te hanteer! Dit laat ons vra ... Hoe getrou is ek in my wandel met Jesus? Voldoen ek aan sy verwagtinge? En sê-nou net ek is op die ou end nie goed genoeg nie?

    God weet dat jy baie besig is en dat daar baie dinge aan die gang is in jou lewe. Hy verstaan die druk waaronder jy verkeer. En die moeilikste deel van daardie vraag is beslis: Is ek regtig goed genoeg? Maar weet jy, dit is een wat Hy self hanteer het. Hy het die las van daardie groot vraag, die een met ewige gevolge, heeltemal van jou skouers af weggeneem en dit op die skouers van Iemand Anders geplaas.

    2 Korintiërs 5:21 Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

    Of, soos A.W. Tozer het dit gestel: Die enigste sonde wat Jesus ooit gehad het, was ons s’n. En die enigste geregtigheid wat ons ooit kan hê, is syne.

    Ons sal uit ons eie nooit goed genoeg wees nie. Maar wanneer ons in Jesus glo … is ons reeds. Dis genade.

    En dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Wed, 08 May 2024
  • 1186 - Hardloop die Resies

    Hebreërs 12:1 Met so ’n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ’n houvas op ’n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, (NLV) 

    Daar is tye in elkeen van ons lewens wanneer ons lus is om tou op te gooi. Of dit nou in jou huwelik is, in jou werk, in jou geloofswandel. . . Jy is nie die enigste een wat so voel nie. Op 'n stadium raak ons almal lus om net op te gee.

    Kan ek dit regtig persoonlik maak? Twee en ’n half maande gelede het ek 65 geword. Dit is die algemeen-aanvaarbare-aftree-ouderdom in die area waar ek woon. En elke nou en dan karring die idee van "aftrede" aan my vlees. Moet ek regtig aanhou om so hard te werk? Hoekom sit ek nie net luilekker op die stoep nie?

    Maar elke keer herinner God my aan die ontelbare mense, miljoene net soos jy, wat meer van Jesus moet hoor. So baie mense kry swaar. Daar is so baie wat op ‘n wêreldse manier op 'n dwaalspoor gelei word. So baie, wat nog moet ontdek wat die reddende liefde van Christus beteken.

    Watter uitdaging het God aan jou gestel? Watter wedloop het Hy jou geroep om te hardloop? En wanneer laas was jy in die versoeking om op te hou?

    Hebreërs 12:1Met so ’n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ’n houvas op ’n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, (NLV)

    Kyk, 'n wedloop was nooit veronderstel om maklik of gemaklik te wees nie. Maar dit is geen verskoning om op te hou nie. Kyk na diegene wat voor jou gegaan het, diegene rondom jou, daardie geloofshelde wat jy ken; dié wat voortgaan om hul wedloop ten spyte van alle teëstand te hardloop. Laat hulle jou inspireer!

    My vriend, stroop alles af wat jou spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ’n houvas op ’n mens kry. Hardloop met volharding op die baan wat voor jou uitgestrek lê. Hardloop jou resies. Moenie ophou nie.

    Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

    Support the Show.

    Enjoying The Content?
    For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
    DONATE R50 MONTHLY

    Tue, 07 May 2024
Mostrar mais episódios