Filtrar por género
- 758 - Vers en klank: Koorsboom - Jakes Möller
15 September 2026: Sophia van Taak en Lochner de Kock blaai deur die debuutbundel, Koorsboom. Dis die pennevrug van Jakes Möller, en ’n verrassend sterk eerste versameling – vol deeglike skryfwerk en eksperimente met vaste digvorme soos die haikoe, villanelle, kwatryn en sonnet.
Tue, 15 Sep 2026 - 757 - Vers en klank: Joan Hambidge
Die digter Joan Hambidge vier op 11e September haar 70ste verjaarsdag. Sophia van Taak hou vir haar ’n partytjie! Die gesprek gaan oor die grootste invloede op Hambidge se skryfwerk, haar gunsteling wêreldstede, wat sy doen wanneer sy saans uitgaan en waarom die Afrikaanse letterkunde met ’n akwarium vergelyk kan word.
Tue, 08 Sep 2026 - 756 - Vers en klank: William Rowland
1 September 2026: Komende Vrydag is dit Loslitdag. Dan kan die mense wat gewoonlik netjies moet aantrek vir werk, ook ’n slag sommer in jeans en tekkies werk toe gaan. Maar dié dag gaan nie eintlik oor net lekker gemaklik aantrek nie – dit is ’n groot bewusmakingsveldtog waarin die behoeftes van mense wat met gestremdhede saamleef, ’n slag weer onder ons almal se aandag gebring word. Eben Genis lees gedigte voor van William Rowland, wat as klein seuntjie sy sig verloor het. Sy blindheid het hom nooit teruggehou nie. Inteendeel, hy was een van Suid-Afrika se grootste kampvegters vir die regte van gestremdes.
Tue, 01 Sep 2026 - 755 - Vers en klank: Danie Marais - Ek is nie Danie
25 Augustus 2026: Daar het onlangs ’n bloemlesing van die digter Danie Marais se werk verskyn. Die gedigte vir hierdie versameling, Ek is nie Danie, is só keurig gekies dat dit amper soos ’n lewensverhaal lees, waar elke gedig voortbou op die vorige. Sophia van Taak gesels met Marais oor sy baie persoonlike skryfstyl. Die gedigte is verhalend en soms humoristies of ironies, maar daaronder lê ernstige vrae oor identiteit, skuld, liefde en waar ’n mens behoort.
Tue, 25 Aug 2026 - 754 - Vers en klank: Die skaduwee van siekte
18 Augustus 2026: Dit is seker een van die moeilikste gedagtes waarmee 'n mens gekonfronteer kan word - dat daar sekere dinge is wat eenvoudig buite jou beheer is. Jy kan byvoorbeeld sommige siektes probeer voorkom deur gesond te eet, meer te oefen en minder te stres. Maar partykeer skuil ’n gróót siekte in jou gene, en maak nie saak wát jy doen nie, dit sal op ’n dag maar net sy verskyning maak. Hierdie soort kwale raak selde net die een wat dit dra. Dit sprei sy skaduwee ook oor geliefdes en vriende. Ons luister na gedigte wat dié rimpels van ’n mediese uitdaging beskryf. Die voorlesers is Erica Wessels en Carel Nel.
Tue, 18 Aug 2026 - 753 - Vers en klank: Mediese mankemente
11 Augustus 2026: ’n Mediese ondersoek is selde net ’n ondersoek van die liggaam. Dit is ook ’n ondersoek van die gees. Dit vra iets van ’n mens se moed, jou geduld en jou vermoë om met onsekerheid saam te leef. Digters het nog altyd hierdie oomblikke probeer vasvang – die weerloosheid van ’n liggaam wat nie meer heeltemal gehoorsaam is nie; die vreemde taal van mediese terme; die menslike behoefte om sin te maak van lyding... Maar hulle skryf ook oor die humor wat, selfs in ’n spreekkamer, kan opduik. Carel Nel en Erica Wessels doen voorlesings van gedigte oor mediese mankemente.
Tue, 11 Aug 2026 - 752 - Vers en klank: Lina Spies
4 Augustus 2026: ’n Huldigingsbundel ter ere van die digter Lina Spies het onlangs by Naledi Uitgewers verskyn. Sophia van Taak praat met Alwyn Roux, een van die samestellers en redakteurs van ONTHOU IS DIE DAG WAT BREEK, oor Spies se digterlike nalatenskap, en hoe haar stem vandag steeds relevant is, en jong digters daarmee in gesprek tree.
Tue, 04 Aug 2026 - 751 - Vers en klank: Sondagblues
Daar is seker nie ’n amptelike diagnose soos Sondagblues-sindroom nie, maar dit is tog ’n algemene ding waarmee baie mense sukkel. Daardie spesifieke soort bedruktheid, ’n swaarmoedigheid wat jou op ’n Sondagnamiddag beetpak. Toemaar, jy’s nie alleen nie. Almal van ons wens dit kan eerder weer Saterdag wees – ons digters ook! Eben Genis lees gedigte voor oor Sondae.
Tue, 28 Jul 2026 - 750 - Vers en klank: Wilhelm Knobel
21 Julie 2026: Wilhelm Knobel was ’n Sestiger-digter, wie se klein, maar besonder intense oeuvre, die worsteling van ’n hoogs sensitiewe mens met eensaamheid, liefde, geestelike verwarring en die soeke na sin verwoord. Die voorleser, Carel Nel, verken hierdie eenkantmens se introspektiewe, maar baie beeldryke poësie.
Tue, 21 Jul 2026 - 749 - Vers en klank: Vuur
14 Julie 2026: Vuur is – saam met lug, water en grond – een van die klassieke elemente. Vuur is ook een van die mensdom se grootste ontdekkings. Dink maar net wat alles deesdae moontlik is omdat ’n oermens op ’n dag dit reggekry het om ’n hopie droë gras te laat vonk vat. En dan is daar ook soveel simboliek aan vuur: Vir party mense verteenwoordig dit kreatiwiteit en hoop; Dit word ook geassosieer met kennis, inspirasie, spirituele reiniging en transformasie. Al hierdie kenmerke van vuur en lig is ter sprake saam met voorleser Erica Wessels.
Tue, 14 Jul 2026 - 748 - Vers en klank: SJ Pretorius
7 Julie 2026: Die digter, SJ Pretorius, was veral bekend vir sy belangstelling in die gepynigde randfigure, die verstotenes in die krotbuurte. Hy’t ’n sagte plekke gehad vir die underdogs, die verskoppelinge. Hy was ook lief daarvoor om met die hoër klasse se maniertjies en oortuigings die draak te steek. Voorleser Johann Nel verken dié digter se deernisvolle skryfwerk oor mense wat nie oor mag of status beskik nie, en maklik misgekyk word.
Tue, 07 Jul 2026 - 747 - Vers en klank: Tom Dreyer - BRIEF OP VEERTIGDUISEND VOET
30 Junie 2026: Tom Dreyer se tweede digbundel, BRIEF OP VEERTIGDUISEND VOET, het vroeër vanjaar by Queillerie Uitgewers verskyn. Sophia van Taak gesels met hom oor die genot van dieper delf in die wetenskap, om dinge óóp te skryf, ’n boerbok op Bloubergstrand, die vele Nederlandse name vir ’n skoenlapper, en die antieke Persiese Ryk.
Tue, 30 Jun 2026 - 746 - Vers en klank: Vrugte
Vrugte is so ’n alledaagse ding. Daar’s maar altyd ’n paar appels of piesangs of nartjies in die huis. En met dié dat vars produkte van oraloor ingevoer word, kom ’n mens ook nie altyd agter dat vrugte seisoenaal is nie, want daar is altyd iets van alles op die winkelrak. Voorleser Susanne Beyers bekyk allerlei vrugtesoorte ’n slag ordentlik, want vrugte is eintlik wonderlike goed: Die smake, teksture, kleure... die verskeidenheid!
Tue, 23 Jun 2026 - 745 - Vers en klank: NP van Wyk Louw – RAKA (Deel 2)
16 Junie 2026: Die digter NP van Wyk Louw is op 11 Junie 1906 gebore, en op 18 Junie 1970 oorlede. Hy was ’n groot gees van die Dertiger-beweging. Met sy groot tegniese vaardigheid, sterk beelde en oorspronklike taalgebruik, het Louw ons letterkunde verryk én as’t ware gemoderniseer. Ons herdenk dié reus van die Afrikaanse letterkunde met sy grootste werk – RAKA. Susanne Beyers en Johann Nel is die voorlesers uit dié aangrypende epos.
Tue, 16 Jun 2026 - 744 - Vers en klank: NP van Wyk Louw – RAKA (Deel 1)
9 Junie 2026: Die digter NP van Wyk Louw is op 11 Junie 1906 gebore, en op 18 Junie 1970 oorlede. Hy was ’n groot gees van die Dertiger-beweging. Met sy groot tegniese vaardigheid, sterk beelde en oorspronklike taalgebruik, het Louw ons letterkunde verryk én as’t ware gemoderniseer. Ons herdenk dié reus van die Afrikaanse letterkunde met sy grootste werk – RAKA. Susanne Beyers en Johann Nel is die voorlesers uit dié aangrypende epos.
Tue, 09 Jun 2026 - 743 - Vers en klank: Bome
2 Junie 2026: Dit is baie gesond vir ’n mens – veral vir jou siel – om gereeld deur ’n woud te stap of vir ’n ruk onder ’n groot boom te sit. Dis gewoonlik lekker koel daar, die lug is skoner en klanke is meer gedemp. Studies het ook al gewys dat die kleur groen jou brein help om van die tamheid van gedurige konsentrasie te herstel. Pieter van Zyl se gedigvoorlesings lei ons na plekke met baie bome. Laat die woudreuse se teenwoordigheid jou lawe.
Tue, 02 Jun 2026 - 742 - Vers en klank: Jennifer Pape
26 Mei 2026: Sophia Kapp praat met Jennifer Pape oor haar eerste digbundel, Waar daar eens ’n see was, wat by Turksvy Uitgewers verskyn het. Met ’n agtergrond in geologie, delf Jennifer graag in die oerverlede en die natuurwetenskappe. Haar skryfstyl is ’n heerlike vermenging van feite en verdigsels, wetenskap en verbeelding.
Tue, 26 May 2026 - 741 - Vers en klank 19 Mei 2026
Luister na gedigte oor hoe besig die brein is. Hoe ons maar altyd besig is om te beplan, te ontleed, te vergelyk, te onderskei, te benoem, te onthou…! Die brein is nooit stil nie. Die digter, T.T. Cloete, het van ’n ‘heilige nuuskierigheid’ gepraat – daardie ding wat maak dat ons nie kan ophou vrae vra oor die wêreld om ons nie. Die voorleser is Nienke Geldenhuys.
Tue, 19 May 2026 - 740 - Vers en klank 12 Mei 2026Tue, 12 May 2026
- 739 - Vers en klank 5 Mei 2026
Sophia van Taak gesels met Anita van der Walt oor haar vyfde digbundel, Die aap kom uit die mou. Hulle bespreek ook verskillende digvorme soos die haikoe, die tanka en die villanelle, en ander elemente wat aan gedigte ’n sekere soort musikaliteit verleen.
Tue, 05 May 2026 - 738 - Vers en klank 28 April 2026
Op 27 April vier ons Vryheidsdag. Ons luister na gedigte wat vertel van die lang pad wat Suid-Afrika moes stap om by demokrasie uit te kom. Daar is heelwat gedigte deur George Weideman, ’n vers van Adam Small, en dan natuurlik ook van ons politieke kommentator, Antjie Krog. Die voorleser is Pieter van Zyl.
Tue, 28 Apr 2026 - 737 - Vers en klank 21 April 2026
22 April is Wêreld Aardedag. Sophia van Taak en die voorleser, Hannah Borthwick, vier dié belangrike, wêreldwye bewaringsinisiatief met gedigte oor die natuur se skoonheid. Daar is ook verse wat ons as mense weer ’n slag herinner aan ons verantwoordelikheid as versorgers van die planeet.
Tue, 21 Apr 2026 - 736 - Vers en klank 14 April 2026
Voorleser Schoemé Steenkamp verken die element, lug, of dan nou lug in sy bewegende vorm: wind en asem. Dis iets waaroor ons eintlik gans te min dink – lug wat pal om ons en ook ín ons is. Trouens, daarsonder sou ons nie kon lewe nie! Daar is ’n paar verrassende filosofiese verse oor die wind.
Tue, 14 Apr 2026 - 735 - Vers en klank 7 April 2026
Ons ken haar as die sangeres van die destydse televisiereeks, Sonkring, se temalied. Ook as kaberetster wat al die werke van Piaf en Brel meesterlik vertolk het, en as liedjieskrywer en komponis met menige album agter haar naam. Maar nou het Helena Hettema ook begin gedigte skryf! Sy gesels met Sophia van Taak oor haar tweetalige debuutversameling, Journeyman, wat onlangs verskyn het.
Tue, 07 Apr 2026 - 734 - Vers en klank 3 April 2026
WEG Louw se reeks van ses sonnette, Die passie van ons Heer, bly sekerlik een van sy grootste bydraes tot die Afrikaanse letterkunde. Dit verskyn in 1944 by Constantia-uitgewers in die bundel, Adam en ander gedigte. Hierdie reeks verse lei ’n mens deur al die gebeure van Goeie Vrydag: van die laaste avondmaal af, na die tuin van Getsemane en die kruise op die koppie, tot by Jesus se begrafnis. Die voorlesers is Henriëtta Gryffenberg en Wilhelm van der Walt.
Fri, 03 Apr 2026 - 733 - Vers en klank 31 Maart 2026
In sy gedig, Mislukte Doel, vra Ernst van Heerden: “Wat is die lot van soveel woorde?” en “Kan ’n woordpyl ooit die aardekors deurdring?” Hiermee bedoel hy: het die skryf van gedigte dan enige nut? En wáárom hou digters hulle nog hoegenaamd daarmee besig? Vind uit saam met Sophia van Taak en voorleser Nienke Geldenhuys.
Tue, 31 Mar 2026 - 732 - Vers en klank 24 Maart 2026
Dit was onlangs Wêreld-Poësiedag. Hierdie inisiatief van UNESCO neem elke jaar verskillende gestaltes aan. Dit is natuurlik ’n poging om geletterdheid te bevorder, maar wil ook graag mense inspireer om hulleself met behulp van die digkuns te laat hoor. Sophia van Taak en Hannah Borthwick vier dié dag met voorlesings van gedigte oor, wel, gedigte! Ons hoor waar digters hulle inspirasie vandaan kry, en hoe ’n mens te werk moet gaan om ’n suksesvolle vers neer te pen.
Tue, 24 Mar 2026 - 731 - Vers en klank 17 Maart 2026
Sophia van Taak en die voorlesers, Schoemé Steenkamp en Wilhelm van der Walt, sit die reeks oor AG Visser voort. Hierdie keer luister ons na van sy grappiger gedigte, asook ’n paar verse wat al volksbesit geword het.
Tue, 17 Mar 2026 - 730 - Vers en klank 10 Maart 2026
AG Visser word nie soseer gereken as een van ons mees intellektuele digters nie, maar tog is sy werk – ’n volle eeu nadat hy dit geskryf het – steeds gewild. Dink maar aan daardie ballade oor die Ruiter van Skimmelperdpan! Die rede hiervoor is dalk omdat sy poësie so eenvoudig, maklik verstaanbaar en dikwels ook vermaaklik was. Sophia van Taak begin met ’n kort reeks oor dié digter se werk. In die eerste aflewering luister ons na van sy liefdesgedigte en ’n paar kinderverse wat hy geskryf het. Die voorlesers is Wilhelm van der Walt en Schoemé Steenkamp.
Tue, 10 Mar 2026 - 729 - Vers en klank 3 Maart 2026
Sophia van Taak en die voorleser Julia Marone vier die volmaan met voorlesings van gedigte oor die maan.
Tue, 03 Mar 2026 - 728 - Vers en klank 24 Februarie 2026
Die digter en aktivis, Diana Ferrus, is op 30 Januarie 2026 in die ouderdom van 72 jaar oorlede. Sophia van Taak en Lee-Ann van Rooy bring hulde aan dié geliefde figuur met gedigte uit beide haar bundels – ONS KOMVANDAAN en DIE VREDE KOM LATER.
Tue, 24 Feb 2026 - 727 - Vers en klank 17 Februarie 2026
Sophia Kaap gesels met Dietloff van der Berg, wie se eerste digbundel, Feesmaalgang, onlangs verskyn het. Dietloff het ook ’n paar jaar gelede die liefdesverse en aanhalings van die Persiese digter, Rumi, na Afrikaans vertaal. Hy vertel hoe ’n mens só ’n reusetaak benader.
Tue, 17 Feb 2026 - 726 - Vers en klank 10 Februarie 2026
Rosa Keet vier op die 10de Februarie haar 81ste verjaarsdag. Sophia Kapp en Henriëtta Gryffenberg hou vir Rosa ’n partytjie met voorlesings uit haar vyf digbundels. Henriëtta vertel ook hoe Rosa haar as jong draaiboekskrywer onder haar vlerk geneem het. Rosa is ’n groot gees, wat nie net ’n bydrae tot die digkuns gelewer het nie, maar ook haar merk in die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf gelaat het.
Tue, 10 Feb 2026 - 725 - Vers en klank 3 Februarie 2026
Jana Kruger neem ons diep die berge in. Ons skep asem en maak kop skoon met gedigte deur Antjie Krog, Breyten Breytenbach, Barend Toerien en nog vele ander.
Tue, 03 Feb 2026 - 724 - Vers en klank 27 Januarie 2026
Anrich Herbst en Nicole Holm sit die reeks oor Wilma Stockenström voort. Die uitgewer Naledi het inm 2025 ’n digbundel ter ere van dié 92-jarige digter gepubliseer, waarin ’n stuk of 25 digters verse vir haar geskryf het. Elkeen hierdie gedigte is geskoei op oorspronklike Stockenström-verse. Vat saam die spoor deur dié befaamde digter se werk, én hoor hoe ons jonger digters daarop gereageer het.
Tue, 27 Jan 2026 - 723 - Vers en klank 20 Januarie 2026
Die uitgewer, Naledi, het in 2025 ’n bundel ter ere van die digter Wilma Stockenström gepubliseer met die titel NOGMAALS VIR DIE BYSIENDE LESER. Dit is ’n sinspeling op Stockenström se debuutversameling, VIR DIE BYSIENDE LESER, wat in 1970 verskyn het. In hierdie nuwe bundel tree ’n stuk of 25 digters in hulle eie verse in gesprek met Wilma se werk. Anrich Herbst en Nicole Holm lees ’n keur van hierdie gedigte voor, tesame met die oorspronklike Stockenström-gedigte wat as die inspirasie daarvoor gedien het.
Tue, 20 Jan 2026 - 722 - Vers en klank 13 Januarie 2026
Karli Heine sit die reeks oor legendes en mites voort. Ons luister na ’n paar bekende ballades en voorlesings van gedigte oor eg-Suid-Afrikaanse volkslegendes, soos die heks van Hexriviervallei en die Vlieënde Hollander.
Tue, 13 Jan 2026 - 721 - Vers en klank 6 Januarie 2025
Ontsnap saam met Sophia van Taak na ’n fantasiewêreld vol mitiese wesens, soos die eenhoring. Van hulle is ook gedroggies wat kinders bang maak – soos die tokkelos, Antjie Somers en Makoemazaan die waterman. Karli Heine is die begeesterde voorleser van dié gedigte.
Tue, 06 Jan 2026 - 720 - Vers en klank 30 Desember 2025
Is jy een van die gelukkiges wat Oujaar iewers by die see vakansie hou? Vir die mense wat ver van ’n strand en brandergedruis is, bring Sophia van Taak die see so ’n bietjie nader met gedigte oor al die wonderlike kreature wat in die see woon, én die eienaardige dinge wat op die strand uitspoel. Julia Marone lees verse voor oor alles van walvisse tot seeperdjies!
Tue, 30 Dec 2025 - 719 - Vers en klank 25 Desember 2025
Anrich Herbst en Jana Kruger lees gedigte oor die feestyd voor. Daar is die bekende, meer gewyde verse deur van die ou meesters soos NP van Wyk Louw en AG Visser, en ook ’n paar verrassings wat jy dalk nog nooit voorheen gehoor het nie.
Thu, 25 Dec 2025 - 718 - Vers en klank 23 Desember 2025
Protea Boekhuis het vroeër vanjaar ’n bloemlesing van die gedigte van Marlise Joubert saamgestel. Dié pragtige bundel se naam is ATRIUM. Joubert is een van die prominente vrouestemme in die Afrikaanse letterkunde, en publiseer die afgelope 55 jaar gereeld. Daar het al elf digbundels uit haar pen verskyn. Susanne Beyers lees van Joubert se werk voor.
Tue, 23 Dec 2025 - 717 - Vers en klank 16 Desember 2025
Protea Boekhuis het vroeër vanjaar ’n bloemlesing van die gedigte van Marlise Joubert saamgestel. Dié pragtige bundel se naam is ATRIUM. Joubert is een van die prominente vrouestemme in die Afrikaanse letterkunde, en publiseer die afgelope 55 jaar gereeld. Daar het al elf digbundels uit haar pen verskyn. Susanne Beyers lees van Joubert se werk voor.
Tue, 16 Dec 2025 - 716 - Vers en klank 9 Desember 2025
Die digter, Pirow Bekker, is in Julie 2025 oorlede. Hy sou op 9 Desember sy 90ste verjaarsdag gevier het. Ons luister na ’n spesiale program deur Sophia van Taak en De Klerk Oelofse ter herdenking van hierdie geliefde kortverhaalskrywer en digter. Bekker het oor ’n loopbaan van 60 jaar niks minder nie as 12 digbundels die lig laat sien, waarvan die laaste versameling, Die Bloei van Blomme, eers ná sy dood verskyn het.
Tue, 09 Dec 2025 - 715 - Vers en klank 2 Desember 2025
Dis uiteindelik Desember, en nou begin jy die slapies aftel na die dag wat jou verlof begin. Maar daar is ook mense wie se werk nooit ophou nie: dit is die huisvroue. Hulle moet steeds sorg dat die huis netjies, die wasgoed gedoen en die kos lekker is. Nicole Holm lees gedigte voor oor die irritasies van die arme huisvrou.
Tue, 02 Dec 2025 - 714 - Vers en klank 25 November 2025
Sophia van Taak praat met Herman Wasserman oor sy eerste digbundel, WATERMAN, wat onlangs verskyn het. Herman staan aan hoof van die Stellenbosch Universiteit se Departement Joernalistiek, en hy is bekend vir sy talle akademiese publikasies. Hy beskou die digkuns as ’n teenvoeter vir die akademie, ’n meer kreatiewe platform waarop hy temas soos die verband tussen broosheid en skoonheid kan verken, en ook kan skryf oor dinge soos medelye, manwees en die verrassende vreugdes van ouerskap.
Tue, 25 Nov 2025 - 713 - Vers en klank 18 November 2025
Sophia van Taak praat met Thérèse Bartman oor haar debuutbundel, Die helfte is jou nie vertel nie. Thérèse dig oor ’n hele paar hedendaagse én geskiedkundige karakters wat nie geletterd was of is nie. Gevolglik word hierdie mense se stories en stemme ook nie so duidelik soos die res s’n gehoor nie. Daarom het sy besluit om haar gedigte van die geskrewe taal los te maak en dit eerder as klankgrepe op te neem. Dié toonsettingsprojek het sy saam met die musikant Quintin Goliath – ook bekend as Jitsvinger – aangepak.
Tue, 18 Nov 2025 - 712 - Vers en klank 11 November 2025
Was jy al ooit by die sirkus? Vroeër jare het daar gereeld ’n sirkus deur Suid-Afrika getoer, en wanneer die manne die groot tent op jóú dorp begin opslaan het, kon ’n mens die afwagting sommer aanvoel! Marion Holm gedigte voor oor die hansworse, toertjies en akrobate.
Tue, 11 Nov 2025 - 711 - Vers en klank 4 November 2025
Sophia van Taak gesels met die transtalige digter, Klara du Plessis wat uit Kanada op besoek is in Suid-Afrika. Du Plessis se digbundel, Ek’t / Act (ja, dit bevat Afrikaanse sowel as Engelse verse!) het onlangs verskyn. Hulle praat oor oor dinge soos: die fyner klanke wat tussen musieknote lê, die impak wat ’n landskap op ’n mens se kreatiwiteit het, en hoe die konteks van ’n verhouding of ’n situasie bepaal in watter taal jy daaroor dink én dig.
Tue, 04 Nov 2025 - 710 - Vers en klank 28 Oktober 2025
Die digbundel, Merang, is ’n splinternuwe Afrikaanse bloemlesing wat onlangs by Naledi-uitgewers verskyn het. Dit bevat voorheen ongepubliseerde gedigte van altesaam 88 digters, en dek ’n breë spektrum van temas – van die liefde, landskappe en spiritualiteit, tot queer-identiteit, sosiopolitieke kwessies en kunstenaarskap. Sophia van Taak praat met die twee samestellers, Alwyn Roux en Neil Cochrane, oor hierdie projek.
Tue, 28 Oct 2025 - 709 - Vers en klank 21 Oktober 2025
Daar iets nostalgies omtrent treine. Dalk is dit die ouwêreldse sjarme van swierige kompartemente; dalk die groot krag en persoonlikheid van die stoomlokomotiewe van ouds. Deesdae neem sneltreine en moltreine jou in ’n japtrap tot waar jy wil wees, maar ’n generasie of twee gelede was ’n treinrit ’n okkasie, ’n avontuur op sy eie. En jy het dit alles ingeneem – van die stadige gewieg van die trein en die landskappe wat buite die venster verbyskuif, tot die geklik-klak van die wiele op die spoor, die gefluit van die enjin en die reuk van die roet. André Terblanché se gedigvoorlesings neem ons op ’n reis vol heimweë terug na die tyd van treine.
Tue, 21 Oct 2025 - 708 - Vers en klank 14 Oktober 2025
Oktober is Geestesgesondheid-bewusmakingsmaand. Hoewel dit ’n goeie idee is om dinge soos depressie, angs en psigiese versteurings onder die vergrootglas te plaas, is mense steeds skaam om daaroor te praat. Daar kleef steeds ’n stigma aan iets soos depressie, en dit maak dat mense wat hiermee sukkel twee keer dink voordat hulle vir hulp vra. Partykeer kry ’n mens ook nie die regte woorde raakgevat om vir ander te beskryf hoe jy voel nie. Dít is waarom Marion Holm gedigte oor depressie in al sy gedaantes voorlees.
Tue, 14 Oct 2025 - 707 - Vers en klank 7 Oktober 2025
Sophia van Taak en die voorlesers, Wessel Pretorius en Nienke Geldenhuys, reis verder deur Namibië. In die vorige episode het ons na gedigte oor veral die woestyn en die verlate strande vol skeepswrakke geluister. Hierdie keer handel die verse meer ook die diere- en plantelewe van dié dorre streke. Ons gaan sit by ’n watergat in Etosha en kyk watter wild kom drink. En dan vaar ons ook die duine in op soek na die skaars welwitschia.
Tue, 07 Oct 2025 - 706 - Vers en klank 30 September 2025
Sophia van Taak en voorlesers Nienke Geldenhuys en Wessel Pretorius neem ons op reis deur Naimbië. In die eerste van twee programme toer ons van die Oranjerivier af al langs die kus op tot by die Kunenerivier. Langs die pad doen ons ook aan by ’n paar van Namibië se bekendste landmerke. Daar is gedigte deur Kobus Lombard, Daniel Hugo, Ronnie Belcher, Wilma Stockenström en vele meer.
Tue, 30 Sep 2025 - 705 - Vers en klank 23 September 2025
Dink jy ooit oor water? Vir die meeste van ons is dit maar net ’n gewewe – dis daar as jy ’n kraan oopdraai! Maar laat jy nou net nié water hê nie, dan is dit ál waaraan jy kan dink. Water is eintlik so ’n wonderlike ding. Dis so kragtig. Dit maak lewe moontlik. Ek en jy het beslis ook ’n spirituele konneksie met water. Sophia van Taak en voorleser Nienke Geldenhuys verken dié oerelement se kenmerke en effek.
Tue, 23 Sep 2025 - 704 - Vers en klank 16 September 2025
André Terblanché lees gedigte oor die lente voor. Natuurlik kan jy uitsien na bekende gedigte, soos Leipoldt se OKTOBERMAAND, asook sy LENTELIEDJIE. Maar daar wag ook ’n paar verrassings, verse wat jy dalk nog nooi tevore gehoor het nie en ’n paar vertalings wat vertel hoe dié jaargety in ander wêrelddele lyk.
Tue, 16 Sep 2025 - 703 - Vers en klank 9 September 2025
Sophia van Taak praat met Marthé McCloud oor haar debuutbundel, ONTBLOOT. Dié afgetrede maakskaplike werker van die Strand se gedigte lees soos ’n memoir. Hoewel Marthé heelwat oor haar eie ervarings uit verskeie eras van haar lewe skryf, bly die temas wat sy aanroer steeds universeel relevant. Vanweë haar loopbaan in maatskaplike werk dig sy ook oor veral kindertrauma.
Tue, 09 Sep 2025 - 702 - Vers en klank 2 September 2025
Ons reeks oor die digter George Weideman kom tot ’n einde. Johann Nel lees van sy gedigte voor uit die versamelings, ’N STANING ONDER STERRE en VERSKOMBUIS: ’N KOOKBOEK MET GEDIGTE.
Tue, 02 Sep 2025 - 701 - Vers en klank 26 Augustus 2025
Sophia van Taak en voorleser Johann Nel sit die reeks oor die lewe en werk van die digter George Weideman voort. In hierdie aflewering kan jy uitsien na gedigte uit Weideman se bundels HOERA, HOERA DIE YSMAN en UIT HIERDIE GRYS VERBLYF.
Tue, 26 Aug 2025 - 700 - Vers en klank 19 Augustus 2025
Sophia van Taak en voorleser Johann Nel begin met ’n nuwe reeks oor die digter George Weideman se lewe en poësie. Daar is voorlesings uit Weideman se eerste drie bundels, HONDEGALOPPIE, AS DIE SON KLIPLANGS SPRING en KLEIN MANIFES VAN ’N REISIGER.
Tue, 19 Aug 2025 - 699 - Vers en klank 12 Augustus 2025
Wessel Pretorius neem ons op ‘n reis met voorlesings van gedigte oor agterpaaie deur Suid-Afrika, en toere oorsee. Daar is ook verse oor die bagasie – in jou koffer én jou kop – wat deel uitmaak van elke reis, oor hoe ons probeer om ligter te reis, én daardie heel laaste reis wat vir elke mens voorlê.
Tue, 12 Aug 2025 - 698 - Vers en klank 5 Augustus 2025
Digter Louis Esterhuizen se twaalfde bundel, Klaarte, het vroeër vanjaar by Naledi Uitgewers verskyn. Sophia van Taak praat met hom oor die berusting en uitdagings wat saam met die ouderdom kom, en hoe hy en sy vrou, Marlise Joubert, die vrees vir die onafwendbare steeds met die liefde besweer.
Tue, 05 Aug 2025 - 697 - Vers en klank 29 Julie 2025
Karli Heine en Pieter van Zyl sit die reeks oor oorlog voort. Hulle lees gedigte oor die oorlog in Oekraïne, en die sielkundige impak wat ’n oorlog op soldate en hulle naasbestaandes het.
Tue, 29 Jul 2025 - 696 - Vers en klank 22 Julie 2025
Oorlog is en bly ’n vreeslike wreedheid. Dis dalk nie op die oomblik vir ons in Suid-Afrika ’n realiteit nie, maar elders staan die wêreld op sy kop gekeer, en ons durf nie afgestomp raak vir die verskrikking en ellende wat miljoene ander mense daagliks ervaar nie. Pieter van Zyl en Karli Heine lees gedigte voor oor oorlog. In hierdie eerste program van twee, luister ons na gedigte oor oorloë wat in die vorige eeu geveg is: die Tweede Vryheidsoorlog, die twee Wêreldoorloë, die oorlog in Viëtnam en ook die Grensoorlog in Namibië en Angola.
Tue, 22 Jul 2025 - 695 - Vers en klank 15 Julie 2025
Kan jy onthou wat jy laasnag gedroom het? Almal droom elke liewe nag, maar met die wakkerwordslag is 'n mens se droom dikwels reeds vergete. As jy jou droom wel kan onthou, is dit soms so absurd jy weet nie wat om daarvan te dink nie, en kan maar net lag! Ander kere is ’n droom weer baie rasioneel en voel dit soos die werklikheid. Karli Heine lees gedigte voor oor drome.
Tue, 15 Jul 2025 - 694 - Vers en klank 8 Julie 2025
Sophia van Taak praat met professor Joan Hambidge oor die nalatenskap van haar goeie vriend, die digter Johann de Lange, wat in Maart vanjaar oorlede is. De Lange het in sy leeftyd 15 digbundels gepubliseer, hy het kortverhale geskryf en ook ander Afrikaanse digters se werk na Engels vertaal. Hy was die samesteller van menige bloemlesing uit die werke van, onder andere, Hennie Aucamp, Wilhelm Knobel en Lina Spies, en ook die oorhoofse redakteur van AVBOB se jaarlikse poësieprojek. As digter het hy grensverskuiwende werk gelewer, veral in sy bundels waarmee hy ’n weg gebaan het vir die erotiese digkuns. Buiten dié liefdesverse het hy ook met groot vernuf oor ander temas gedig. Joan gesels oor sy pa-gedigte, die verse oor Marylin Monroe, en die invloed wat ’n ouer generasie Afrikaanse digters op De Lange gehad het.
Tue, 08 Jul 2025 - 693 - Vers en klank 1 Julie 2025
Elisabeth Eybers se gedig oor Maria is sekerlik die mees bekende vers oor ’n Bybelfiguur. Daar is ook heelwat ander gedigte oor bekendes uit die Ou én Nuwe Testament geskryf – soos Kaïn, Moses, Simson, Lasarus en Judas. Pieter van Zyl lees gedigte voor oor bekende Bybelfigure.
Tue, 01 Jul 2025 - 692 - Vers en klank 24 Junie 2025
Die kortverhaal- en rubriekskrywer, André le Roux, se tweede digbundel het ná 47 jaar die lig gesien. Sophia van Taak praat met hom oor hierdie vesameling, Liefde en Verset, en hoor ook waarom alle digters eintlik moet houtwerk doen.
Tue, 24 Jun 2025 - 691 - Vers en klank 17 Junie 2025
Wat maak van iemand ’n ikoon? ’n Legende? Wie is (en was) die werklike ikone van ons tyd? Roeline Daneel lees gedigte voor oor groot figure wat ons nooit sal vergeet nie – mense soos prinses Diana, Freddie Mercury, Muhammad Ali en Desmond Tutu.
Tue, 17 Jun 2025 - 690 - Vers en klank 10 Junie 2025
Daniel Hugo vertel van sy 17de bundel, Kategismus. Dis ’n versameling propvol temas waarvoor Hugo al oor die jare bekend geword het: hy dig oor die Godheid, die digkuns self, die natuur, die liefde vir sy beminde en – ná sy onlangse 70ste verjaarsdag – ook oor die mens se sterflikheid. Maar meestal is dit ’n bundel “vol verwondering oor die hier en nou”, soos daar op die agterflap geskryf staan.
Tue, 10 Jun 2025 - 689 - Vers en klank 3 Junie 2025Tue, 03 Jun 2025
- 688 - Vers en klank 27 Mei 2025
Sophia van Taak praat met prof. Joan Hambidge oor haar nuutste digbundel, Asindeton. Dit is haar 27ste bundel, en in hierdie versameling is daar weer bekende Hambidge-temas soos die skilderkuns, reise en digterskap ter sprake. Sy skryf ook, ná ’n loopbaan van nagenoeg dertig jaar aan die Universiteit van Kaapstad, oor aftrede, lewenshoofstukke wat tot ’n einde kom, en die die paradoks van tyd.
Tue, 27 May 2025 - 687 - Vers en klank 20 Mei 2025Tue, 20 May 2025
- 686 - Vers en klank 13 Mei 2025
Sophia van Taak gesels met digter Martina Klopper oor haar tweede bundel, Kuborg. Dis ’n fassinerende versameling gedigte waarin menselike verhoudinge en herinneringe deur die metafore van masjiene verwoord word. Die bundel doen ondersoek na daardie dinge in ’n mens se verlede wat jou op ’n sekere manier “bedraad” en “geprogrammeer” het. Sy probeer ook uitpluis of ’n mens patrone wat so diep vasgelê is, kan herskryf.
Tue, 13 May 2025 - 685 - Vers en klank 29 April 2025
Sophia van Taak en voorleser Johann Nel gooi ’n Kaapse draai met gedigte oor Tafelberg, die koloniale era aan die Kaap, die hawe én ander grepies uit dié stad se verlede.
Tue, 29 Apr 2025 - 684 - Vers en klank 6 Mei 2025
Sophia van Taak en Cintaine Schutte maak voorbrand vir die viering van Afrikaans se 100ste bestaansjaar op 8 Mei.
Tue, 06 May 2025 - 683 - Vers en Klank 22 April 2025
Op Vers en Klank saam met Sophia van Taak kom die reeks oor die digter C. Louis Leipoldt vanaand tot ’n einde. Maar: daar is nog heelwat lekkertes om na uit te sien! Die drie lesers – De Klerk Oelofse, Nicole Holm en Anrich Herbst – deel gedigte uit die laaste vier albums uit Leipoldt se pen, en ons luister ook na toonsettings van sy gedigte deur Gert Vlok Nel en Jannie du Toit.
Tue, 22 Apr 2025 - 682 - Vers en klank 18 April 2025
Luister na gedigte deur onder meer W.E.G. Louw, Isak de Villiers, Sheila Cussons en Ernst van Heerden. Die voorlesers is Johann Nel en Jana Kruger.
Fri, 18 Apr 2025 - 681 - Vers en klank 15 April 2025
De Klerk Oelofse, Nicole Holm en Anrich Herbst lees in die derde program van 'n reeks van vier oor C. Louis Leipoldt, gedigte voor uit sy 1923-bundel, Uit Drie Wêrelddele.
Tue, 15 Apr 2025 - 680 - Vers en klank 8 April 2025
Sophia van Taak en die span voorlesers is by die tweede program in ’n reeks van vier oor die lewe en werk van die digter, joernalis, mediese dokter en koskenner, C. Louis Leipoldt. Daar is gedigte uit sy bundels, Dingaansdag, en Uit Drie Wêrelddele, soos voorgelees deur Nicole Holm, Anrich Herbst en De Klerk Oelofse.
Tue, 08 Apr 2025 - 679 - Vers en klank 1 April 2025
Die digter, C. Louis Leipoldt, was ’n fassinerende, baie individualistiese en – in sommige se oë – selfs ’n eksentrieke man. In die eerste program in ’n reeks van vier oor hierdie groot figuur in die Afrikaanse letterkunde, is daar nie minder nie as drie voorlesers: De Klerk Oelofse, Nicole Holm én Anrich Herbst. Hulle lees gedigte voor uit Leipoldt se debuutbundel, Oom Gert vertel en Ander Gedigte.
Tue, 01 Apr 2025 - 678 - Vers en klank 25 Maart 2025
Ronèl Geldenhuys lees gedigte voor oor geure, klanke, reuke, smake… alles wat jy met jou sintuie ervaar. Veral Sheila Cussons het baie oor haar sensoriese waarnemings gedig. Daar is ook gedigte deur T.T. Cloete, Meyer van Rensburg, Ingrid Jonker en George Weideman.
Tue, 25 Mar 2025 - 677 - Vers en klank 18 Maart 2025
In die vorige aflewering het Jana Kruger en Anrich Herbst gedigte oor Johannesburg se verlede voorgelees – verse wat verduidelik hoe die goudstormloop tot die ontstaan van ’n wêreldstad gelei het. Hierdie keer vertel die gedigte wat ná die goudkoors verby was, van Johannesburg oorgebly het.
Tue, 18 Mar 2025 - 676 - Vers en klank 11 Maart 2025
As ’n mens deesdae na Johannesburg kyk, is dit moeilik om te glo dat dié wêreldstad in die laaste sowat 140 jaar van ’n enkele delwerskamp gegroei het tot wat dit vandag is. Sophia van Taak en voorlesers Jana Kruger en Anrich Herbst delf diep in Jozi se verlede en karakter. Daar’s gedigte oor die goudkoors en die ou dae se lewe aan die Witwatersrand om na uit te sien.
Tue, 11 Mar 2025 - 675 - Vers en klank 4 Maart 2025
Ronél Geldenhuys lees gedigte voor oor kinders, spesifiek oor hoe hulle onblusbare energie en bandelose menswees ons inspireer om die wêreld ook weer ’n slag soos húlle te sien: as ’n wonderlike plek, vol moontlikhede en magic.
Tue, 04 Mar 2025 - 674 - Vers en klank 25 Februarie 2025
Die maand waarin die liefde op elke manier gevier is, is amper verby. Voorleser Nicole Holm roer die hartsnare vir oulaas met voorlesings van die allermooiste Afrikaanse liefdesverse. Daar is werke deur Antjie Krog, Luis Esterhuizen, Ronelda Kamfer, Bibi Slippers en Pieter Odendaal.
Tue, 25 Feb 2025 - 673 - Vers en klank 18 Februarie 2025
Luister na die allermooiste gedigte oor blomme! Daar is verse deur Petra Müller, Johann Lodewyk Marais, Marlene van Niekerk, Ina Rousseau en nog ’n hele paar ander groot digters. Die voorleser is De Klerk Oelofse.
Tue, 18 Feb 2025 - 672 - Vers en klank 11 Februarie 2025
Laasweek het ons geluister na gedigte wat die see se wonders en geheimenisse beskryf. Hierdie keer handel die gedigte oor sy verwoestende krag, en die gevare wat die dieptes inhou. Die voorlesers is Albert Maritz en Karli Heine.
Tue, 11 Feb 2025 - 671 - Vers en klank 4 Februarie 2025
Sophia van Taak verken in die eerste van twee aflewerings saam met voorlesers Karli Heine en Albert Maritz die wonders en geheimenisse van die oseaan, asook die dramas wat op die oppervlak, en diep onder die branders, afspeel.
Tue, 04 Feb 2025 - 670 - Vers en klank 28 Januarie 2025
Vir party mense is dit ondraaglik om alleen te wees. Ander verkies weer hulle eie geselskap. Joanie Combrink verken albei kante van eensaamheid – die selfbejammering van ongeliefd en vergete voel, én die lekkerte van nie gepla word nie.
Tue, 28 Jan 2025 - 669 - Vers en klank 21 Januarie 2025
Sommige van ons digters het só ’n groot bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer, dat ánder digters hulle in gedigte begin vereer het. In die tweede aflewering van ’n reeks oor hierdie huldeblyk-verse, is die voorlesers Susanne Beyers en Pieter van Zyl.
Tue, 21 Jan 2025 - 668 - Vers en klank 14 Januarie 2025
Sommige van ons digters het só ’n groot bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer, dat ánder digters hulle in gedigte begin vereer het. In die eerste aflewering van ’n reeks van twee oor hierdie huldeblyk-verse, is die voorlesers Susanne Beyers en Pieter van Zyl.
Tue, 14 Jan 2025 - 667 - Vers en klank 7 Januarie 2025
Johann Nel lees gedigte oor reptiele voor. Jy sal verbaas wees oor hoe baie van ons digters oor die verkleurmannetjie, oftewel die trapsuutjies, geskryf het! Veral Ernst van Heerden het heelwat oor reptiele gedig – dink maar aan sy baie bekende gedig oor die bergskilpad. Een van die verse waarna jy kan uitsien, is ’n baie komiese verhaaltjie wat C. Louis Leipoldt oor ’n likkewaan en ’n krokodil geskryf het.
Tue, 07 Jan 2025 - 666 - Vers en klank 31 Desember 2024
Sophia van Taak en Albert Maritz hou ’n lekker partytjie, vol heildronke op die Ou- én die Nuwejaar!
Tue, 31 Dec 2024 - 665 - Vers en klank 25 Desember 2024
Susanne Beyers en Pieter van Zyl lees gedigte voor oor die feesgety. Daar is ook pragtige sang deur die Vox-kamerkoor van Pretoria, onder leiding van Franco Prinsloo.
Wed, 25 Dec 2024 - 664 - Vers en klank 24 Desember 2024
Heelwat Afrikaanse digters weet hoe dit voel om oorsee in die vreemde te sit en ‘n bietjie eensaam te wees, en om al die bekende dinge van die huis te mis. Digters soos Elisabeth Eybers, Breyten Breytenbach, Barend Toerien en Sheila Cussons, om ‘n paar te noem. Karli Heine lees hulle gedigte voor oor die lewe in ‘n ander land, en ook hoe verblydend dit is om van tyd tot tyd oor Afrika te kan terugvlieg huis toe.
Tue, 24 Dec 2024 - 663 - Vers en klank 17 Desember 2024
Joanie Combrink neem ons op ’n heerlike ontvlugting na ’n hele klomp seevakansiedorpe langs die kus.
Tue, 17 Dec 2024 - 662 - Vers en klank 10 Desember 2024
Is dit vir jou ook so vermaaklik om mense te kyk? Om vreemdelinge op straat of in ’n restaurant dop te hou, en dan vir hulle ’n storie uit te dink – ’n lewe, ’n werk, ’n blyplek… Susanne Beyers lees gedigte voor oor sulke karakters wat ons digters se verbeelding aangegryp het.
Tue, 10 Dec 2024 - 661 - Vers en klank 3 Desember 2024
Cas Vos het vroeër vanjaar weer ’n digbundel die lig laat sien. Dié een se naam is WISSELENDE STEMMINGE. Daarin dig hy, onder meer, oor die toestand van menswees, musikante, ánder digters en die liefde. Johann Nel is die voorleser.
Tue, 03 Dec 2024 - 660 - Vers en klank 26 November 2024
Rudolph Willemse, ’n digter van Riebeek-Kasteel, gesels or sy derde bundel, SWARTLAND, wat onlangs by Turksvy Publikasies verskyn het. Saam met sy vorige twee bundels, KWEEKSKOOL en MIDDELMAN, vorm dit ’n trilogie waarin die digter sy verskillende lewensfases verken.
Tue, 26 Nov 2024 - 659 - Vers en klank 19 November 2024Tue, 19 Nov 2024
Podcasts similares a Vers en Klank
AD Voetbal podcast AD
De Zaak X AD
Alle Geschiedenis Ooit – Grote Namen Alle Geschiedenis Ooit
De Onderwereld Bas Dingemanse & Bas van Mulken
Global News Podcast BBC World Service
Omdenken Podcast Berthold Gunster
Boekestijn en De Wijk BNR Nieuwsradio
De Wereld | BNR BNR Nieuwsradio
Moordzaken Carrie & Eddie
Het Land van Wierd Duk De Telegraaf
Kick-off met Valentijn Driessen De Telegraaf
F1 Aan Tafel Grand Prix Radio
Joel Osteen Podcast iHeartPodcasts
Groeten uit Grolloo Johan Derksen
KieftJansenEgmondGijp KieftJansenEgmondGijp
De Jortcast NPO Luister / AVROTROS
Nachtzuster NPO Radio 1 / Omroep MAX
NRC Vandaag NRC
Veldheren Peter van Uhm, Mart de Kruif, Jos de Groot / Corti Media
Amerika in 15 minuten Raymond Mens
RSG Dokumentêr RSG
Maarten van Rossem & Tom Jessen Tom Jessen en Maarten van Rossem
Vandaag Inside Vandaag Inside
B&B Vol Liefde 2026: De Nabeschouwing Veronica Superguide
Otros podcasts de TV y Cine
RNB Motion Podcast DJ GQ
Snapped: Women Who Murder Oxygen
60 Minutes CBS News
Classic Movie Reviews Classic Movie Reviews
The Rest Is Entertainment Goalhanger
American Justice A&E | PodcastOne
Office Ladies Audacy & Jenna Fischer and Angela Kinsey
WWE WWE Wrestling
在逃乐色4O4 在逃乐色4O4
Victor Duidt TV Victor Vlam
10 Rs Ki Pepsi, Humara Shah Rukh Sexy Deeksha, Digvijay, Preeti
Cinema IRL Amber Noelle & Scott Gerhardt
All '80s Movies Podcast Bill Bant
Blakes 7 In Character NEOZAZ
All India Review Virat Tiwari
