Filtrer par genre

Radioteater

Radioteater

RSG

Teater van die verbeelding. Die dramas word in twee seisone uitgesaai: April tot Junie en Oktober tot Desember.

378 - DAAR LEEF MENSE DAAR deur Athol Fugard
0:00 / 0:00
1x
  • 378 - DAAR LEEF MENSE DAAR deur Athol Fugard

    Die drama speel af in ‘n vervalle losieshuis in Johannesburg. Millie, die middeljarige eienaar van die losieshuis, wat afgesonder en onvergenoegd voel, probeer tevergeefs die aandag van ‘n lang verlore kennis trek. Sy beraam planne om vir die buitewêreld te wys dat haar lewe en haar huis nog ‘n plek is waar mense kan leef. Die loseerders word opgekommandeer om haar met hierdie planne by te staan. Don is ‘n filosoof van aard, wat sy intellektuele vermoë laat geld deur gedurig Millie se geestestoestand te ontleed. Shorty, ‘n ongeskoolde posbode, loseer saam met sy vrou, Sissy, by Millie. Op die vooraand van haar verjaarsdag besluit sy om 'n partytjie saam met haar loseerders te hou, in 'n poging om te bevestig dat "mense daar woon", dat hulle lewe betekenis het ten spyte van hulle onbekendheid en eensaamheid. Soos die aand ontvou, verander die partytjie in 'n rou, emosionele konfrontasie oor mislukking, veroudering en die behoefte aan menslike verbintenis. In die rolverdeling is Deidre Wolhuter, Johann Nel, Wessel Pretorius en Hannah Borthwick. Marko van der Colff het die drama in Afrikaans vertaal. Margot Luyt het dit vir die radio verwerk, en die regie behartig.

    Thu, 06 Nov 2025
  • 377 - TWEE GRAFGRAWERS EN ‘N MELKHOUT deur Jaco Versveld

    Bruce en Brendan grawe saam grafte. Albei om verskillende redes. Bruce spaar vir ‘n operasie sodat sy siek kind weer kan loop. Brendan dien gemeenskapsdiens uit vir bedrog. Of só sê hy... Wanneer Brendan skielik agterdogtige vrae begin vra oor die begraafplaas en hoe dinge daar werk, begin Bruce wonder of daar meer as net ‘n kis en ‘n kluit by Brendan se belangstelling betrokke is. Die drama is die wenner van die merieteprys in die 2024 RSG-radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV. Die spelers is Phillru van Achterbergh, Mortimer Williams, Kevin Smith, Francois Stemmet en Izette Blignaut. Die regisseur is Renske Jacobs.

    Thu, 30 Oct 2025
  • 376 - GENADE, PROFESSOOR! deur Nico Luwes

    Die Rachmaninoff-liefhebbende professor Weiss is peinsend besig met die taak om sy geliefde musiekdepartement te probeer red. Met die soeke na oplossings word dit baie duidelik dat nie alles in sy departement se kluis pluis is nie: kontant-kaartjieverkope by konserte verdwyn spoorloos. Dit word sy en sy kollega, mev. Schimper, se taak om die raaisel op te los, maar daar is ‘n moontlikheid dat hulle twee dalk meer as net romantiese vonke met mekaar deel. So word ons heldin, mej. Stamper, ook in die misterieuse sage ingetrek. Sy is die lojale sekretaresse van prof. Weiss, maar kan sy haarself neutraal hou sodat die ware skobbejak vasgetrek word? As ‘n toegewyde katliefhebber verkies sy haar Mephistophelies se geselskap bo haar mededepartementslede se leuens en verdagte gedrag. Maar wie is die werklike geldgierige skuldige? Die spelers is André Odendaal, Bertha le Roux-Wahl, Sulette Thompson, Botha Enslin en Mada Oosthuizen. GENADE, PROFESSOOR! was ’n finalis in die 2024 RSG Radiodramaskryfkompetisie. Die regie word behartig deur Karen Wessels.

    Thu, 23 Oct 2025
  • 375 - ‘N STASIE IN DIE NIET deur Chris Barnard

    Chris Barnard het hierdie radiodrama in 1970 geskryf. ’n Man se huwelik is op die rotse. Hy knoop ‘n verhouding aan met ‘n veel jonger vrou. Dit speel af in ‘n hotel langs die see, met deurlopende terugflitse. Die trein word ingespan as leitmotief en bindende metafoor. Die akteurs in hierdie “herverbeelde” radiodrama is: Anrich Herbst, Karli Heine en Neels van Jaarsveld. Frieda van den Heever het die regie behartig.

    Thu, 16 Oct 2025
  • 374 - DIE BESOEKER deur Herman Cronjé

    ‘n Dertienjarige meisie is dood in ’n tref-en-trap-ongeluk in die jare 90. Die ongeluk het naby Truida en Karel Conradie se huis plaasgevind. Die twee moet iets van die ongeluk weet, want Karel neem sy eie lewe, en Truida word jare later gediagnoseer met ’n erge geestessiekte. Marko, hulle seun, vind die waarheid uit wanneer hy en ’n vriend ‘n toegeboude agterdeur in die kombuis ontdek. Hierdie deur laat hom teruggaan in tyd, en so vind hy uit hoekom sy pa sy eie lewe geneem het, en waarom sy ma opeindig in Neurobergh, die psigiatriese hospitaal op die dorp. En ook wie verantwoordelik is vir die meisie se geheimsinnige dood. Die spelers is Rina Nienaber, Ilse Klink, Donovan Pietersen, James Borthwick en Johan Joubert. Johny Klein het die regie behartig.

    Thu, 02 Oct 2025
Afficher plus d'épisodes