Nach Genre filtern
God se Woord VARS vir jou Vandag
JOU DAAGLIKSE GRATIS OORDENKING Wil jy graag direkte toegang tot VARS hê? Dit is ‘n daaglikse e-oordenking van 3 minute om jou te help om dieper in God se Woord en nader aan Jesus te kom. Elke oordenking bevat ‘n kragtige Bybelvers, met ‘n paar woorde van inspirasie, hoop en aanmoediging wat daagliks per e-pos na jou slimfoon, tablet of rekenaar gestuur word. Jy kan na die klank luister of die teks lees. Dit gaan alles daaroor om jou te help om God se stem te hoor, sodat jy in ‘n ryk, dinamiese en kragtige verhouding met Jesus kan leef. God se Woord in Afrikaans. Vars, vir jou, elke dag.
- 1175 - Langs die Weg van Goedheid
Spreuke 12:28 Die pad van die regverdige loop na die lewe; dit is nie ’n pad wat na die dood toe lei nie.
Navorsing oor ‘n lang tydperk het bevind dat maatskappye wat langtermyn sukses ervaar, binne 'n gesonde morele raamwerk funksioneer. Hulle doen eerlike besigheid; hulle is ordentlik teenoor hul werknemers en kliënte, ensovoorts.Destyds toe ek en my sakevennote – almal voormalige militêre offisiere – ons IT-konsultasiebesigheid begin het, het ons die oudste, wysste en mees senior vennoot as die uitvoerende hoof aangestel.
En uit die staanspoor het hy dit duidelik gemaak dat die grondbeginsel wat alles wat ons doen sou onderlê, bepaal dat ons altyd in die beste belang van ons kliënte sal optree, selfs wanneer dit nie vir ons kommersiële voordeel ingehou het nie.
Ek was toe nog nie 'n Christen nie, en ek moes 'n bietjie gewoond raak aan hierdie etiese raamwerk. Maar dit was die hoeksteen van ons sukses. Ons kliënte het ons vertrou; en dit het meer van hulle besigheid, en ook mense wat hulle na ons verwys het, ingebring.
Ja, regverdigheid kweek sukses. Dit behoort geen verrassing te wees nie. Die idee is so oud soos die berge:
Spreuke 12:28 Die pad van die regverdige loop na die lewe; dit is nie ’n pad wat na die dood toe lei nie.
Ons vind werklike lewe, ewige lewe, wanneer ons ‘n pad van goedheid, van geregtigheid, van etiese opregtheid bewandel. Hoekom? Want God is die God van goedheid. Hy is die God van geregtigheid. En wanneer ons daardie soort lewe leef, leef ons volgens sy voorbeeld.
Kom ons doen ‘n bietjie introspeksie: Hoe lyk jou morele raamwerk deesdae? Waarheen lei jou morele kompas jou? Want … langs die pad van goedheid is daar lewe; dit is die manier om vir ewig te lewe.
En dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sun, 28 Apr 2024 - 1174 - Moenie Lui Wees Nie
Spreuke 12:27 Die luiaard verroer nie ’n vinger om self kos te maak nie. ’n Hardwerkende mens gaan uit sy pad om kosbare besittings te versamel.
Wanneer word ‘n behoefte aan rus, ons verskoning vir luiheid? Ja, ons weet dat ons almal moet rus van ons arbeid, maar daar is 'n fyn lyn tussen iemand wat ware rus nodig het en 'n lieplapper wat tot luiheid verlei word.Mense vra my soms waarom ek so hard werk. Dis maklik om dit te beantwoord. Daar sterf daagliks ontelbare mense in 'n Christuslose ewigheid en God het my geroep om hulle van Jesus te vertel – dis die rede waarom daar 'n werklike dringendheid is aan hierdie werk wat ek doen!
Soms werk ek te hard, dalk is jy dieselfde. En ten spyte van die feit dat ek nie van nature lui is nie, sal ek eerlik wees, elke nou en dan is daar 'n versoeking om dinge rustiger te neem, om te ry sonder om die petrol te trap; om net so ‘n bietjie ‘n blaaskans te neem.
Dit kan op sigself 'n vorm van rus wees, maar as dit te lank aanhou, word dit luiheid. Koning Salomo van Israel, het dit drieduisend jaar gelede, baie duidelik gestel:
Spreuke 12:27 Die luiaard verroer nie ’n vinger om self kos te maak nie. ’n Hardwerkende mens gaan uit sy pad om kosbare besittings te versamel. (NLV)
Ek stel ek nie in rykdom belang nie. My belangstelling lê daarin, om jou in jou geloofswandel aan te moedig; en om te sien hoe meer mense tot 'n reddende kennis van Jesus kom.
Dit maak nie saak wat ons persoonlikheidstipe of samestelling is nie, die versoeking is altyd daar om in luiheid te verval. Watchman Nee, die Chinese pastoor wat baie gely het om die Woord van die Here te verkondig, het dit eenkeer so gestel.
Ons sê gereeld dat rus bloot luiheid is. Ons weet dat die liggaam, soos ons verstand en gees, van tyd tot tyd ‘n ruspouse vereis. Maar ons moet nooit rus, uit luiheid wat uit ons sondige natuur spruit nie. Ja, so dikwels is luiheid maar net ‘n emosionele hekel aan werk. Ons noem dit fisiese moegheid, terwyl dit inderwaarheid net as 'n verskoning gebruik word om lui te wees.”
Die luiaard verroer nie ’n vinger om self kos te maak nie. ’n Hardwerkende mens gaan uit sy pad om kosbare besittings te versamel.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag .
Sat, 27 Apr 2024 - 1173 - Moenie Verras Word Nie
Johannes 5:28,29 Moenie hieroor verbaas wees nie: daar kom 'n tyd wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan. Dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word.”
Die dood is ongelooflik finaal. Wanneer jy sterf, hou jy op om asem te haal, jou hart hou op met klop, jou bloed hou op met vloei, jou brein gaan dood en van daardie oomblik af begin jou liggaam se aftakelingsproses. Dit is ongelooflik finaal.Dit is hoekom die beloftes van God deur Jesus Christus, sy Seun, so vreemd lyk. Dis so ver verwyder van die realiteite van dít wat ons hier op aarde in die gesig staar. Maar weet jy: die grootste belofte wat ons van Hom kry, is dat ons fisiese dood nie die einde is nie. Dit is die begin van 'n hele nuwe ewigheid vir ons.
Kan ons vandag net nader aan daardie waarheid kom? 'n Liggaam in 'n kis is nie die einde nie, dit is die begin. Nadat ek my bejaarde ma onlangs begrawe het, is dit vir my selfs meer aangrypend. Nadat ons na haar kis in daardie diep gat afgekyk het, het dit vir ons gevoel asof dit so finaal is. Maar Jesus het gesê:
Johannes 5:28,29 Moenie hieroor verbaas wees nie: daar kom 'n tyd wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan. Dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word.”
Vir diegene wat die egtheid van hul geloof in Jesus bewys het deur goed te doen, wag daar ‘n ewige lewe. Ja, hulle sal die ewigheid in sy Teenwoordigheid deurbring. Maar, dié wat verkeerd gelewe het, sal nie.
Moenie hieroor verbaas wees nie: daar kom 'n tyd wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan.En as jy in Jesus glo, sal dit 'n heerlike dag wees!
Moet dus nie verbaas wees wanneer jy vir alle ewigheid, in al sy glorie, by Hom staan nie.
Moenie verbaas wees nie!
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Fri, 26 Apr 2024 - 1172 - Die Versekering van Verlossing
Johannes 5:24 “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.
Baie mense verstaan die enigste vereiste vir toegang tot die ewige lewe heeltemal verkeerd. Sommige sê, ek is nie so 'n slegte mens nie. Ek behoort reg te wees.Terwyl ander wonder, sal ek uiteindelik goed genoeg wees?Wel, is jy goed genoeg? Ek is nie; en wat meer is, ek sal nooit wees nie. Nouja, ek is nie so 'n slegte mens nie. Ek het tot dusver 'n redelik ordentlike lewe gelei en dieselfde is waarskynlik van jou ook waar. Maar nie een van ons het 'n lewe geleef wat goed genoeg vir God is nie. Ons het almal gesondig en skiet tekort aan sy heerlikheid. Sy standaard is absolute volmaaktheid.
En dis hoekom Jesus vir jou en vir my na hierdie aarde gekom het; om aan die Kruis te sterf om die prys wat God se geregtigheid vir ons sonde eis, te betaal. Hy het weer opgestaan om ons die gawe van 'n nuwe lewe hier op aarde en die ewige lewe in sy Teenwoordigheid te gee.
Hoe ontvang ons hierdie sekerheid van die ewige lewe? Deur harder te werk? Deur 'n goeie mens te wees? Nee, my vriend, hier is die antwoord in Jesus se eie woorde:
Johannes 5:24 “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.
Ons ontvang die ewige lewe bloot deur in Jesus te glo. Deur geloof in die prys wat Hy aan die Kruis betaal het; deur geloof in die feit dat ons skuld en die oordeel wat óns verdien, op Hom geval het. Ons het die ewige lewe deur geloof in die Seun van God.
Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.
Deur geloof.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Thu, 25 Apr 2024 - 1171 - Die Krag van die Lewe
Johannes 5:20,21 Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy doen; en Hy sal Hom nog groter dade as hierdie wys, sodat julle verbaas sal staan. Soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil.
Daar bestaan absoluut geen twyfel dat Jesus indrukwekkende wonderwerke gedoen het nie. Hy het die verlamdes laat loop; die blindes laat sien; vir Lasarus uit die graf laat opstaan. Maar wat was die doel van dit alles? Wat beteken daardie wonderwerke vandag vir ons?Die afgelope paar dae het ons gesels oor Jesus se ongelooflike wonderwerk om daardie verlamde man op 'n draagbaar in staat te stel om op te staan en te loop. Stel jou voor dat jy dit sien gebeur. Of, stel jou voor dat jy daardie man is en ervaar wat hy ervaar het.
En hier, tweeduisend jaar later, lees ons steeds, en praat ons steeds, oor Jesus se wonderwerke. Hoekom? Waarop dui daardie wonderwerke? Wat beteken hulle vandag vir ons? Hier is dit, in Sy eie woorde:
Johannes 5:20,21 Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy doen; en Hy sal Hom nog groter dade as hierdie wys, sodat julle verbaas sal staan. Soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil.
Nouja, wat is die antwoord? Dit leer ons dat Jesus die krag het – die krag – om vir ons die lewe, die regte lewe, die ewige lewe te gee! Voordat ons ons vertroue in Jesus gestel het, was ons dood in ons sonde; ons was die wandelende dooies hier op aarde, die helse dooies vir alle ewigheid.
Maar dan roep Jesus jou en sy Gees gee jou die vermoë, die hunkering om in Hom te glo. Waarom? Vir lewe! Die oorvloedige lewe wat Hy belowe het om vir jou op hierdie aarde te gee; die ewige lewe wat Hy deur geloof aan jou geskenk het deur op te staan uit die dood.
Ek is die weg, die waarheid … en die lewe.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Wed, 24 Apr 2024 - 1170 - Hoe om nie te Misluk Nie
Johannes 5:19 Jesus het daarop reageer: “Ek verseker julle, die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen slegs wat Hy die Vader sien doen. Wat die Vader ook al doen, dit doen die Seun net so (NLV)
Het jy al ooit dapper en entoesiasties besluit om in die geloof iets vir God te doen en ‘n volslae mislukking gemaak? Ek het ook al. En dan wonder ons hoekom God nie gehelp het nie. Here, wat doen U? Ek het U vertrou, maar U het my in die steek gelaat!Baie mense wat al probeer het om iets vir God te doen en misluk het, voel ook so. En tog het Jesus nooit in iets gefaal nie. Selfs toe Hy gelyk het soos die wêreld se grootste verloorder wat daar aan daardie Kruis gehang het - was Hy die grootste oorwinnaar van alle tye.
Ja, kom ons sê dit maar; soms lyk God se planne vanuit 'n menslike oogpunt na ‘n mislukking - maar vanuit die hemel se balkon, vorm dit alles deel van sy plan. Ander kere is dit omdat ons in geloof opgetree het, ja, miskien selfs met groot geloof, sonder om by Hom te hoor, of ons grootse onderneming deel van sy plan is.
Dit bring ons by die geheim van Jesus se 100% rekord van sukses:
Johannes 5:19Jesus het daarop reageer: “Ek verseker julle, die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen slegs wat Hy die Vader sien doen. Wat die Vader ook al doen, dit doen die Seun net so(NLV).
Jesus het nooit misluk wanneer Hy iemand wou genees nie. Hy het nie gesink toe hy op water geloop het nie. Op sy bevel het die water in wyn verander. Hoekom?
Want Hy het net gedoen wat Hy sy Vader sien doen het. Hy het volgens sy Vader se wil opgetree. As jy dus in geloof optree, maak eers seker by God; bid, vra Hom wat sy wil is, sodat jy uiteindelik sal doen wat ons Vader reeds doen!
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Tue, 23 Apr 2024 - 1169 - Wie is Jesus? Episode 3Tue, 23 Apr 2024
- 1168 - Die Gevaar van Godsdienstigheid
Johannes 5 :16-18 Daarna het die Jode begin kyk of hulle Jesus nie in die moeilikheid kon bring nie, want hulle was baie ontevrede omdat Hy hierdie tipe ding op die sabbat gedoen het. Jesus het Homself verdedig: “My Vader werk reg deur tot nou toe, sabbat of nie. Net so werk Ek ook.” (DB)
Dit is regtig merkwaardig, hoe maklik dit is om God se barmhartigheid en genade - alles wat wonderlik is - te neem en dit in 'n klomp reëls en wette te verander. Wat kry jy as jy dit doen? Godsdiens.In sekere opsigte is dit verstaanbaar, want die Goeie Nuus van Jesus behels God se barmhartigheid en genade, maar dit vra ook 'n reaksie van ons – aanvaarding deur geloof en bekering. En hoe meer vasbeslote ons is om weg te draai van ons sonde, hoe makliker trap ons in die strik om 'n klomp reëls op te stel om ons op die pad te hou.
Hoe harder ons probeer, hoe meer misluk ons. Hoe meer ons misluk, hoe meer word ons op die wettiese pad van georganiseerde godsdiens gelei. Die logiese gevolgtrekking daarvan lyk soos volg:
Johannes 5:16-18 Daarna het die Jode begin kyk of hulle Jesus nie in die moeilikheid kon bring nie, want hulle was baie ontevrede omdat Hy hierdie tipe ding op die sabbat gedoen het. Jesus het Homself verdedig: “My Vader werk reg deur tot nou toe, sabbat of nie. Net so werk Ek ook.”(DB)
Jesus het 'n verlamde man op die Sabbat genees, maar al wat die godsdiensleiers gedoen het, was om Hom aan te val. Hulle was woedend omdat Hy nie net besig was om die Sabbatswet te oortree nie, maar dat Hy het ook gelyke status met God geëis het.
Hierdie godsdienstige manne het Hom gehaat en besluit om Hom te vermoor. Is dit regtig logies? Hy het dan sopas iets goeds gedoen, Hy het ‘n man genees!
Bono, die wêreldbekende popster het op ‘n slag gesê: godsdiens is al wat oorbly, wanneer die Heilige Gees die gebou verlaat het! Moet asseblief nie God se genade in reëls en wette verander nie!
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Mon, 22 Apr 2024 - 1167 - Jou Voorbedagte Plan om te Sondig
Romeine 6:1,2 Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?
Elkeen van ons het so een swakheid, daardie één ou krakie in ons wapenrusting, daardie één ou sondetjie … wat gereeld terugkom om by ons te spook om ons geloofsreis te ontspoor. Jy weet waarskynlik reeds wat joune is.Ek weet beslis wat myne is. Maar weet jy wat die dinamiek is, wat geneig is om homself af te speel wanneer daardie een spesifieke versoeking oor ons pad kom? Ons probeer dit vir 'n rukkie onderdruk en weerstaan, maar daardie versoeking om te skinder; daardie versoeking om so ‘n bietjie oneerlik te wees; daardie versoeking. … wat dit ook al mag wees, word sterker en sterker.
Ag, en dan onthou jy skielik dat dit nie regtig saak maak nie, God gaan jou tog vergewe omdat jy in Jesus glo en net daar gee jy jouself sommer op die daad –‘n kom-uit-die-tronk-vrykaart! Dan doen jy dit! Jy het dus met voorbedagte rade besluit om toe te gee aan die versoeking. Klink dit bekend?
Nee wag, kom ons kyk wat sê God se Woord:
Romeine 6:1,2 Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?
Dit is 'n retoriese vraag, ingeval jy wonder. Hoe kan jy aanhou met jou sonde? Is dit wat God hier deur die apostel Paulus vir ons vra? Hoe kan jy, ná alles wat Ek vir jou gedoen het, deur Jesus aan die Kruis vir jou te laat sterf? Hoe kan jy dink jou gedrag is aanvaarbaar?
Die genade van God in Jesus Christus is nie 'n vrypas om aan te hou sondig nie. Dit is nie ons lisensie om weer en weer aan daardie selfde versoeking toe te gee nie. Nee, ek bid dat die volgende keer wanneer jy daarop reken om jouself nog 'n voorbedagte vrypas vir sonde te gee, dat die Heilige Gees jou aan God se vraag sal herinner:
Hoe kan jy?
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sun, 21 Apr 2024 - 1166 - Wees Vriendelik,Vrygewig en Regverdig
Psalm 112:5,6 Dit is 'n goeie mens wat hom ontferm en wat uitleen en in al sy sake reg optree. Die regverdige sal nooit wankel nie, hy sal altyd onthou word.
Ek dink dit is deesdae baie maklik om Christenskap so maklik ‘geestelik’ te maak. Mense word so ingetrek deur liedjies te sing en mense op die rug te slaan – loof die Here, broer – dat ons vergeet dat liefde, beide 'n selfstandige naamwoord en 'n werkwoord is.In alle groot kulture is die woord vir liefde nie net iets wat ons het of nie het nie (met ander woorde 'n selfstandige naamwoord), dit is ook iets wat ons veronderstel is om te doen ('n werkwoord).
Ons almal hou daarvan om geliefd te wees. Maar hoeveel liefde betoon ons aan ander mense deur liefde te gee? Is ons liefde prakties? Steek ons maklik 'n helpende hand uit? Is ons eerlik en ordentlik in die werksplek? Ek ken 'n suksesvolle sake-eienaar wat op 'n Sondag soos 'n godvresende, lieflike persoon lyk, maar by die werk is hy 'n tiran en dit lei tot ‘n baie hoë verwisseling van werknemers.
Psalm 112:5,6 Dit is 'n goeie mens wat hom ontferm en wat uitleen en in al sy sake reg optree. Die regverdige sal nooit wankel nie, hy sal altyd onthou word.
Ek dink dit is so maklik om vasgevang te word in die hele spiritualiteit van 'n geloof in Jesus, dat ons die eenvoudige, die basiese, die praktiese dinge vergeet. Die dinge wat ander raaksien. Die dinge wat tot hulle spreek van die liefde (of die afwesigheid daarvan) van ons God, van wie ons getuig dat ons in Hom glo.
Dit voel asof ons hierdie week nogal baie oor liefde gepraat het, maar verstaan asseblief dat dit opsetlik gedoen is. Want vir God is dit 'n baie belangrike saak.
Dit is goed vir ons, baie goed, om vriendelik, vrygewig en regverdig te wees, ja, om bekend te wees as iemand watin al sy sake reg optree.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sat, 20 Apr 2024 - 1165 - Wanneer Jy Skuldig Is
Deuteronomium 22:8 “Wanneer jy 'n nuwe huis bou, moet jy 'n reling rondom die dak aanbring sodat jy nie met jou huis iemand se dood veroorsaak as hy van die dak af val nie.
In die meeste lande is beroepsgesondheid en -veiligheid ‘n groot saak. En dit is billik, want op plekke waar dit nie ‘n prioriteit is nie, gebeur daar uiteindelik verskriklike dinge met die werkers.Die verwoestende Kader-Speelgoedfabriek-brand in 1993, in Bangkok, word steeds as die ergste industriële brand in die geskiedenis beskou. Wat begin het as 'n klein vlammetjie op die eerste verdieping, het vinnig in ‘n tragedie ontaard, as gevolg van ‘n swak ontwerpte gebou met onvoldoende brandtrappe. 188 Mense is dood en meer as 500 is ernstig beseer.
Dis onvergeeflik. Dis aaklig! Hoe kon daardie fabriekseienaars dit toegelaat het? Ek hoop hulle is tronk toe!
Die onderliggende beginsel hier is dat ons 'n verantwoordelikheid het om in die versorging van ander mense proaktief te wees; ons is veronderstel om vooruit te dink om sodoende skade te voorkom. Maar weet jy, beplande voorsorg vir ander mense se veiligheid is nie ‘n nuwe konsep nie. Ons lees in:
Deuteronomium 22:8 “Wanneer jy 'n nuwe huis bou, moet jy 'n reling rondom die dak aanbring sodat jy nie met jou huis iemand se dood veroorsaak as hy van die dak af val nie.
Dink jy ooit in jou daaglikse wandel, vooruit daaraan hoe jy ander mense kan beskerm? Nouja, miskien sal niemand van jou dak afval nie, maar wat van skade, van mishandeling, van konflik, van enige aantal dinge wat hulle kan benadeel en seermaak?
Wat kan jy doen om jou kollega by die werk te help, wanneer sy fout op die punt staan om die woede van die bestuur te ontketen? Hoe kan jy intree om 'n vriend te help om 'n groot konflik in sy huwelik te voorkom?
Watter beginsel leer God ons hier? As ons iets sien wat ander mense kan benadeel, maar niks daaraan doen nie, is ons skuldig; ons is skuldig aan die ramp wat hulle tref.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Fri, 19 Apr 2024 - 1164 - Watter Soort Buurman is Jy?
Deuteronomium 22:1,2 Jy mag jou nie blind hou wanneer jy 'n verdwaalde bees of skaap van jou volksgenoot sien nie. Jy moet dit na hom toe terugvat. As hy nie naby jou bly nie of as jy hom nie ken nie, moet jy die dier na jou huis toe vat, en dit moet daar bly tot hy dit kom soek. Dan moet jy dit vir hom teruggee.
Bure het 'n snaakse manier om jou geduld te beproef. Of dit nou 'n blaffende hond, boomwortels onder die heining, sigaretrook of 'n grensgeskil is, om 'n goeie buurman te wees, kan nogal 'n uitdaging wees.Ons het ongetwyfeld almal al in daardie moeilike situasies foute gemaak. Maar alhoewel dit baie belangrik is om die vrede te bewaar, het God 'n veel hoër roeping op ons, as bure.
Deuteronomium 22:1,2 Jy mag jou nie blind hou wanneer jy 'n verdwaalde bees of skaap van jou volksgenoot sien nie. Jy moet dit na hom toe terugvat. As hy nie naby jou bly nie of as jy hom nie ken nie, moet jy die dier na jou huis toe vat, en dit moet daar bly tot hy dit kom soek. Dan moet jy dit vir hom teruggee.
Nee, wag nou Berni, ek is nie bewus daarvan dat my bure osse of skape aanhou nie! Maar onlangs het 'n koerier 'n rekenaarskerm in 'n kartondoos langsaan afgelewer, en omdat my buurvrou nie tuis was nie, het hy dit net daar buite in die reën gelos. Toe ek dit sien, het ek uitgehardloop, en nogal nat geword, maar ek het daarin geslaag om die afgelewerde item te red, waaroor my bure baie dankbaar was. Dit het my niks gekos nie, maar dit was vir my buurvrou baie werd.
Die kern van die saak is dat ons geroep word om bedag te wees op ons bure. Nie net om die vrede te bewaar nie, maar om proaktief te wees, om uit ons pad te gaan vir hulle. Want daardie soort praktiese hulp is 'n kragtige getuienis van die liefde van ons God, van wie ons getuig dat ons in Hom glo.
Dis reg! Moenie die volgende keer anderpad kyk as jy sien dat jou buurman se bees of skaap los is nie. Maak seker dat jy dit na sy eienaar terugneem.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Thu, 18 Apr 2024 - 1163 - God se Tydsberekening is Perfek
Habakuk 2:3 Die openbaring geld vir 'n bepaalde tyd; dit sal gou kom want dit kom beslis. Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie.
Ek moet ‘n bekentenis maak: ek was nie altyd so in my noppies oor God se tydsberekening nie. Daar was te veel kere wat my lyding te lank aangehou het. En eerlikwaar, daar was te veel kere wat Hy sy seëninge ook te lank teruggehou het! Wat van jou?Ek het 'n jong vriend wie se vrou, kort nadat hulle getroud is, met langtermyn chroniese-uitputting-sindroom gediagnoseer is. Hoekom laat God so iets toe om net aan te gaan?
Ek is seker dat ek en jy, tussen ons twee, baie sulke gevalle kan opnoem; en om die saak nog erger te maak, moet ons erken dat ons dikwels God se tydsberekening bevraagteken het. Hoekom het Hy, wat ons betref, sulke slegte tydsberekening?
Habakuk, die Ou Testamentiese profeet, het ook so gevoel:
Habakuk 1:2 Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red?
Dinge het glad nie goed gegaan met die Israeliete nie. Die Babiloniërs het verwoesting gesaai. Geen wonder dat Habakuk na God roep nie. Maar kyk wat was God se reaksie.
Habakuk 2:3 Die openbaring geld vir 'n bepaalde tyd; dit sal gou kom want dit kom beslis. Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie.
Miskien is jy nie op die oomblik gereed om so ‘n antwoord te hoor of te aanvaar nie. Miskien is dit nie eers iets wat jy wil glo nie. Maar wag 'n oomblik. God weet presies waardeur jy gaan. Ons kan ons troos dat sy tydsberekening altyd perfek is.
Wees net geduldig en wag daarvoor. Die tyd sal kom; dit sal nooit te laat wees nie.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Wed, 17 Apr 2024 - 1162 - Die Wêreld se Grootste Ponzi Skema
Johannes 8:44 Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af 'n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is 'n leuenaar en die vader van die leuen.
'n Man met die naam van Bernie Madoff, 'n voormalige voorsitter van die Nasdaq-aandelebeurs, kan spog met die bedryf van die grootste Ponzi-skema in die geskiedenis van die mensdom. Hy het, kan jy glo; $64,8 miljard Amerikaanse dollars gesteel.'n Ponzi-skema is misleiding en bedrog op 'n massiewe skaal. ’n Beleggingshuis neem mense se geld en beloof hoë opbrengste. Maar in plaas daarvan om daardie geld te belê, steel hulle dit. Hulle is so slim, dat hulle gereelde opbrengste en selfs af en toe kapitaal uitbetalings aan bestaande beleggers gee; maar hulle gebruik slegs die fondse wat deur nuwe beleggers gedeponeer word. Dit is 'n kaartehuis wat uiteindelik moet ineenstort, want die beleggers se oorspronklike kapitaal is weg.
Maar weet jy dat daar vandag baie groter misleiding is, as wat ons kan besef? Misleiding so groot, dat dit miljarde mense nie net hul beleggings gekos het nie, maar hul lewens, vir alle ewigheid.
Jesus het met 'n paar slegte mense gepraat en die volgende gesê:
Johannes 8:44 Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af 'n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is 'n leuenaar en die vader van die leuen.
Die leuen wat die duiwel die hele tyd vertel, is dat die lewe wonderlik is. Dis baie eenvoudig: Eet, drink en wees vrolik. Daar sal geen boek van jou ongeregtigheid gehou word nie. En al is daar so hier en daar so ‘n ietsie oneerlik in jou lewe, is dit tog nie groot sonde nie, want jy is tog nie ‘n slegte mens nie!
Daardie kaartehuis gaan eendag vir elkeen van ons wanneer ons voor ons Skepper staan in duie stort. Moenie die duiwel glo nie. Hy is die vader van leuens. Glo Jesus.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Tue, 16 Apr 2024 - 1161 - Wie is Jesus? Episode 2Tue, 16 Apr 2024
- 1160 - Die Eenvoudige Krag van Liefde
Romeine 13:8-10 Betaal alles wat julle verskuldig is, maar die een rekening wat julle altyd verskuldig sal bly, is om mekaar lief te hê. As jy jou naaste liefhet, vervul jy die wet. Want elke verbod, dié teen egbreuk, teen moord, teen diefstal, teen verkeerde begeertes – en watter ander een daar ook mag wees – word opgesom in hierdie een groot opdrag: “Jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself.” Die liefde doen niemand kwaad aan nie. Daarom voldoen die liefde aan al God se vereistes. (NLV)
Is daar ‘n oplossing vir al die nare goed in die wêreld wat om ons aangaan? Wat is die antwoord? Hoe kan ons ‘n einde daaraan maak?Nare dinge, soos mans wat hul vrouens verneuk, en vrouens wat ontrou is aan hul mans, geweld, moorde, oneerlikheid, hebsug en afguns, is vandag baie algemeen. Maar kom ons erken dit maar, ek en jy is ook skuldig aan slegte gedrag. Hopelik nie só erg nie, maar ons raak geïrriteerd met mense, ons is soms jaloers, opdringerig, onbeskof, en …. Ja, dis waar! Ons moet ook maar hand in eie boesem steek.
Nouja, hoe kan ons die slegte goed, laat end kry? Dit blyk dat die antwoord baie eenvoudiger is as wat ons dalk dink.
Romeine 13: 8-10Betaal alles wat julle verskuldig is, maar die een rekening wat julle altyd verskuldig sal bly, is om mekaar lief te hê. As jy jou naaste liefhet, vervul jy die wet. Want elke verbod, dié teen egbreuk, teen moord, teen diefstal, teen verkeerde begeertes – en watter ander een daar ook mag wees – word opgesom in hierdie een groot opdrag: “Jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself.” Die liefde doen niemand kwaad aan nie. Daarom voldoen die liefde aan al God se vereistes. (NLV)
Kan dit regtig so eenvoudig wees? Ja, beslis. Wanneer jy kies om die volgende persoon lief te hê – jou “medemens” soos die apostel Paulus dit hier stel – verander jou aandeel in daardie slegte gedrag eenvoudig ….
En daardie bure gaan dalk anders lyk, anders klink, anders glo, anders teenoor jou optree; jou dalk selfs minder irriteer. Wees lief vir hulle, want ons slegte gesindheid sal verander wanneer ons ons medemens net so liefhet, soos ons onsself het.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Mon, 15 Apr 2024 - 1159 - Hoe Behandel Jy Jou Personeel?
Kolossense 4:1 Base, behandel julle werkers regverdig en eerlik. Julle besef natuurlik dat julle ook ’n Baas in die hemel het. (DB)
Enigiemand wat al ooit in 'n leiersposisie was, sal weet dat dit nie maklik is nie. Mense voldoen dikwels nie aan jou verwagtinge nie. En jy raak soms geneig om krities te raak.Nee, my maat, om 'n leier te wees, is nie maklik nie. Soos Steve Jobs, die stigter van Apple, eenkeer gesê het, moenie 'n leier word as jy almal tevrede wil stel nie. Gaan verkoop dan maar eerder roomys!
En as gevolg van die druk waaronder leiers hulself dikwels bevind, is hulle geneig om diegene wat hulle lei, sleg te behandel . . . of hulle ten minste af te skeep; nie hulle gevoelens in ag te neem; of genoeg aandag aan hulle te bestee om hul liggaamstaal korrek te lees nie.
Of jy nou 'n leier is of nie, hierdie Woord van die Here is werklik belangrik:
Kolossense 4:1Base, behandel julle werkers regverdig en eerlik. Julle besef natuurlik dat julle ook ’n Baas in die hemel het. (DB)
Eerlikheid en regverdigheid. Enigiemand wat onderworpe is aan die leierskap van 'n ander, kan regtig nie vir meer vra nie. Alhoewel ek die bediening van Christianityworks wat FRESH en VARS produseer, lei, is ek onderworpe aan die leierskap van 'n onafhanklike raad.
Ja, hulle hou my aanspreeklik en hulle vra moeilike vrae soos hulle veronderstel is om te vra. Maar hulle doen dit eerlik en met ‘n gesindheid van goedheid en regverdigheid. Dis hoe dit hoort en ek probeer met ‘n opregte hart diegene wat skouer aan skouer saam met my in die bediening werk, ook so te behandel.
Of jy nou 'n leier is of nie, Christus roep jou om goed en regverdig op te tree teenoor diegene met wie jy werk - teenoor jou ondergeskiktes, jou eweknieë en ja, teenoor jou leiers. Hoekom dink jy dis wat jy moet doen?
Julle besef natuurlik dat julle ook ’n Baas in die hemel het.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sun, 14 Apr 2024 - 1158 - Onthou Jou Beloning
Kolossense 3:23,24 Pak alles gemotiveerd aan. Werk soos vir die Here en nie soos vir mense nie. Weet dat die Here julle met ’n erfdeel sal beloon. Die Eienaar vir wie julle werk, is Christus! (NLV)
Dit kan jou vir ‘n kort rukkie laat goed voel wanneer jy ander mense beïndruk. As jy jou baas beïndruk, kan jy dalk 'n verhoging, en of, 'n bevordering kry. Maar daar is iets baie belangriker, iets baie groter hier op die spel.Ons het gister in Kolossense 3 gesien dat daar 'n fyn balans bestaan tussen om goeie werk te lewer, en om onder die druk te wees om mense te behaag.
Kolossense 3:23,24 Pak alles gemotiveerd aan. Werk soos vir die Here en nie soos vir mense nie. Weet dat die Here julle met ’n erfdeel sal beloon. Die Eienaar vir wie julle werk, is Christus!(NLV)
Gee onder alle omstandighede slegs die beste in alles wat jy doen. Maar in plaas daarvan om jou Godgegewe talente bloot te gebruik om ander te probeer beïndruk, gebruik dit om God te verheerlik. Dis waar die vryheid lê. Dis waar jy vervulling sal beleef. En dit op sigself kan vir jou korttermyn belonings bring.
Maar daar is 'n groter prentjie; 'n baie groter prentjie, vir dit alles:
Wantas julle werk soos vir die Here en nie soos vir mense nie, sal Christus julle met ’n erfdeel beloon.
Kom ek gee jou die keuse: Sal jy eerder populêr wil wees en mense beïndruk en deur hulle beloon word, of wil jy eerder 'n beloning - of dit nou in hierdie lewe, of in die ewigheid is - van God ontvang? Dis nie ‘n eenvoudige keuse nie, nè? Ons kan so maklik van koers afdwaal, want die lokmiddel van 'n korttermyn beloning kan baie aantreklik lyk.
Eenvoudig gestel, watter beloning sal groter wees? Wie is in staat om jou meer en vir langer - vir die ewigheid - te beloon? Die mense op hierdie aarde, of God self?
Onthou dat jy jou beloning van die Here sal ontvang, want dis wat Hy aan sy volk beloof het.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sat, 13 Apr 2024 - 1157 - Probeer Jy Steeds Mense Beïndruk?
Kolossense 3:23 Pak alles gemotiveerd aan. Werk soos vir die Here en nie soos vir mense nie. (NLV)
Dit maak nie saak hoe nederig ons dink ons al geword het nie, daar is altyd 'n versoeking wat iewers diep binne-in skuil, wat vir ons vertel hoe wonderlik dit sal wees, as ons ander mense kan beïndruk.Die oomblik as ons aan onsself dink as nederig - ek is nederig! – is ons allesbehalwe nederig. Dit laat my altyd stilletjies lag kry vir myself. Wanneer ons in nederigheid groei; ervaar ons 'n geseënde bevryding van die enorme druk dat ons ander mense moet beïndruk.
En kom ons erken dit, ons het ook maar 'n wispelturige gehoor. Die einste mense wat so betower was deur Jesus se kragtige prediking en verstommende wonderwerke, was dieselfde mense, wat toe Hy tydens daardie noodlottige Pasga-viering voor Pontius Pilatus gestaan het, uitgeroep het: “Kruisig Hom! Kruisig Hom! ”
Kan ek jou vra om net vir 'n oomblik eerlik met jouself te wees. Mevrou of mejuffrou, in watter mate is die ophef wat jy oor jou hare en jou grimering maak, daar om ander mense te beïndruk? En julle manne, kies jy wat jy kantoor toe, of na ‘n vergadering gaan dra om jou beeld te poets? Hulle sê mos die vere maak die voël? In watter mate maak jy keuses in die lewe met die uitdruklike doel om ander te beïndruk?
En weet jy, my vriend, dit lei tot 'n juk van slawerny waaruit God ons kom verlos het.
Kolossense 3:23Pak alles gemotiveerd aan. Werk soos vir die Here en nie soos vir mense nie.(NLV)
Gee onder alle omstandighede slegs die beste in alles wat jy doen. Maar in plaas daarvan om jou Godgegewe talente bloot te gebruik om ander te probeer beïndruk, gebruik dit om God te verheerlik. Dis waar die vryheid lê. Dis waar jy die vervulling sal beleef.
Werk soos vir die Here en nie soos vir mense nie.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Fri, 12 Apr 2024 - 1156 - Duiwelse Trots
Lukas 4:5-7 Daarna bring die duiwel Hom op 'n hoogte en wys Hom in 'n oogwink al die koninkryke van die wêreld. Toe sê die duiwel vir Hom: “Aan U sal ek al hierdie mag en majesteit gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. Dit sal alles aan U behoort as U maar net voor my buig en my aanbid.”
Het die duiwel al ooit 'n hoek, gelaai met die aas van versoeking voor jou neus rondgeswaai om jou uit te lok? Daardie aas van hoe suksesvol jy kan word en hoe jy mense sal beïndruk. Toemaar, my vriend, jy is nie alleen nie!Daar is volop situasies in hierdie lewe waar jy versoek word. Dink byvoorbeeld aan die kere wat jy jouself met ander vergelyk en besluit jy skiet te kort; tye wanneer die lewe nie uitwerk soos jy gehoop het dit sal nie; selfs wanneer jy misluk het en jy besig is om die stukke op te tel.
Maar weet jy, daardie geleenthede kom wink steeds vir jou. En om die waarheid te sê, wanneer ons terneergedruk voel, soos ons almal van tyd tot tyd maar geneig is om te voel, is daardie geleenthede soveel meer aanloklik. Dit is hoekom so baie mense ingesuig word deur hierdie kits-ryk-word-swendelary. Die sprankel van sukses is so groot daar te midde van jou lyding, dat die uitdaging om 'n mal risiko te loop, nie so erg lyk nie.
Jesus was al veertig dae in die woestyn. Hy het niks geëet nie. Hy was swak. Hy was kwesbaar.
Lukas 4:5-7 Daarna bring die duiwel Hom op 'n hoogte en wys Hom in 'n oogwink al die koninkryke van die wêreld. Toe sê die duiwel vir Hom: “Aan U sal ek al hierdie mag en majesteit gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. Dit sal alles aan U behoort as U maar net voor my buig en my aanbid.”
Joshua Botello die skrywer en spreker stel dit so: as die duiwel jou nie kan afdruk nie, sal hy jou probeer opblaas. Moenie in die versoeking kom nie. Moenie trots word nie; bly nederig.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Thu, 11 Apr 2024 - 1155 - Trots is Vernietigend
Filippense 2:3,4 Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange. (NLV)
Sê my, geniet jy dit om saam met 'n trotse persoon te woon of te werk, of om deur ‘n paar van hulle omring te word? Dit is nie baie pret nie, is dit?Een van die mees vernietigende van alle denkwyses is beslis een wat gewortel is in trots, want vir die trotse persoon gaan alles oor hulleself. Hulle is die middelpunt van die heelal – hoe húlle voel, wat húlle wil hê en wat die mense van húlle dink.
Dit lei daartoe dat hulle verblind word vir die behoeftes, die gevoelens, die vermoëns en die bydraes van ander. Hulle sal jou vertrap om húlle doel te bereik. Hulle sal jou ignoreer, jou verraai en saamsweer teen jou, om hulself, in hul eie oë en in die oë van ander, belangrik te laat lyk.
God weerstaan altyd die hoogmoediges en betoon genade aan die nederiges. Kyk wat staan in die Bybel oor trots:
Filippense 2:3,4 Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange. (NLV)
Voorwaar wyse raad. Ons moet ons trots oorwin as ons Jesus wil volg, want Hy het, alhoewel Hy die Seun van God was, Homself tot in die dood, ja, die dood aan die kruis, verneder.
Maar dit is ook 'n heilsame les oor die keuse van mense wat ons kies om onsself mee te omring. Soos iemand eenkeer gesê het, wees versigtig wie jy op jou skip laat klim, want sommige mense sal die hele skip laat sink, net omdat hulle nie die kaptein kan wees nie.
Wie is die mense met wie jy jouself omring? Moet hulle hoegenaamd op jou skip wees?
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Wed, 10 Apr 2024 - 1154 - Die Krag van ‘n Vraag
Matteus 19:16-18 Iemand het na Jesus toe gekom met die vraag: “Leermeester, watter goeie ding moet ek doen om die ewige lewe te ontvang?”
Hy het vir hom gesê: “Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Net God is werklik goed. Maar om jou vraag te beantwoord – jy kan die ewige lewe verkry deur die gebooie te onderhou.”
Hy vra vir Jesus: “Watter gebooie?”(NLV)
As die lewe net eenvoudig was ... maar dit is nie eenvoudig nie. Die lewe is morsig, dit is kompleks. Mense se emosies, ons s'n inkluis, is wispelturig. Ons kom dikwels voor moeilike situasies te staan. Ja, die lewe is alles behalwe eenvoudig.Wanneer laas het iemand jou geïrriteer of selfs seergemaak deur 'n onsensitiewe reaksie? Wanneer laas het iemand die een of ander geykte opmerking gemaak toe jy in die knyp was en ‘n baie moeilike situasie met hom gedeel het? Hoe het dit jou laat voel?
Jesus was dikwels met moeilike kwessies gekonfronteer.
Matteus 19:16-18 Iemand het na Jesus toe gekom met die vraag: “Leermeester, watter goeie ding moet ek doen om die ewige lewe te ontvang?”
Hy het vir hom gesê: “Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Net God is werklik goed. Maar om jou vraag te beantwoord – jy kan die ewige lewe verkry deur die gebooie te onderhou.”
Hy vra vir Jesus: “Watter gebooie?” (NLV)
Die persoon het 'n goeie vraag gevra. En wat was Jesus se reaksie? Hy het geantwoord deur 'n vraag te vra, wat gelei het tot 'n diepgaande bespreking van 'n lewe-en-dood-kwessie. Hulle sê dat Jesus in die vier Evangelies– Matteus, Markus, Lukas en Johannes – 187 vrae gevra is. Hy beantwoord (dalk) agt van hulle. Hy het self 307 vrae gevra. Hy het dikwels gelykenisse vertel wat mense nie verstaan het nie. Hulle het seker huis toe gegaan en vir ander gevra : "Wat dink jy het Hy daarmee bedoel?"
Dit is so betekenisvol om vrae te vra - van onsself, van ander, van God se Woord. Dis ’n gewoonte wat die verbeelding ontsluit; wat die denkproses stimuleer; wat 'n gesprek moontlik maak.
Soos iemand eenkeer gesê het, miskien gaan geloof daaroor om te leer om vrae te vra en na te dink daaroor. Hoe kan jou lewe verander as jy meer vrae aan God vra; as jy in die lig van sy Woord daaroor sit en peins? Moenie bang wees om Hom vrae te vra nie.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Tue, 09 Apr 2024 - 1153 - Wie is Jesus? Episode 1Tue, 09 Apr 2024
- 1152 - Straf God Ons Steeds?
Straf God sy kinders? Haal Hy sy groot kosmiese liniaal uit en klits jou oor jou kneukels wanneer jy iets verkeerd gedoen het, as jy weet dit was verkeerd?
Dit is 'n goeie vraag om te vra en 'n baie goeie een om te beantwoord, want in hierdie wêreld van oorsaak en gevolg verwag mense baie dikwels dat hulle gestraf moet word.
Maar hier is die ding. As jy glo dat Jesus aan die Kruis gesterf het om die prys vir jou sonde te betaal, dan weet jy dat Hy vir eens en altyd jou straf op Homself geneem het. Dit sal dus nie sin maak dat God jou weer daarvoor straf nie, of hoe? Jesus sê dan self in:
Openbaring 3:19,20 Ek berispe en straf almal wat Ek liefhet. Kry lewe en kom tot inkeer! Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As jy my stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan en ons sal die feesete saam geniet.
Straf God ons nog? Nee. Bestraf en dissiplineer Hy ons uit sy groot liefde? Absoluut. Hoekom? Om ons te leer, om ons te herstel en om in gemeenskap met ons te verkeer.
Daar is 'n groot verskil tussen dissipline en straf. Bekroonde skrywer L.R. Knost het dit so verduidelik: Dissipline is om ’n kind te help om ’n probleem op te los. Straf laat ’n kind ly omdat hy ’n probleem het. Jesus fokus op die oplossing, nie op die probleem nie.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Mon, 08 Apr 2024 - 1151 - ‘n Onaanvaarbare Konsep
Romeine 10:9 As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.
Dit maak nie saak onder watter regeringstelsel jy toevallig leef nie, maar ons het almal vandag die begeerte om vry te wees en om selfbeskikking te ervaar. Ja, ons hou nie daarvan om deur ander mense gesê te word wat om te doen en wat om nie te doen nie.Ek is doodseker daardie begeerte na vryheid is 'n ingebore menslike eienskap. Die idee om iemand oor jou te laat heers, is vir die meeste mense 'n onaanvaarbare konsep. En tog sê God se Woord in:
Romeine 10:9As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.
En natuurlik gaan dit nie daaroor om slegs te sê "Jesus is die Here nie"; dit gaan daaroor om dit diep in jou hart te glo; om Hom as jou Leier te aanvaar; om jou lewe daaruit te leef omdat dit waar is. Dit gaan daaroor om 'n diep, blywende verbintenis tot die heerskappy van Christus in jou lewe te hê; om sy volkome gesag oor jou lewe te omhels.
Dis geen wonder dat diegene wat nie in Jesus glo nie, en ongelukkig ook baie mense wat wel in Hom glo, die moontlikheid om Hom heerskappy oor hul lewens te gee, afstootlik vind. Maar die groot paradoks is dat wanneer ons Hom wel aanvaar as die absolute Heerser oor ons lewens, dan en eers dan, word ons waarlik vry. Dan en eers dan, word ons gered van die sonde wat ons lewens geteister het, wat ons beroof het van die vryheid waarna ons nog altyd gesmag het.
Mag ek jou vra, in watter mate het jy die heerskappy van Christus oor jou lewe aanvaar? Ja, daar is baie mense wat glo, maar bitter min wat hulle werklik aan Christus se heerskappy onderwerp. Baie bely dat hulle Christene is, maar weier om God se Woord as die waarheid te aanvaar en dit te gehoorsaam.
As(en net as)jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sun, 07 Apr 2024 - 1150 - Wanneer Jy In Die Moeilikheid Is
Psalm 138:7,8 As die nood my oorval, hou U my in die lewe teen die woede van my vyande in: U strek u hand uit, u regterhand red my. Die Here sal vir my alles goed laat afloop. Aan u liefde, Here, is daar geen einde nie. Moet tog nie die werk van u hande laat vaar nie.
Daar is tye in ons lewens wanneer die vermoë om met vertroue op die beloftes van God te staan, werklik belangrik is. Ja, ek weet dis altyd belangrik, maar dit voel ekstra belangrik wanneer ons moeilike tye ervaar.Wanneer laas het ‘n moeilike situasie jou voete totaal onder jou lyf uitgeslaan? Benoudheid, teëspoed, ellende, angs, verdrukking … noem dit maar wat jy wil, moeilikheid is geneig om jou geloof tot in die kern te skud - om jou vertroue in God te skud. Dit is eintlik 'n baie natuurlike reaksie.
Daarom is dit selfs belangriker om in tye van moeilikheid met vertroue op die beloftes van God te staan. En hier getuig een man, koning Dawid van Israel, wat dikwels vir sy lewe moes vlug, van sy vertroue in God:
Psalm 138:7,8 As die nood my oorval, hou U my in die lewe teen die woede van my vyande in: U strek u hand uit, u regterhand red my. Die Here sal vir my alles goed laat afloop. Aan u liefde, Here, is daar geen einde nie. Moet tog nie die werk van u hande laat vaar nie.
Kan ek jou 'n vraag vra? Waar is Dawid vandag? Wel, hy is nie hier nie. Hy het uiteindelik gesterf, soos ons almal ook eendag sal. God het immers 'n tyd en 'n doel daarmee, ook vir jou en vir my.
Maar as jy na Dawid se lewe kyk, het God hom keer op keer die wysheid, die leiding, die vertroue en die voorsiening gegee om in sy tye van benoudheid te oorleef.
God sal, in hierdie tyd tussen vandag en wanneer Hy jou, net op die regte tyd, huis toe roep, sy hand na jou uitsteek om jou uit jou moeilikheid te verlos. Want, my vriend, sy onwrikbare liefde vir jou, duur tot in ewigheid en Hy sal nie die werk vansyhande laat vaar nie.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sat, 06 Apr 2024 - 1149 - Die Wat Ons Vooruit Is
2 Timoteus 1:5,6 Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is. Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos 'n vuur weer moet aanblaas.
In hierdie vinnige, tegnologie-gedrewe wêreld waar jy jou aandete op jou foon kan bestel om dit binne 'n halfuur by jou deur te laat aflewer, lyk dit of mense selde tyd neem om oor hul verlede te besin. Die goeie dinge, die dinge wat hulle gevorm het. . .Vandag word “Graf-Skoonmaak-Dag” in die Chinese kultuur gevier. Dit klink vir ons 'n bietjie vreemd. Maar tradisioneel herdenk die mense die lewens van hul ouers en grootouers wat reeds oorlede is, deur saam met familie na die begraafplaas te gaan en hul grafte te versorg en skoon te maak. Dit is 'n tradisie waarin diegene wat oorbly, herinner word daaraan om nie die bron van hul goeie lewe en seëninge te vergeet nie.
Ek wonder hoe gereeld jy aan jou voorgeslagte dink; hulle wat die weg vir jou gebaan het en wat bygedra het om jou die persoon wat jy vandag is, te maak. Natuurlik was nie al hul insette goed nie, maar sonder twyfel was daar tog baie betekenisvolles. Kyk wat skryf die apostel Paulus aan Timoteus in:
2 Timoteus 1:5,6 Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is. Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos 'n vuur weer moet aanblaas.
Timoteus se ouma Lois en sy ma Eunice het 'n groot invloed op die jong man se geloof gehad. Moenie diegene wat voor jou gegaan het, vergeet nie. Onthou wat hulle opgeoffer het sodat jy kan wees, wie jy vandag is. Eer hulle in jou hart.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Fri, 05 Apr 2024 - 1148 - Nuusbrief April 2024Thu, 04 Apr 2024
- 1147 - Die Lig wat in jou Hart Skyn
Psalm 119:130 Begrip van u woord bring lig; dit gee insig aan die eenvoudige. (NLV)
Jy ken daardie gevoel van frustrasie wanneer daar iets is, wat jy net nie mooi kan verstaan nie. Iets wat jy weet net nie heeltemal reg is nie, en die oplossing van die probleem ontwyk jou geheel en al. En dan skielik op ‘n dag maak dit sin - dit is asof … ‘n lig aangeskakel het.'n Jong prediker het my ‘n rukkie gelede gevra om hom oor een van sy onlangse preke terugvoer te gee. Dit was 'n enorme voorreg. Ons het na 'n video van die preek gekyk, dit gestop en weer begin en gepraat oor dinge. Ek het vrae gevra en hy het homself ten doel gestel om die antwoorde te vind.
Die hoogtepunt het gekom toe hy gesê het, "Jy weet, dit is amper asof ek twee preke gepreek het, asof ek probeer het om twee boodskappe in een in te druk." Ja! Dit is presies wat ek gehoop het hy sou insien. Dit is asof die lig aangekom het.
Maar dit sou nie gebeur het as hy nie die inisiatief geneem het om hulp te vra nie. As sy hart nie ontvanklik vir opbouende kritiek was nie (ja, ek weet, dit is nooit maklik om kritiek te ontvang nie) én as hy nie die moeite gedoen het om dit te prosesseer en te verstaan nie. God se Woord werk ook nogal so:
Psalm 119:30 Begrip van u woord bring lig; dit gee insig aan die eenvoudige. (NLV)
Ons moet die inisiatief neem om die Bybel te lees, en dan die tyd neem om dit te oordink; om dit te verstaan en wanneer ons dit doen ... bring dit lig in ons lewens.
Sal jy eerder wys of dom wees? Wil jy leer, groei, en die mens word wat God jou gemaak het om te wees? Maak dan die Woord van God oop en lees dit, ontvang dit, reflekteer daaroor en reageer daarop. Dit sal lig in jou lewe bring. Dit sal jou wys maak.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Thu, 04 Apr 2024 - 1146 - Het jy Jou Geskenk Oopgemaak?
Handelinge 2:38,39 Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.”
Stel jou vir 'n oomblik voor dat jy op een van jou werklik belangrike verjaarsdae, een van daardie met 'n nul aan die einde, 'n geskenk van die persoon vir wie jy die liefste is, ontvang. Dis pragtig toegedraai met 'n groot rooi strik om. Sjoe! Dit bring sommer trane in jou oë. Nouja, wat doen jy? Jy sit dit, net so toegedraai, in 'n kas en vergeet daarvan. Regtig? Dit sal beslis nie sin maak nie, nè?En dis hoe baie Christene met die gawe van die Heilige Gees maak.
Handelinge 2:38,39 Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.”
Hoekom doen ons dit? Miskien omdat ons nie ons harte en lewens wil verander nie. Miskien verstaan ons nie regtig wie of wat die Heilige Gees is nie. Miskien voel ons bedreig deur die krag van God wat deur sy Gees in ons woon. Of miskien … miskien dink ons nie eers daaraan nie.
Weet jy, dat as jy in Jesus glo, begeer Hy om jou lewe te transformeer; Hy wil jou van die sonde wat jou bind, vrymaak. Hy wil jou vergewe en bemagtig om 'n nuwe lewe te lei; 'n lewe as een van sy kinders.
En as jy Jesus as jou Verlosser aanneem, en indien jy onderneem om jou hart en jou lewe vir Hom te gee … dan sal Hy jou vergewe. Dan sal Hy jou die gawe van die Heilige Gees gee.
Ja, my vriend, hierdie geskenk is vir jou. Haal die strik af en maak dit oop … ter wille van die Naam van Jesus!
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Wed, 03 Apr 2024 - 1145 - Daar is Krag in hierdie Belofte
Handelinge 1:8 Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”
Watter doelwit het God aan jou gestel vir jou lewe – die tyd tussen vandag en die dag wanneer jy jou laaste asem uitblaas? Hoekom het Hy jou op hierdie aarde gelos, eerder as om jou in heerlikheid na Hom, huis toe te neem?Dit is uitdagende vrae, want soos ons daagliks deur die dinge wat ons moet doen om te oorleef, verteer word, is dit so maklik om ons fokus van sy doelwit, na ons eie behoeftes te verskuif. Ja, en laat ons eerlik wees; daar is deesdae ‘n klemverskuiwing – die moderne mens is so geneig om hoofsaaklik op sy eie wense, sy eie begeertes en sy eie gemak te fokus.
Maar as jy een van daardie eksentrieke ouens soos ek is, wat uitverkoop is om Jesus te volg, om Hom te aanbid … is daardie verskuiwing in fokus nie regtig ‘n opsie nie.
Nadat Jesus gesterf het, opgestaan het en na die hemel opgevaar het, kon die dissipels redelik maklik vir hulself gesê het: Wel, dit was nogal ‘n ervaring, was dit nie? Wonderlik. Nouja, kom ons gaan nou huis toe, slaap in ons eie beddens, gaan aan met ons lewens en leef tot 'n gemaklike ouderdom met ons goeie herinneringe aan Jesus.
Maar dit is nie 'n opsie wat Hy vir hulle gegee het nie! In plaas daarvan het Hy vir hulle gesê...
Handelinge 1:8 Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”
Jesus het sy dissipels agtergelaat om die wêreld van sy liefde te gaan vertel. En Hy het hulle krag belowe, ware krag, Heilige Gees krag, om hulle te bemagtig om juis dít te doen.
My vriend, Jesus het jou nie agtergelaat om handjies gevou te sit en 'n gemaklike aftrede te hê nie, maar om die wêreld van sy liefde te vertel. En Hy het jou die Heilige Gees belowe om jou die krag te gee, om presies dít te doen.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Tue, 02 Apr 2024 - 1144 - Onthou die Belofte
Johannes 14:26 en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.
In die ou dae was seilskepe die algemeenste vorm van skeepsvervoer. Onverskrokke matrose het met seilskepe die aardbol deurkruis en groot oseane oorgesteek om nuwe wêrelde te ontdek. Hulle was aangedryf deur een ding, en een ding alleen. Die wind.Deesdae is daar natuurlik ook massiewe brandstof-aangedrewe vaartuie. Dit het veroorsaak dat skeepskepe meer van 'n sport en vermaak, as 'n noodsaaklikheid, geword het. En hoewel ek nog nooit baie aangetrokke tot daardie spesifieke sport was nie, moet ek erken dat die paar keer wat ek op 'n seiljag was, nogal opwindend was.
Wanneer die wind gaan lê, verloor ‘n seiljag sy krag. Vandag kan dit beteken dat jy 'n wedvaart verloor, maar destyds was 'n windstilte vir almal aan boord verlammend, selfs dodelik.
Dit lyk vir my of 'n Christelike lewe sonder die Heilige Gees baie so is. Charles Spurgeon, die negentiende-eeuse Britse prediker en evangelis, het eenkeer gesê dat ons sonder die Gees van God niks kan doen nie. Ons is soos skepe sonder wind, heeltemal nutteloos.
Voordat Hy gekruisig is, het Jesus hierdie belofte aan sy dissipels gemaak:
Johannes 14:26 …en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.
Dink aan die Gees van God as die wind in jou seile. Hy herinner jou aan dinge wat Jesus gesê het, en Hy help jou om alles te word wat Hy jou geskep het om te wees. Dis die magtige hand van God in jou lewe, die hand van sy grootheid, om tot sy eer in jou en deur jou te werk.
Hoekom sal ons ooit op ons eie die mas probeer opkom? Ons sal soos skepe in ‘n windstil see ronddobber en uiteindelik sterf. God, die Heilige Gees, is jou Helper.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Mon, 01 Apr 2024 - 1143 - Laat die Lewe Begin!
1 Petrus 1:3 Alle eer aan die God en Vader van ons Here Jesus Christus, want sonder dat ons dit verdien, het Hy sy ontferming aan ons betoon deur die proses te begin wat op ons weergeboorte uitgeloop het. Nou het ons regtig hoop omdat Jesus Christus uit die dood opgestaan het. (NLV)
Christus het opgestaan! Hy het waarlik opgestaan! 'n Refrein van Christene deur die eeue. 'n Gejuig. Maar is dit steeds meer as tweeduisend jaar ná die gebeurtenis, vir ons belangrik?Wat, indien enigiets, beteken die opstanding van Jesus Christus vir jou? Is dit vir jou vandag, eeue nadat Jesus na bewering uit die dood opgestaan het, met alles wat in jou lewe aangaan, vir jou betekenisvol?
Of is vandag vir jou, soos vir baie mense, op die ou end net ‘n gewone dag? ‘n Dag waarop jy ’n paar paaseiers vir die kinders wegsteek en 'n bietjie meer sjokolade, as wat jy moet, eet?
'n Paar dekades na daardie eerste Paassondag het die apostel Petrus – onthou jy, dieselfde een wat Jesus drie keer die nag voor sy kruisiging verloën het – aan die vervolgde Christene geskryf:
1 Petrus 1:3 Alle eer aan die God en Vader van ons Here Jesus Christus, want sonder dat ons dit verdien, het Hy sy ontferming aan ons betoon deur die proses te begin wat op ons weergeboorte uitgeloop het. Nou het ons regtig hoop omdat Jesus Christus uit die dood opgestaan het.(NLV)
Die mense wat dit die eerste keer gelees het, het moontlik gewonder wanneer die Romeine hulle sou kom teer en veer, om by een van die keiser se tuinpartytjies verbrand te word.
In plaas daarvan kom Petrus en gee hulle hoop met 'n boodskap van nuwe lewe. ’n Splinternuwe lewe. Nie net met ‘n soetsappige boodskappie wat sê: "Ek hoop ons sal nie môre ly nie". In plaas daarvan, bring dit nuwe hoop, omdat Jesus Christus uit die dood opgestaan het.
Dit maak nie saak watter teëspoed jou tref nie, daardie hoop kan nie uitgewis word nie, want Jesus het uit die graf opgestaan. Christus het opgestaan. Hy het waarlik opgestaan!
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sun, 31 Mar 2024 - 1142 - Heeltemal Verslaan, Maar Tog…
Psalm 149:4 Die Here se kinders gee Hom groot plesier. Mense sonder status en belangrikheid behandel Hy soos konings wanneer Hy hulle help. (DB)
Paas-Saterdag. Is dit ‘n noemenswaardige dag? Dit is ‘n soort van ‘tussen-in-dag’ tussen die verskriklike gebeure van Goeie Vrydag en die skouspelagtige, wonderlike gebeure van Opstandingsondag.Wat dink jy het die dissipels op daardie eerste Paas-Saterdag gedoen? Net rondgelê en die Sabbatsrus geniet? Het hulle gewag vir die Opstandingsdag sodat hulle kon feesvier? Nee wat, ek betwyfel dit sterk!
Miskien het hulle Jesus se voorspellings dat Hy uit die dood sou opstaan, onthou? Maar heelwaarskynlik was hulle so getraumatiseer deur die gebeure van gister en so bevrees vir hul eie lewens, dat hulle weggekruip het.
’n Paar jaar tevore het Jesus vir hulle gesê dat Hy nederig van hart is. Jare later sou die apostel Paulus aan die kerk in Filippi skryf dat Jesus Homself tot die dood aan 'n kruis verneder het.
Ja, Jesus, die Seun van God, die Skepper van die heelal, het Homself laat kruisig om vir jou en vir my te red. Dit was die grootste daad van nederigheid ooit.
Psalm 149:4 Die Here se kinders gee Hom groot plesier. Mense sonder status en belangrikheid behandel Hy soos konings wanneer Hy hulle help.(DB)
God is konsekwent. Hy is so lief daarvoor om nederigheid te beloon. En hier, op hierdie ‘tussen-in-dag’ tussen Goeie Vrydag en Opstandingsondag, is dit amper asof daardie vers praat van die grootste wonderwerk wat op die punt was om te gebeur.
Die grootste vernedering in die ganse menslike geskiedenis, was op die punt om die grootste oorwinning in alle ewigheid te word, want die Here kroon die nederiges met oorwinning!
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sat, 30 Mar 2024 - 1141 - Hy het dit Vir Jou Gedoen
1 Petrus 3:18 Ons moenie dink dis net ons wat onverdiend ly nie. Ook Christus het só gely toe Hy eens en vir altyd vir ons sondes gesterf het. Hy het nooit enige sonde gedoen nie; tog het Hy vir sondaars gesterf om julle by God te laat tuiskom. Wat sy liggaam betref, het Hy gesterf, maar wat sy gees betref, is Hy lewend gemaak. (NLV)
Wel, hier is ons. Dis die dag wat ons “Goeie Vrydag,” noem. Ja, dis die dag waarop daardie verskriklike, ondenkbare daad plaasgevind het, sodat, die grootste liefdesdaad vir jou en my kon afspeel.Ons het in hierdie dae voor Goeie Vrydag in ons VARS-boodskappe gefokus op ons eie ontoereikendheid, ons sonde. Ons het gepraat oor ons opstand teen God en hoe ons Jesus, wat sy uiterste, sy alles, vir ons gegee het, gereeld faal.
Dit klink alles nogal depressief, nie waar nie? Dit is omdat dit is. Dis verskriklik! Die pikswart duisternis van die bose wat uit ons binneste opkom, die stank van ons sonde in die neusgate van God is so verskriklik, dat dit 'n ontsaglike groot oplossing vereis het.
1 Petrus 3:18 Ons moenie dink dis net ons wat onverdiend ly nie. Ook Christus het só gely toe Hy eens en vir altyd vir ons sondes gesterf het. Hy het nooit enige sonde gedoen nie; tog het Hy vir sondaars gesterf om julle by God te laat tuiskom. Wat sy liggaam betref, het Hy gesterf, maar wat sy gees betref, is Hy lewend gemaak.(NLV)
Die Een wat niks geskuld het nie, het 'n verskriklike dood gesterf om 'n skuld te betaal wat ons nooit kon bekostig om te betaal nie. Die onreg daarvan is totaal en al asemrowend – maar dit wys jou hoe groot God se liefde vir jou en vir my is. Jesus was nie skuldig nie, maar Hy het gesterf vir almal wat skuldig is.
En terwyl Hy daar leweloos aan die Kruis gehang het, was die Gees van God aan die werk. Soos jou sonde en myne saam met Hom gekruisig is, was God gereed om iets nuuts te doen – om ons in die Gees weer lewend te maak. Dit is Paasfees.
En dit is Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Fri, 29 Mar 2024 - 1140 - ‘n Groot Belofte
Johannes 14:12 “Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.
Jesus het dinge gesê en gedoen wat heeltemal "onortodoks," en absoluut onverwags was. Ons staan dikwels in verwondering wanneer ons in die Evangelies van sy lewe lees.Oor die afgelope paar dae het ons gesien hoe die dissipels, sy naaste volgelinge, Hom in die dae wat gelei het tot die kruisiging, in die steek gelaat het. Ja, ons weet, hulle was almal hartstogtelik, ywerig en opgewonde toe Hy die siekes genees het, op die water geloop het en kragtig gepreek het. . .
Maar waar was hulle toe die komplot om Jesus te kruisig al hoe meer bedreigend geword het? Toe hulle eie lewens bedreig was? Toe Jesus deur Pontius Pilatus verhoor is, waar was hulle? Hulle het soos mis voor die son verdwyn. Dit het Petrus, die ou wat net ‘n rukkie vantevore beloof het om tot aan die einde by Jesus te bly, net 'n jong meisie by die vuur gekos om Jesus drie keer te verloën.
Maar Jesus het baie goed geweet dat hulle Hom in die steek sou laat. Vir hierdie mooiweersvriende, vir hierdie klomp liggelowiges, het Hy gesê:
Johannes 14:12 Ek kan julle verseker dat elkeen wat in My glo, dieselfde dinge sal doen wat Ek gedoen het. En hulle sal nog groter dinge doen as wat Ek gedoen het, want Ek gaan na die Vader.
Hy het hulle sonde oorgesien. Vir Hom was hulle mislukkings voor-die-hand-liggend en nie ‘n verrassing nie. Maar, Hy het 'n plan gehad: 'n Plan om aan die Kruis vir hulle sondes te betaal en so vir hulle regspraak voor God te gee; ’n Plan om hulle te seën op maniere wat hulle nooit kon dink nie; 'n Plan om so kragtig deur hulle te werk, dat hul lewens biljoene mense oor tweeduisend jaar en nog verder in die toekoms sal beïnvloed.
Hulle mislukking is ons mislukking. Hulle sonde is ons sonde. Ons is nie anders nie! Wanneer jy dus in die spieël kyk en jou sonde, is al wat jy kan sien, onthou net dat Jesus 'n plan het. Die goeie nuus kom!
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Thu, 28 Mar 2024 - 1139 - Maar dan Struikel Jy
Johannes 18:25-27 Simon Petrus was nog besig om hom te staan en warm maak toe iemand vir hom sê: “Is jy nie tog ook een van sy dissipels nie?” Hy het dit heftig ontken en gesê: “Nee, ek is nie!” Een van die hoofpriester se slawe, verwant aan dié een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou nie ook in die tuin saam met hom gesien nie?” Petrus het dit weer ’n keer heftig ontken en onmiddellik het die haan gekraai. (NLV)
Oor net 'n paar dae sal ons daardie verskriklike dag, "Goeie Vrydag," die dag toe Jesus in die openbaar aan die Kruis vasgespyker is, herdenk. Dis ondenkbaar dat dit destyds toegelaat is om te gebeur!Dit was 'n riller van 'n dag. 'n Onskuldige Man wat net goed gedoen het, is met lang spykers tussen sy speekbeen en ellepyp by elke pols en tussen tussen sy hakskeenspier en kuitbeen in elke been, teen ‘n houtkruis vasgeslaan. Daar het Jesus gehang. Hy het versmoor, aangesien sy tussenribspiere oor baie ure hul spierkrag; die vermoë om uit te sit en saam te trek, verloor het.
Hoekom het sy vriende nie vir Hom opgestaan nie? Waarom het hulle nie 'n beroep op die Romeinse goewerneur, wat Jesus op die ou end onskuldig bevind het, gedoen nie? Die apostel Petrus het immers vir Jesus gesê: “Ek sal my lewe ter wille van U opoffer.”
Maar Jesus het geantwoord: “Ek verseker jou, voordat die haan môre-oggend kraai, sal jy drie maal ontken het dat jy My ken.”
Johannes 18:25-27 Simon Petrus was nog besig om hom te staan en warm maak toe iemand vir hom sê: “Is jy nie tog ook een van sy dissipels nie?”
Hy het dit heftig ontken en gesê: “Nee, ek is nie!”
Een van die hoofpriester se slawe, verwant aan dié een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou nie ook in die tuin saam met hom gesien nie?” Petrus het dit weer ’n keer heftig ontken en onmiddellik het die haan gekraai. (NLV)
Die geluid van daardie haan se kraai was sekerlik vir Petrus soos 'n dolk in sy hart toe hy die Here se woorde onthou het. Dit is die dolk van ons mislukking. Dit is die dolk van ons sonde. Maar wag ‘n bietjie, die goeie nuus kom.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Wed, 27 Mar 2024 - 1138 - Ten Spyte van jou Beste Voornemens
Johannes 13:36-38 Simon Petrus vra Hom: “Here, waarheen gaan U?” Jesus het geantwoord: “Waarheen Ek gaan, kan jy My nie nou volg nie, maar later sal jy My wel volg. ”Petrus sê toe vir Jesus: “Here, waarom kan ek U nie nou reeds volg nie? Ek sal my lewe ter wille van U opoffer.” “Sal jy regtig jou lewe ter wille van My opoffer?” vra Jesus. “Ek verseker jou, voordat die haan môre-oggend kraai, sal jy drie maal ontken het dat jy My ken.” (NLV)
Dit is een ding om goeie voornemens te hê, maar dit is heeltemal 'n ander ding om hulle uit te voer. Daar is nie 'n persoon op hierdie aarde wat nog nooit met die beste bedoelings ‘n wedloop begin het, net om by die eerste hekkie te struikel nie.In die dae voor die Pasga was die atmosfeer in Jerusalem uiters gespanne want almal was bewus van die komplot wat teen Jesus gesmee word. Die dissipels was beangs, aangesien die godsdienstige leiers, kop in een mus met die Romeinse oorheersers was. Wat hulle nog meer ontstel het, was dat Jesus self vir hulle gesê het dat Hy hulle gaan verlaat.
Johannes 13:36-38 Simon Petrus vra Hom: “Here, waarheen gaan U?”
Jesus het geantwoord: “Waarheen Ek gaan, kan jy My nie nou volg nie, maar later sal jy My wel volg.”
Petrus sê toe vir Jesus: “Here, waarom kan ek U nie nou reeds volg nie? Ek sal my lewe ter wille van U opoffer.”
“Sal jy regtig jou lewe ter wille van My opoffer?” vra Jesus. “Ek verseker jou, voordat die haan môre-oggend kraai, sal jy drie maal ontken het dat jy My ken.” (NLV)
Petrus het ‘n suiwer motief gehad toe hy gesê het dat hy bereid is om tot aan die bitter einde saam met Jesus te staan. Jy ken dalk die res van die storie. Hy het klaaglik misluk. Ons sal môre daarna kyk.
Maar miskien kan jy makliker hiermee assosieer: Jy het die beste voornemens gehad om Jesus te volg, maar toe dit moeilik geword het; toe jy teenkanting beleef het en toe jy tot jou ontsteltenis ontdek het, dat dáár waarheen Jesus op pad was, jy Hom nie kon volg nie.
En daardie skuldgevoel, daardie diep gevoel van ontoereikendheid toe jy misluk het, is selfs vererger deur jou aanvanklike opregte goeie bedoelings. Maar moenie moed verloor nie. Die goeie nuus kom, my vriend. Die goeie nuus kom.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Tue, 26 Mar 2024 - 1137 - Daardie Diepgewortelde Skuldgevoel
Romeine 3:23,24 Ons het immers almal gesondig. Ons almal het God beroof van die eer wat Hom toekom. Maar nou spreek God ons in sy genade vry op grond van die verlossing wat Christus Jesus vir ons verkry het – en dit sonder enige verdienste van ons kant. (NLV)
Ons het elkeen herkenbare eienskappe wat natuurlik daar is, omdat dit in ons DNA geënkodeer en van geslag tot geslag oorgedra is. Maar daar is nog iets wat ons geërf het, wat dalk nie heeltemal so voor die hand liggend is nie: 'n diepgewortelde skuldgevoel.Jy dink waarskynlik nou by jouself, ek kan nie dink dat ek al ooit só skuldig gevoel het nie. Dit is dalk waar, maar weet jy, ek sal verbaas wees as jy nie ten minste van tyd tot tyd 'n gevoel van ontoereikendheid ervaar het nie. Ek praat van daardie diep gevoel, wat as gevolg van die manier waarop ons denke oor baie jare in 'n individualistiese en selfsugtige wêreld, verander het. En dit kom, net met 'n ander geur, uit dieselfde wortel van skuld.
Daar is 'n rede daarvoor. Dit is omdat die vlek van sonde, van rebellie teen God, ook van geslag tot geslag aan ons oorgedra is. Ons lees in:
Romeine 3:23 Ons het immers almal gesondig. Ons almal het God beroof van die eer wat Hom toekom.
Jy kan nie daarvan wegkom nie. Dit is waarom daardie skuldgevoel, of ontoereikendheid, so deel van ons is. Ons almal is sondaars. Nie een van ons leef tot God se eer nie.
Romeine 3:24 Maar nou spreek God ons in sy genade vry op grond van die verlossing wat Christus Jesus vir ons verkry het – en dit sonder enige verdienste van ons kant. (NLV)
Wanneer jy kies om in Jesus te glo, sal die gratis gawe van God se genade, wat op die bloedbevlekte Kruis gekoop is, die skuld wegwas, want die prys wat Jesus vir jou betaal het, spreek jou jou vry van God se toorn. Dit is 'n gratis geskenk! Hoe kan ons dit weet? Want …
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Mon, 25 Mar 2024 - 1136 - Wanneer die Heilige Gees ons Verlaat
2 Korintiërs 3:6 Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het om bedienaars van 'n nuwe verbond te wees, nie van die letter nie, maar van die Gees. Die letter maak dood, die Gees maak lewend.
Sê my, wat is die verskil tussen om die reëls te volg en om Jesus te volg? Hoekom kan ons nie eers die padreëls gehoorsaam nie, en tog verander alles wanneer ons Jesus volg?Deur die geskiedenis van die mensdom het mense probeer om boosheid te oorwin – die boosheid van ander mense, maar ook die boosheid wat noodgedwonge uit ons eie sondige harte kom.
En ons weet dat deur die jare heen, mense se planne misluk het. Hulle het allerhande dinge probeer. Verskillende regeringsvorme - van tirannie tot demokrasie; verskillende ekonomiese ordes - van kommunisme tot kapitalisme; selfs 'n spul godsdienstige oplossings - selfs die Christendom. Nie een van hulle het gewerk nie. En daar is 'n rede daarvoor. Nie een van hulle was ooit veronderstel om te werk nie!
2 Korintiërs 3:6 Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het om bedienaars van 'n nuwe verbond te wees, nie van die letter nie, maar van die Gees. Die letter maak dood, die Gees maak lewend.
Met ander woorde, wette is nie die antwoord nie. Hulle bring net mislukking - dood. Maar die Gees – God die Heilige Gees – gee lewe. Dis hoekom ou, wettiese godsdienste nog nooit vryheid en lewe gegee het nie, en weet jy, dit sal ook nooit nie!
Die popster, Bono van U2, het dit so gestel: wanneer die Heilige Gees ons verlaat en nie meer daar is nie, is godsdiens al wat oorbly.
God het vir Jesus gestuur om te sterf om vir ons sonde te betaal. Maar Jesus het weer opgestaan om ons 'n nuwe lewe en sy Heilige Gees te gee. Hierdeur het Hy sy lewe in ons geblaas op 'n manier wat nooit kan gebeur as ons blote reëls volg nie.
Die letter maak dood, die Gees maak lewend.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sun, 24 Mar 2024 - 1135 - Wette Los nie Probleme Op Nie
Romeine 8:3,4 Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel. Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees.
As jy mooi kyk na hoe regerings oor die algemeen wetgewing formuleer en uitvaardig, sal jy vind dat dit grootliks reaktief is. Iemand doen iets waarvan hulle nie hou nie, daarom maak hulle 'n wet daarteen. Los dit die probleem op?Ten spyte van al die wette wat ons in die wetboeke het en ten spyte van al die nuwes wat ons elke jaar in reaksie op die boosheid wat daar buite gepleeg word, maak … was boosheid nog nooit so ‘n groot probleem as vandag nie.
Daar was nog nooit soveel mensehandel in die wêreld as wat daar vandag is nie. Daar was nog nooit soveel huishoudelike geweld nie. Daar was nog nooit soveel kindermishandeling nie. Die skemas om mense van hul geld te beroof was nog nooit so tegnologies slim of gesofistikeerd soos vandag nie. Wat gaan aan?
Romeine 8:3,4 Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel. Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees.
Jy kan nooit genoeg wette skep om boosheid te beheer nie, want die boosheid slaan nie ag op enige wette nie. Dit is die probleem. Die oplossing?
God het Jesus gestuur om 'n offer vir ons sonde te wees. Dit het sy Seun se lewe gekos om ons sonde te vernietig, om ons te vergewe en om ons die reg te gee om in vryheid te kan lewe.
Die wet kan dit nie vir jou doen nie. Net Jesus kan.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sat, 23 Mar 2024 - 1134 - Die Definisie van Mislukking
Lukas 12:20,21 Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’ So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.”
Het jy al ooit hard gewerk en baie opgeoffer om iets te bereik, maar toe jy uiteindelik suksesvol is, het jy ontdek dat dit leeg, en hol voel, dat dit glad nie is hoe jy verwag het dit sou voel nie?Ek ken daardie gevoel baie goed. Vir die eerste helfte van my lewe was my doel om ryk en beroemd te word. Ek was stewig op pad; ek het 'n spoggerige kar gery, in 'n spoggerige huis gebly en ek was in my beroep gerespekteer. Maar weet jy, die leegheid van al die sukses was ondraaglik.
As ek terugkyk, lyk dit vir my of die definisie van mislukking eintlik is om te slaag in iets wat nie saak maak nie. Dit is juis dié betekenis wat Jesus in die gelykenis van die ryk dwaas wil oordra.
Hierdie man se grond het soveel geproduseer dat hy sy silo's moes platslaan en groteres moes bou om dit alles te stoor. Op grond van sy wonderlike sukses het hy tot die gevolgtrekking gekom, net soos baie mense vandag ook geneig is om te doen: ek het genoeg gespaar om vir baie jare te hou. Ek kan nou rus, eet, drink en die lewe geniet!
Lukas 12:20,21 Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’ So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.”
So ‘n sot! Hy het sy rykdom opgegaar, maar hy het geen idee gehad dat hy binnekort die tydelike met die ewige gaan verwissel nie. En net daar is 'n uitdaging vir elkeen van ons: Hoe kan ek meer vrygewig wees? Hoe kan ek meer in God se koninkryk saai?
Dit is moeilike vrae, maar Jesus maak dit baie duidelik dat die een wat met sy banksaldo grootliks onaangeraak aan die einde van sy lewe kom … is nie die wenner nie.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Fri, 22 Mar 2024 - 1133 - ‘n Plan Vir Môre
Lukas 12:16-19 Toe vertel Hy hulle 'n gelykenis: “'n Ryk man se grond het goed gedra. Hy het toe by homself gedink: wat moet ek doen? Ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie. Toe besluit hy: dit sal ek doen: Ek sal my skure afbreek en groter bou. Daarin sal ek al my graan en my ander goed opgaar. Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’
Dit is regtig snaaks, dat alhoewel ons weet dat ons eendag van hierdie lewe na die volgende sal oorgaan, leef ons daagliks asof ons vir ewig op hierdie aarde gaan lewe. Ons het planne vir môre, vir volgende week, vir volgende maand en selfs vir volgende jaar. Maar eendag sal elkeen van daardie vooruit- beplande-inskrywings in ons dagboeke heeltemal betekenisloos word.Die vraag wat ons onsself dus moet afvra, is dit: Is ek gereed om te gaan? Wel, is jy? Want hoewel ons almal hoop om 'n lang en gesonde lewe te lei, is dit dalk glad nie God se plan nie.
Onthou jy Jesus se gelykenis van die ryk dwaas wie se lande oorvloedig geproduseer het?
Lukas 12:17-19 Toe vertel Hy hulle 'n gelykenis: “'n Ryk man se grond het goed gedra. Hy het toe by homself gedink: wat moet ek doen? Ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie. Toe besluit hy: dit sal ek doen: Ek sal my skure afbreek en groter bou. Daarin sal ek al my graan en my ander goed opgaar. Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’
Kyk na sy taal – dis die ene ‘ekke’! Ek, ek, ek … Wat 'n groot sukses het ék geword! Ék sal doen wat die wêreld my geleer het om te doen, ék sal my rykdom opgaar, ék sal 'n goeie lewe lei en ék sal myself gelukkig maak.
Ja my vriend, die ou het 'n plan gehad vir alles in sy lewe, behalwe vir die ewigheid. Ons sal môre sien hoe dit vir hom uitgewerk het, maar kan ek jou maar die volgende vra: is jy gereed om te gaan? Is jy gereed om jou Maker te ontmoet?
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Thu, 21 Mar 2024 - 1132 - Heeltemal Waardeloos
Lukas 9:25,26 “Wat help dit 'n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan? Elkeen wat hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom, beklee met sy heerlikheid en die heerlikheid van die Vader en van die heilige engele.
Die aanloklikheid van al die dinge wat geld kan koop, word by die dag groter. Ons ekonomiese stelsels word al hoe vaardiger om ons van ons swaarverdiende geldjies te skei.Slimfone, motors met verhitte en lugversorgde sitplekke, ontwerperskoene, vyfster-avonture … enigiets en nóg wat, is teen ’n prys joune.
My ma het 'n relatief eenvoudige lewe gelei. Sy het nie veel gehad nie, maar toe sy oorlede is, was dit my verantwoordelikheid om haar goedjies op te pak. Ons het so 'n paar goed gehou, maar die meeste het na die stortingsterrein gegaan. Dit laat jou diep nadink oor die goed wat jy het. Is jy te geheg daaraan? Wil jy dalk nog meer daarvan hê? In watter mate het jou besittings die verloop van jou lewe bepaal?
Lukas 9:25,26 “Wat help dit 'n mens as hy die hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan? Elkeen wat hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom, beklee met sy heerlikheid en die heerlikheid van die Vader en van die heilige engele.
Tot op 'n stadium het ons almal goed nodig, maar ons kan so vasgevang in die versameling daarin raak, so gedrewe wees om meer aan te skaf, dat Jesus ewe skielik die agterste sitplek in ons lewens moet inneem. En soos ons meer gedryf word deur ons besittings en dit wat ons nog wil kry, leef ons ons lewens al hoe minder vir Hom. Ons raak selfs skaam om ter wille van Hom anders te wees.
Moenie dat dit met jou gebeur nie. Al daardie goed sal niks werd wees op daardie dag wanneer jy in sy heiligheid voor Hom staan nie.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Wed, 20 Mar 2024 - 1131 - Dinge Wat Jesus Nooit Gesê Het Nie
Lukas 9:23,24 Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg, want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou.
Die storie waarmee die wêreld ons deesdae wil indoktrineer, gaan basies so: leef 'n goeie lewe en wees gelukkig. Dit klink nogal goed, maar daar is 'n gevaarlike angel daar.Nouja, dink ek dat God ons wil seën? Een honderd persent! Absoluut! Soos enige liefdevolle vader, wil Hy die beste vir sy kinders hê.
Maar, as jy die idee van God se seën verander – eintlik verdraai – deur dit te vermeng met die selfgesentreerde storie waarmee die wêreld met ons koppe smokkel, sal jy uiteindelik heeltemal in die verkeerde rigting beweeg.
Wees versigtig vir die vyand se stories. Hier is 'n paar dinge wat Jesus nooit gesê het nie: Luister na jou hart. Wees getrou aan jouself. Vertrou jou instink. Voel goed oor wie jy is. Geluk is wat saak maak. Wees net 'n goeie mens.
So bekend en aantreklik as wat hierdie stories mag klink, sal jy nie enige van daardie idees vind in dít wat Jesus vir ons geleer het nie. Maar hier is iets wat Jesus wel gesê het.
Lukas 9:23,24 Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg, want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou.
Dit, my vriend, is heeltemal die teenoorgestelde van wat die wêreld jou oor jou lewe sal vertel. Elkeen van ons moet ’n keuse maak. Wees gelukkig en voel goed oor jouself, of wees net 'n goeie mens ... of neem jou kruis op en volg Jesus.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Tue, 19 Mar 2024 - 1130 - ‘n Weerspieëling van Jou Geloof
2 Korintiërs 3:17,18 Die Here” beteken hier “die Gees”, en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid. Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.
Ons geloof, joune en myne, bestaan nie in afsondering nie. Dit word beïnvloed deur ons omstandighede, die samelewing; en dít wat om ons aangaan. Ons geloof is veronderstel om deel van die alledaagse lewe te wees … en dit plaas ons in 'n effense verleentheid.Nouja, hier is die vraag wat ek dink ons onsself gereeld moet afvra: Is my geloof 'n weerspieëling van my kultuur, my politieke sienings, my sosio-ekonomiese omstandighede, of weerspieël my geloof Jesus in die wêreld? Met ander woorde, hoe werk dit in my lewe?
Vir baie mense werk dit verkeerd om. Die geloof van baie Christene word méér deur politiek en geld gevorm as wat enigeen ooit sou wou erken. Wat dink jy? Hier is die manier waarop jou geloof veronderstel is om te werk:
2 Korintiërs 3:17,18 Die Here” beteken hier “die Gees”, en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid. Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.
Met ander woorde, eerder as om deur heersende sosiale tendense en die vervalle moraliteit, wat daarmee gepaard gaan, gevorm te word, is ons veronderstel om deur God getransformeer te word om meer en meer soos Hy te wees. Ongelukkig gebeur die teenoorgestelde in baie Christene se lewe.
En as jy deur God getransformeer is, sal sy heerlikheid meer en meer, as 'n weerspieëling van ons geloof, eerder as ‘n afgewaterde beeld van dít wat daar buite gebeur, uit ons straal. Ons wys vir almal die Here se heerlikheid, en ons word verander om soos Hy te wees.
Dit is hoe dit veronderstel is om te werk, en …
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Mon, 18 Mar 2024 - 1129 - Jou Getuigskrif
1 Johannes 3:17,18 Iemand wat ryk is aan aardse lewensmiddele en sy broer of suster sien gebrek ly, maar weier om ’n helpende hand uit te steek – hoe is dit moontlik dat die liefde van God in daardie persoon woon? Kinders, laat ons nie liefhê met woorde of gepratery nie, maar eerder deur ons optrede, en met opregte bedoelings.(NLV)
Kan ek jou gou ‘n vraag vra: hoe ryk is jy? Want as jy oor die basiese lewensbehoeftes beskik – water, kos, klere en huisvesting – dan is jy in elk geval ryker as wat jy dalk dink!Ek het gister die ervaring wat ek gehad het om 'n melaatse kolonie in 'n uithoek van Tanzanië te besoek, genoem. Hierdie mense woon in bouvallige geboue wat voorheen 'n stoordepot was.
Ek is gevra om daar 'n kort boodskap te deel en dan 'n koekie seep - so 'n basiese item - in elkeen van hul misvormde, knoestige en in sommige gevalle vingerlose hande, te plaas.
Jy kan nie onaangeraak van so 'n ervaring wegstap nie. Toe ek by die huis teruggekom het, het ek en my vrou ernstig herbesin oor ons plig teenoor die armes. Hoe anders kan jy reageer?
1 Johannes 3:17,18 Iemand wat ryk is aan aardse lewensmiddele en sy broer of suster sien gebrek ly, maar weier om ’n helpende hand uit te steek – hoe is dit moontlik dat die liefde van God in daardie persoon woon? Kinders, laat ons nie liefhê met woorde of gepratery nie, maar eerder deur ons optrede, en met opregte bedoelings.(NLV)
Aartsbiskop Desmond Tutu het eenkeer gesê: Elke kerk (en ek wil daarby voeg, elke gelowige) behoort 'n getuigskrif van die armes in hul gemeenskap te kan kry."
Dit is nie 'n onredelike stelling nie. Die wyse waarop ons aan die armes gee, is een van die duidelikste bewyse van die realiteit (of afwesigheid) van God se liefde in ons harte.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sun, 17 Mar 2024 - 1128 - Die Rykdom van sy Heerlikheid
Filippense 4:19 Omdat Christus Jesus dit verdien het, sal my God uit sy heerlike rykdom vir julle voorsien in elke behoefte wat julle het. (NLV)
In 'n wêreld wat al hoe meer welvarend word, word dit vir ons moeiliker en moeiliker om 'n grens tussen ons behoeftes en ons begeertes te trek. Ja, en ons raak so maklik deurmekaar met die twee wanneer ons bid.Waar ek woon, beskou die meeste mense 'n warm stort as 'n fundamentele mensereg. Hoe kan jy die dag daarsonder begin?
Dit was beslis my siening, totdat ek die eerste keer ware armoede teëgekom het in 'n dorpie genaamd Halia in Indië. En toe weer, in 'n melaatse kolonie in Tanzanië, toe ek koekies seep in die misvormde hande van mense wat vingers verloor het, geplaas het.
Daardie ervarings is geneig om jou onderskeiding tussen behoeftes en begeertes te verskerp. Maar in die afwesigheid van daardie soort duidelikheid, wonder ek of ons al te dikwels na God gaan en Hom smeek om in basiese behoeftes te voorsien, wanneer ons in werklikheid oor ons begeertes praat.
Die apostel Paulus het baie goed verstaan wat die onderskeid tussen sy behoeftes en begeertes was. Hy skryf hierdie woorde, uit sy dodesel:
Filippense 4:19 Omdat Christus Jesus dit verdien het, sal my God uit sy heerlike rykdom vir julle voorsien in elke behoefte wat julle het.(NLV)
God voorsien in die behoeftes van sy mense. Ja, Paulus was in boeie. Hy is uiteindelik tereggestel. Hy is nou vir alle ewigheid in God se Teenwoordigheid.
Ons kan onsself soms in ons eie tronk bevind, en op daardie plek sal ons God ons elke behoefte ten volle bevredig. Nie op 'n suinige manier nie, maar uit sy heerlike rykdom in Christus. Dis wie Hy is. Maar laat ons nie vir een oomblik ons behoeftes met ons begeertes verwar nie.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sat, 16 Mar 2024 - 1127 - Vervulling vir Jou Siel
Psalm 63:6-9 U versadig my meer as die rykste kos. Met vreugdeliedere sal ek U loof. As ek op my bed lê en aan U dink, oor U nadink in die nag, onthou ek hoe U my gehelp het. Dan wil ek sing in die skaduwee van u vleuels. Ek is aan U verbind u regterhand hou my staande. (NLV)
Tevredenheid. Bevrediging. Vervulling. Daardie drie woorde spreek van volledigheid, van welstand, van die lewe wat elkeen van ons so graag wil hê … maar van ‘n lewe wat die meeste mense nooit smaak nie.Ek wonder of jy my vir 'n oomblik sal vergewe, maar dis vandag my vyf en sestigste verjaardag. Dis vyf en sestig jaar sedert ek, op die 15de Maart 1959 gebore is! Ek is nou ouer as 90% van die mense wat vandag op die planeet lewe.
Dit beteken ook dat ek oor die jare baie lewenservaring opgedoen het. My grys hare getuig daarvan, nè? Ja, my oë het baie gesien, my verstand het baie gewerk, my hart het gejuig en ook baie gely.
En met al die water wat in my leeftyd in die see geloop het, kan ek uit ondervinding vir jou sê dat al die rykdom, al die sukses en selfs al die beroepserkenning onder die son, nie vir ons tevredenheid, bevrediging en vervulling kan gee nie. Daar is net Een wat kan:
Psalm 63:5-8 U versadig my meer as die rykste kos. Met vreugdeliedere sal ek U loof. As ek op my bed lê en aan U dink, oor U nadink in die nag, onthou ek hoe U my gehelp het. Dan wil ek sing in die skaduwee van u vleuels. Ek is aan U verbind u regterhand hou my staande. (NLV)
Koning Dawid het hierdie Psalm in die barre woestyn van Judea geskryf. Voorwaar 'n onherbergsame plek. Dit is blykbaar ‘n goddelose plek. En tog, was dit op daardie plek waar sy siel, soos met 'n ryk feesmaal, versadig is.
Tevredenheid. Bevrediging. Vervulling. Op Een plek. By God self.
My siel kleef aan Hom; Sy regterhand hou my vas.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Fri, 15 Mar 2024 - 1126 - Verwag Groot Dinge!
Psalm 126:1-6 Toe die Here die bannelinge teruggebring het na Sion toe, was dit vir ons soos ’n droom. Ons het toe gelag en van vreugde gesing. Die ander nasies het gesê: “Die Here het groot dinge vir hierdie mense gedoen. ”Die Here het groot dinge vir ons gedoen en ons is vol vreugde! Verander tog ons lot, Here, soos strome in die Suidland. Hulle wat met trane saai, sal met vreugde maai. Hulle wat met trane die saadsak loop en dra, sal beslis sing van vreugde wanneer hulle die gerwe dra. (NLV)
Ek wonder of ons, wanneer ons bid, nie soms met baie lae verwagtinge na God gaan nie? Hoor Hy my regtig? Gee Hy waarlik om? Is Hy selfs daar? Lae verwagtinge inderdaad.Moet my asseblief, nie verkeerd verstaan nie. Ek kom nie uit die "noem-dit-en-eis-dit" of "sê-dit-en-gryp-dit" skool van gebed nie, want in alle dinge is God soewerein; sy wil sal geskied. Nietemin is die Skrif vol voorbeelde van gebede met baie hoë verwagtinge. Hier is net een daarvan:
Psalm 126:1-6 Toe die Here die bannelinge teruggebring het na Sion toe, was dit vir ons soos ’n droom. Ons het toe gelag en van vreugde gesing. Die ander nasies het gesê: “Die Here het groot dinge vir hierdie mense gedoen. ” Die Here het groot dinge vir ons gedoen en ons is vol vreugde! Verander tog ons lot, Here, soos strome in die Suidland. Hulle wat met trane saai, sal met vreugde maai. Hulle wat met trane die saadsak loop en dra, sal beslis sing van vreugde wanneer hulle die gerwe dra. (NLV)
Kyk, ek stel nie vir een oomblik voor dat God na ons pype moet dans of elkeen van ons grille en giere moet vervul nie. Dit sal belaglik wees. Tog skep daardie Psalm inderdaad hoë verwagtinge. Iets wat, die 19e eeuse, Suid-Afrikaanse prediker, Andrew Murray, eenkeer geskryf het, gee kosbare raad:
Word eers stil en aanbid God in sy heerlikheid elke keer voordat jy vir ander mense en sake wil intree. Dink aan wat Hy kan doen en hoe Hy dit geniet om die gebede van sy verloste mense te verhoor. Dink aan jou posisie en voorreg om aan Christus te behoort en verwag groot dinge.
Maghulle wat met trane saai, sing van vreugdewanneer hulle oes inkom.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Thu, 14 Mar 2024 - 1125 - Praat Openlik van die Kruis
Handelinge 4:11,12 Hy is: ‘Dié klip wat deur julle bouers geminag is; Hý het nou die sluitklip geword. “Daar is geen verlossing by iemand anders nie. Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om verlos te word nie.”
Die rede waarom ek doen wat ek doen; die ding wat my elke oggend uit die bed laat opstaan, is 'n intense begeerte om soveel mense as moontlik van Jesus te vertel. Ongelukkig wil baie mense, ja, die meeste van hulle, nie van Jesus hoor nie.Enigeen wat die wonder van God se genade in Jesus ervaar het, sal waarskynlik die begeerte hê om dit met ander mense te deel; sodat hulle ook die liefde van God in Jesus Christus kan leer ken.
Maar, het jy opgelet dat die meeste mense nie belangstel nie. Ons raak dan half desperaat en kom in die versoeking om die Evangelie af te water. Ons probeer dit ‘n bietjie minder bedreigend maak, deur al die dele van sonde en straf, en van vergifnis in Christus aan te pas. Dit is immers vir baie mense ‘n struikelblok. Dit was al van die begin af vir mense ‘n uitdaging.
Die apostel Petrus het in sy preek aan daardie selfde mense wat Jesus uit die pad wou hê; hulle wat Hom laat kruisig het, die volgende gesê:
Handelinge 4:11,12 Hy is: ‘Dié klip wat deur julle bouers geminag is; Hý het nou die sluitklip geword. “Daar is geen verlossing by iemand anders nie. Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om verlos te word nie.”
Baie mense het Jesus van die begin af verwerp. Maar die antwoord lê nie daarin om die Evangelie af te water en verbruikersvriendelik te maak nie.
Soos Charles Spurgeon eenkeer gesê het: My liewe broers, moenie probeer om die Evangelie vir die vleeslike verstand verteerbaar te maak nie. Moet nie die gruwel van die kruis versag nie, want dan maak jy dit betekenisloos. Die seer en swaar van die Evangelie is die krag daarvan: om dit weg te laat, is om dit van sy krag te ontneem. Om dit te versag, sal nie die trefkrag verhoog nie, maar dit vernietig.
Mense sal die Goeie Nuus van Jesus verwerp, maar jy moet dit nooit afwater om hulle te probeer oortuig nie. Wanneer jy dit doen, beroof jy dit van sy krag.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Wed, 13 Mar 2024 - 1124 - Die Liefde Vergaan Nooit
1 Korintiërs 13:8,13 Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe van profesie sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van kennis sal uitgedien raak.
En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!
Ons het 'n wonderlike vermoë om te fokus op die dinge wat op die ou end glad nie saak maak nie. En as hulle op die lange duur nie saak maak nie, moet jy jouself afvra: is die dinge dan werklik belangrik? Moet hulle nou regtig vir my saak maak?Een van my vriende se vrou, het op ‘n dag, toe hul kinders al groot was, hom ingelig dat sy hom gaan verlaat. Sy het geen spesifieke rede verskaf nie. Sy wou net 'n nuwe lewe begin.
Terwyl hy besig was om sy goedjies in sy huis op te pak en al die besittings wat vir hom kosbaar is, in bokse te pak, was hy moedeloos. Maar sy bejaarde pa het hom wyse raad gegee: "Seun," het hy gesê, "dit is net aardse goed."
Het jy al ooit stil gesit om te dink hoe belangrik dinge, wat nie regtig saak maak nie, vir jou geword het? Jy laat toe dat jou loopbaan, jou vermoëns, jou reputasie … en jou besittings … jou fokus word; terwyl jy die Een ding, wat hulle almal sal oorleef, die Een wat Ewig is, afskeep en toelaat om te verwaarloos.
1 Korintiërs 13:8,13 Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe van profesie sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van kennis sal uitgedien raak. En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!
Terwyl jy jou pad deur die lewe na jou uiteindelike bestemming loop, smeek ek jou om nie ten koste van die Ewige, op die tydelike te fokus nie; om nie toe te laat dat die Belangrikste deur die onbelangrike verdring word nie; om nie toe te laat dat Liefde deur goed verplaas word nie.
Jy weet tog, dat al daardie ander dinge tot 'n einde sal kom. Maar Liefde, die grootste van alle dinge, sal nooit eindig nie. Leef 'n lewe van liefde.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Tue, 12 Mar 2024 - 1123 - Ongelooflik, Wonderlike Genade
Johannes 1:16 Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.
Genade is deesdae 'n seldsame kommoditeit. Die wêreldstelsel verwag van jou om te konformeer en te presteer. Dit verwag van jou om jou ou klein rolletjie as 'n onbeduidende ou ratjie in sy masjien te speel.As dit net 'n bietjie te verdoemend klink, kyk maar om jou rond. . . Hoe vergewensgesind is ons sosiale stelsels en jou sogenaamde ‘rolmodelle’ teenoor jou? Hoe gereeld sien mense jou mislukkings oor die hoof? Hoe gereeld prys iemand jou? Moedig iemand jou dikwels aan?
Nee my vriend, dit is 'n onvergewensgesinde wêreld waarin ons leef. Konformeer, presteer of gee pad. Ja-nee, genade kan jy nie sommer agter elke bos uitskop nie ... daar is net een plek – by Jesus.
Johannes 1:16 Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.
Dit is inderdaad sterk gestel. Ten spyte van al ons foute, ten spyte van ons rebellie, inderdaad as gevolg daarvan, het God vir Jesus gestuur sodat Hy sy genade, sy onverdiende guns, weer en weer en weer oor ons kon kom uitstort.
Soos Billy Graham eenkeer gesê het: God neem die swakkes en maak hulle sterk. Hy neem die verfoeilikes en maak hulle skoon. Hy neem die geringes en maak hulle kosbaar. Hy neem die sondiges en maak hulle sondeloos.
Dit is verskriklik maklik om die woord, "genade" so gereeld en so maklik af te rammel, dat ons die grootsheid daarvan, sy heerlikheid, die ewige gevolge van oorvloedige seën in ons lewens, uit die oog verloor.
Kan ek jou vandag aanmoedig om na Jesus te kyk, om in sy Teenwoordigheid te wees, om oorweldig te word en om van Hom genade, op genade, op genade te ontvang.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Mon, 11 Mar 2024 - 1122 - Geloof en Vertroue
Hebreërs 11:1 Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.
Hou jy ook daarvan om by mense wat ‘n gevoel van rustige selfvertroue en van stille tevredenheid uitstraal, te kuier? Om by hulle te wees, laat jou sommer beter oor jouself voel. Wat is anders aan daardie mense?Ek kan aan 'n halfdosyn sulke mense in my lewe dink. Ten spyte van alles wat hulle deurgemaak het - en sommige van hulle is al deur baie groot uitdagings - lyk dit of niks hulle ontwrig nie. Net om aan hulle te dink, voed my siel.
Toe ek hulle vrae gevra het en ek antwoorde van hulle geëis het, was daar een ding wat soos ‘n paal bo water uitgestaan het. Hulle geloof. Hulle praat dikwels van hul geloofsreis. Kom ons kyk na die woord ‘geloof’. Hoe definieer jy dit? Hoe maak jy dit jou eie?
Hebreërs 11:1 Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.
Daar is dit: geloof en sekerheid. Vertroue in dit waarvoor ons hoop, versekering oor wat ons nog nie sien nie. Hoe kan dit werk?
Die antwoord is eenvoudig: wanneer jou hoop in Jesus is, dan is dit nie 'n wankelende hoop nie; dan is dit nie 'n onsekere hoop nie; dan is dit nie 'n hoop wat verdamp die oomblik wat die druk toeneem nie.
Hoop in Jesus is 'n rotsvaste, sekere hoop. Jy kan staatmaak daarop dat al die dinge wat Hy in die Bybel beloof, vertrou kan word. Hy is altyd getrou. Hy is 'n ewige Rots waarop ons kan staan.
Die sleutel tot daardie rustige selfvertroue en stille tevredenheid, wat sekere mense uitstraal, is 'n noue wandel met Jesus. Want hoe meer jy Hom leer ken, hoe meer groei jou geloof en hoe groter sal jou geloof en vertroue in Hom wees.
Geloof is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sun, 10 Mar 2024 - 1121 - Knorrigheid is Aansteeklik
1 Korintiërs 13:5 om nie ongeskik te wees nie, maar jou so te gedra dat ander nie ongemaklik saam met jou voel nie; om nie net heeltyd aan jouself en jou eie voordeel te dink nie; om nie sommer vir niks kwaad te word nie, en om nie elke liewe dingetjie wat iemand verkeerd doen te onthou sodat jy hom kan terugkry nie. (DB)
Party dae, is ek knorrig en iesegrimmig. Jy het sekerlik ook dae wat jy knorrig is! Weet jy, knorrigheid is aansteeklik. Hopelik gebeur dit nie te gereeld nie, maar ons weet dit gebeur. Hoe tree jy op as jy knorrig is? Hoe voel dit vir diegene rondom jou?Ons weet almal hoe dit voel om in die geselskap van 'n nors persoon te wees. Dit is nie so lekker nie, nè? Trouens, as ons enigsins Mnr of Mev Iesegrim kan vermy, is dit wat ons doen.
Maar ons dink selde aan hoe dit vir ander mense voel as ons die knorrige een is. Al wat ons weet, is dat ons in 'n vieslike bui is en dat hulle uit ons pad uit moet kom. Enige gevoel van selfbeheersing wat ons dalk gehad het, het met die noorderson verdwyn. Nouja, net ingeval jy jouself in die nabye toekoms in een van daardie buie bevind, kom ons kyk hoe dit strook met:
1 Korintiërs 13:5 om nie ongeskik te wees nie, maar jou so te gedra dat ander nie ongemaklik saam met jou voel nie; om nie net heeltyd aan jouself en jou eie voordeel te dink nie; om nie sommer vir niks kwaad te word nie, en om nie elke liewe dingetjie wat iemand verkeerd doen te onthou sodat jy hom kan terugkry nie. (DB)
Net daar het jy die vier primêre simptome van norsheid: onbeskoftheid, selfsug, humeurigheid en onvergewensgesindheid. Ja, onvergewensgesindheid is seker die mees algemene een. Ons klou so graag vas aan daardie gevoel dat daar ‘n onreg aan ons gedoen is.
Herken jy hierdie simptome in jou lewe wanneer jy knorrig is?
Maar my vriend, ons lees in die Bybel dat die liefde nie so is nie. Dit is nie onbeskof nie, dit is nie selfsugtig nie, dit word nie maklik kwaad nie en dit fokus nie weer en weer op die verkeerde dinge wat ander mense aan ons gedoen het nie.
Dit is Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sat, 09 Mar 2024 - 1120 - Wag Daarvoor
Jesaja 30:18 Tog wag die Here gretig dat julle terugkom na Hom toe. Hy wil genade aan julle bewys. Die Here is ’n God wat regverdig is. Hy seën die mens wat op Hom vertrou vir hulp.
Ons het in die weermag 'n gesegde gehad: “Maak gou en wag.” Dit het gelyk of ons altyd aangejaag word om betyds iewers te wees, net om ure lank te staan en wag vir iets om te gebeur.Ag nou ja, ons weet almal dat daardie "maak gou en wag"- irritasie nogal baie in die lewe voorkom. Jy voel onder druk om iewers te kom, om iets te doen … en net daar word jy, deur omstandighede buite jou beheer, vertraag.
In ons 24/7 aanlyn-digitale-wêreld verwag ons dat dinge onmiddellik moet gebeur. Hoe tree jy op wanneer jy vir ‘n halfuur lank na 'n oproepsentrum se ‘ons-is-nou-by-u’ boodskap moet luister? Ja, ons weet. Ons is nie meer so geduldig om vir dinge te wag nie.
En tog, om redes wat net aan Homself bekend is, is die idee om te wag vir God belangrik. Nie die soort wat ons laat murmureer, terwyl ons na daardie herhalende boodskappe luister nie, maar dié soort wat ons geduld bou, wat 'n ontvanklike hart in ons kweek.
Jesaja 30:18 Tog wag die Here gretig dat julle terugkom na Hom toe. Hy wil genade aan julle bewys. Die Here is ’n God wat regverdig is. Hy seën die mens wat op Hom vertrou vir hulp.
Ja, terwyl ons wag vir 'n antwoord op gebed, wag Hy ook. Hy wag om genade aan ons te betoon. Hy wil ons seën. Nou waarvoor wag Hy?
Ons kan nie heeltemal seker wees nie, maar ek is redelik seker Hy wag vir die regte tyd, sy tyd, die tyd wanneer ons hart uiteindelik gereed is. Hy sal die regte ding op die regte tyd doen. Hy sal elkeen seën wat op sy hulp wag.
So … wag daarvoor.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Fri, 08 Mar 2024 - 1119 - Hoe om Sterk Te Wees
Jesaja 30:15-17 So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. Maar dit wou julle nie; julle het gesê: “Nee, ons sal op perde wegjaag, ons sal vinnige perde ry. ”Dan sál julle vlug, maar julle agtervolgers sal vinniger wees. Duisend van julle sal vlug as één julle bedreig, en as vyf julle bedreig, sal julle aanhou vlug totdat die paar wat van julle oorbly, soos 'n eensame vlagpaal op 'n berg, soos 'n enkele vaandel op 'n heuwel sal wees.
Hier is nou vir jou ‘n ware paradoks: wanneer ons op ons swakste voel, het ons krag die nodigste. Dit is wanneer dit lyk of ons krag ons verlaat het, dat dit ons grootste behoefte word.Wanneer dinge goed gaan, voel ons nie dat ons meer krag nodig het as wat ons reeds het nie. Hoekom sou ons nou krag kortkom? Maar dit is presies waar ons in 'n valse gevoel van sekuriteit ingesuig word, want wanneer ons halsoorkop in ‘n uitdagende situasie instorm, verdamp daardie selfvertroue wat ons net 'n oomblik gelede gehad het, soos mis voor die môreson.
Watter keuse gaan ons nou maak? Nou hoe dink jy? Ons kan ons óf na God wend om ons deur daardie situasie te help, óf ons kan op menslike krag staatmaak. En, kom ons kyk hoe noodsaaklik dit is om in daardie situasie die regte keuse te maak.
Jesaja 30:15-17 So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. Maar dit wou julle nie; julle het gesê: “Nee, ons sal op perde wegjaag, ons sal vinnige perde ry. ”Dan sál julle vlug, maar julle agtervolgers sal vinniger wees. Duisend van julle sal vlug as één julle bedreig, en as vyf julle bedreig, sal julle aanhou vlug totdat die paar wat van julle oorbly, soos 'n eensame vlagpaal op 'n berg, soos 'n enkele vaandel op 'n heuwel sal wees.
Die kontras tussen die uitkomste van die keuses is hemelsbreed. Besluit op wie jy gaan vertrou - op God, óf op menslike krag. Daar is net een manier om sterk te bly -julle krag lê in stil wees en vertroue hê. Dis reg: Gaan na God, bly kalm en vertrou op Hom.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Thu, 07 Mar 2024 - 1118 - ‘n Instrument van die Here
Psalm 34:18-20 As die regverdiges om hulp roep, hoor die Here hulle en red Hy hulle uit al hulle benoudhede. Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses. Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref, die Here red hom uit almal.
Ons lees dwarsdeur die Ou en Nuwe Testament van God se reddende hand. En dit is goeie nuus. Trouens, dit is wonderlike nuus. Ja, wanneer ons in die moeilikheid is, is God by ons om ons daardeur te help.Ek is seker dat jy, net soos ek, tye in jou lewe gehad toe jy sy reddende hand, sy krag en sy aanmoediging nodig gehad het om jou uit 'n gevaarlike situasie te red.
In Psalm 34 besing Dawid, die koning van Israel, God se getrouheid waar hy homself in talle gevaarlike situasies bevind het:
Psalm 34:17-19 As die regverdiges om hulp roep, hoor die Here hulle en red Hy hulle uit al hulle benoudhede. Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses. Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref, die Here red hom uit almal.
Wat 'n wonderlike bevestiging van God se getrouheid in tye van teëspoed en benoudheid. Hy hoor ons geroep. Hy red ons. Die Here is naby die gebrokenes van hart. Hy help die moedeloses.
Halleluja! Maar weet jy, soms doen Hy al daardie dinge deur een van sy kinders, deur een van ons. Soms beplan Hy om iemand deur jou en my te antwoord, te help, te troos en te red.
Is jy gereed? Sal jy na Hom luister? Wat 'n voorreg is dit tog om 'n instrument in die Here se Hand te wees, 'n spesiale houer, gereed vir elke goeie werk! Maar weet jy dat dit 'n prys van jou gaan vra? Daar is altyd ‘n prys aan verbonde. Ons is geroep om navolgers van die Here Jesus te wees. Dis wonderlik, maar onthou, Hy het vir ons aan die Kruis gesterf. Nou goed, kan ek jou weer vra? Is jy gereed? Sal jy gaan?
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Wed, 06 Mar 2024 - 1117 - Moenie Speletjies Met God Speel Nie
2 Timoteus 2:20,21 In ’n rykmanshuis is sommige gebruiksartikels van goud en silwer, en ander weer van hout en klei. Die kosbare artikels word by spesiale geleenthede gebruik en die goedkoperes is vir gewone gebruik. As jy jouself skoon hou van die verkeerde, sal jy ’n kosbare item wees, ’n spesiale besitting van die Huiseienaar, een wat Hy nuttig kan gebruik en wat gereed is vir enige goeie taak. (NLV)
As kinders het ons graag ons ouers se geduld getoets. Ons wou sien hoe ver ons hulle kon druk en ons wou ontdek waarmee ons kan wegkom. Dit is alles deel van grootword, nè?Maar as volwassenes is ons sekerlik klaar met daardie speletjie. Regtig? Nee! Soveel mense gaan voort met hul speletjie om te sien hoe hulle vir God kan toets. Eerder as om te vra: "Hoe kan ek Hom bo alles eer?" dink hulle eerder: "Met hoeveel kan ek wegkom?"
Verbeel ons ons dat God dom is, dat Hy nie gaan agterkom hoe ons verbrou nie en dat daar nie gevolge van ons dade gaan wees nie? Die waarheid is dat Hy sy beste bêre vir diegene wat Hom eer:
2 Timoteus 2:20,21In ’n rykmanshuis is sommige gebruiksartikels van goud en silwer, en ander weer van hout en klei. Die kosbare artikels word by spesiale geleenthede gebruik en die goedkoperes is vir gewone gebruik. As jy jouself skoon hou van die verkeerde, sal jy ’n kosbare item wees, ’n spesiale besitting van die Huiseienaar, een wat Hy nuttig kan gebruik en wat gereed is vir enige goeie taak. (NLV)
Kom ons begin met die houers van hout en klei vir "gewone gebruik". Dit is die houers wat gebruik word om die vullis in te stort. In skrille kontras daarmee, is die voorwerpe van goud en silwer. Hulle word as heilig en nuttig vir die Meester, oftewel die Huiseienaar, afgesonder en is gereed vir enige goeie gebruik.
Terwyl jy nou daardie twee beelde verwerk, kom ons kyk weer na hierdie speletjie wat mense met God wil speel, om Hom uit te toets om te sien waar sy grense is.
Sê my: watter een van daardie beelde sal jy vir jou lewe kies? Dit is maklik, nè? Hou dus op om speletjies met God te probeer speel. Reinig jouself van dit wat oneerbaar is, want op een of ander manier is daar altyd gevolge.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Tue, 05 Mar 2024 - 1116 - Moenie die Duiwel Vatkans Gee Nie
Efesiërs 4:26,27 As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie 'n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie.
Ek is seker jy het opgemerk dat mense deesdae baie kwaad in hulle ronddra. Ja, ek weet, daar is inderdaad genoeg dinge in die wêreld aan die gang om ‘n mens die hele tyd kwaad te maak: mense, politiek, omstandighede, houdings, noem maar op.Woede kom dikwels na vore wanneer ons onder druk is. Iemand kyk jou net skeef aan, en dan byt jy sy kop af. Natuurlik is woede soms geregverdig. Jy is sekerlik tog daarop geregtig om kwaad te word wanneer iemand leuens oor jou vertel? Verseker!
Ja, en ons weet dat selfs God uiteindelik kwaad word, al is Hy genadig en stadig om kwaad te word. Maar daar is twee dinge wat ons in ons woede doen, wat ons nooit moet doen nie.
Efesiërs 4:26,27 As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie 'n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie.
Wanneer ons nie ons woede beheer nie, laat die duiwel ons eerstens sondig deur beheer te verloor; om wraak te neem; om iemand in gelyke munt te wil terugbetaal of om af te daal tot die vlak van dié een wat dit in die eerste plek veroorsaak het.
Die tweede ding wat die duiwel doen, is om vir die res van die dag daardie swart wolk oor ons te laat hang. En die tragiese ding is dat daardie onweerswolk van onvergewensgesindheid by sommige mense, tot 'n wortel van bitterheid ontwikkel ... en hulle vir die res van hul lewens treiter! Maak dit ooit sin? Nee. Jou onvergewensgesindheid maak daardie persoon wat jy weier om te vergewe, moontlik die mees invloedryke persoon in jou lewe. Is dit slim?!
Meer nog: dit maak die deur vir die duiwel wawyd oop om jou lewe te verniel en jou afwaarts te laat tol. Hierso is ‘n woord van waarskuwing: Moenie deur jou woede vir die duiwel 'n vatkans gee nie.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Mon, 04 Mar 2024 - 1115 - Haat Jou Sonde
1 Timoteus1:15,16 Dit is 'n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste. Maar juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek 'n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry.
Dit is verstommend hoe gereeld ons die splinter in iemand anders se oog raaksien en hom oordeel, terwyl ons blind is vir ons eie swakhede en mislukkings. As ons maar net so ‘n groot afsku van ons eie sonde gehad het, as van ander mense s'n.Dit is waar, nè? Ander mense irriteer ons, en ons oordeel hulle, en droom oor hoe ons hulle kan terugkry. En al doen ons nie regtig iets teen hulle nie, brom ons nietemin in ons harte. Ons loop steeds rond met 'n siniese houding teenoor hulle. Ons dink dat ons daarop geregtig is om so te voel en dat dit ook in God se oë heeltemal reg sal wees.
Ek vind die nederige en beskeie gesindheid van die apostel Paulus so boeiend:
1 Timoteus 1:15,16 Dit is 'n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste. Maar juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek 'n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry.
Voordat hy Jesus ontmoet het, was Paulus beslis nie ‘n katjie wat jy sonder handskoene kon aanpak nie. Hy het Christene genadeloos vervolg. Maar eers nadat hy Jesus van aangesig tot aangesig ontmoet het, het hy besef dat hy die ergste onder alle sondaars was en dat Jesus, ten spyte daarvan, vir hom kom red het.
Ja, dink mooi daaraan: ons sonde is alte dikwels soveel erger as die mense s’n, wat ons so maklik oordeel. Ten spyte daarvan, ja, inderdaad as gevolg daarvan, het Jesus gekom om te midde van ons swakhede, deur sy dood aan die Kruis; sy onbeperkte geduld en genade te bewys.
Hou op om ander te oordeel.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sun, 03 Mar 2024 - 1114 - Onderskei Jouself
Matteus 5:40-42 As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.”
Wanneer ek stil word en my eie hart ondersoek, word ek hartseer as ek besef hoe ek so deur die kultuur waarin ek leef, beïnvloed word, soveel so dat ek ‘n sterk gevoel van eiegeregtigdheid by myself bespeur. Wat van jou?Dit kan so eenvoudig soos die aanhoudende gekef van die bure se nuwe hondjie wees. Nero is altyd so oulik, maar wanneer hy soms vir ure aaneen met sy irriterende, hoë stem blaf, word ek ongeduldig.
"Ek is geregtig daarop om rustigheid en stilte in my eie huis te geniet," sê ek vir myself. “Ek is tog geregtig daarop, dis tog ‘n mensereg!” Moet ek by my buurman gaan kla, of moet ek net geduldig wees en wag dat Nero grootword?
Die kern van die saak is: Ek kan daardie verhouding óf maak óf breek, eer of oneer aan God bring, afhangend van hoe ek reageer. Jesus het dit so gestel:
Matteus 5:40-42 As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.”
Hoe voel jy teenoor iemand, wanneer hy genadig teenoor jou is, wanneer hy jou foute oorsien, wanneer hy geduldig met jou is?
Roger Staubach is ‘n groot Amerikaanse sokkerster. Hy was 'n voormalige vlootoffisier en 'n het die gesogte Medal of Freedom ontvang. Na 'n leeftyd van diens en sukses maak hy hierdie kragtige opmerking: Daar is geen verkeersknope in die ekstra kilometer nie.
As jy om die regte redes jouself van ander wil onderskei - luister na Jesus. Stap die ekstra kilometer.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sat, 02 Mar 2024 - 1113 - Liefde is …
1 Korintiërs 13:4,5 Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.
Party mense vra die vraag: "Waarom iets in ses woorde sê, as jy dit in sestig kan sê?" Ek was nog altyd geneig om dit anderste om te wil doen! ‘n Blomryke styl kan sommige mense beïndruk, maar kom ons wees eerlik, kort en kragtige woordgebruik is die meeste van die tyd baie meer effektief.Elke dag wanneer ek hierdie boodskappe voorberei, spandeer ek heelwat tyd om dit te hersien; om dit korter te maak, om die taal te vereenvoudig en om by die kern van wat God in sy Woord sê, uit te kom. Dit is nie my doel om jou met my welsprekendheid te verblind nie; ek wil net die liefde van Jesus Christus eenvoudig en duidelik met jou deel.
Dis hoekom ek so lief is vir hierdie spesifieke versie uit die Bybel. Die krag in die eenvoud van min woorde, is asemrowend.
1 Korintiërs 13:4,5 Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.
Kom ons fokus net op die eerste agt woorde. Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik.
As ons net in ons lewensruimte, daardie agt woorde konsekwent saam met al God se kinders, dwarsoor die wêreld, uitgeleef het, sou die wêreld radikaal anders gelyk het, nè?
‘n Rukkie gelede het ek eendag ervaar hoe dinge my van alle kante aangeval het. Ek was onder groot druk en ek het opgemerk dat ek ongeduldig begin raak het. Ek het gestop, diep asemgehaal en toegelaat dat die Here my diep in my hart aan daardie agt woorde herinner. Dit het my houding en my optrede onmiddellik verander.
Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik. Dit is agt kragtige lewensveranderende, wêreld-transformerende woorde.
Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Fri, 01 Mar 2024 - 1112 - Word Vinnig Wys
Spreuke 3:13-18 Dit gaan goed met die mens wat wysheid gevind het, wat insig as sy deel ontvang het, want dit bring meer winste in as silwer en lewer 'n groter opbrengs as goud. Dit het meer waarde as edelstene; wat jy ook al as kosbaar beskou, niks kan daarmee vergelyk word nie. Die wysheid gee met die een hand 'n lang lewe en met die ander rykdom en eer. Die wysheid bring 'n ryk en 'n vol lewe. Dit is 'n bron van lewe vir wie dit aangryp, dit gaan goed met dié wat daaraan vashou.
Onthou jy dat jy ook destyds jonk en koppig was? Ek onthou beslis; ek onthou die dinge wat ek in my jeug gedoen het! As ons maar die horlosie kon terugdraai en 'n ou kop op daardie jong skouers kon sit. . .Iemand het eenmaal gesê dat een van die lewe se groot tragedies is dat ons te gou oud en te laat wys word. Is dit nie tragies nie? Wysheid, as ons dit hoegenaamd vind, is geneig om eers na lang jare, waarin jy deeglik deur die werklikhede van die lewe verinneweer is, te kom.
Maar wat sou kon gebeur as ons al vroeër in ons lewens wysheid kon gehad het? Hoe sou dit gewees het as ons vroeër as diegene rondom ons wys was? Hoe anders sou jou lewe nie gewees het indien jy baie vroeër wys was nie?
Kyk wat koning Salomo aan sy jong seuns te sê gehad het:
Spreuke 3:13-18 Dit gaan goed met die mens wat wysheid gevind het, wat insig as sy deel ontvang het, want dit bring meer winste in as silwer en lewer 'n groter opbrengs as goud. Dit het meer waarde as edelstene; wat jy ook al as kosbaar beskou, niks kan daarmee vergelyk word nie. Die wysheid gee met die een hand 'n lang lewe en met die ander rykdom en eer. Die wysheid bring 'n ryk en 'n vol lewe. Dit is 'n bron van lewe vir wie dit aangryp, dit gaan goed met dié wat daaraan vashou.
Ja-nee, watter ongelooflike verskil kan God se wysheid aan ons lewens maak! Inderdaad, die seëninge van sy wysheid is onberekenbaar. Nouja, doen jouself 'n guns. Word sonder om te aarsel wys, want wysheid is 'n seën vir diegene wat dit gevind het!
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Thu, 29 Feb 2024 - 1111 - Wie moet Wraak Neem?
Romeine 12:17-19Moenie vir enigiemand kwaad met kwaad terugbetaal nie; wees positief teenoor alle mense. Sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense. Geliefdes, julle moet julleself nie wreek nie. Laat die straf aan God oor. Daar staan mos in die Skrif: “Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld, sê die Here.”
Wat is die een ding wat jy begeer wanneer iemand jou, of iemand vir wie jy omgee, kwaad aandoen; wanneer jy so briesend kwaad is, dat jy wil ontplof? Jy begeer wraak. Soete wraak.Die begeerte na wraak klink so ‘n bietjie mal, nè? Maar daardie begeerte kom uit ons sin vir geregtigheid. Ons is immers na die beeld van God gemaak en daarom raak ons opstandig teenoor die onreg waarmee ons gekonfronteer word.
En daardie sin vir geregtigheid eis dat dit wat verkeerd is, reggestel moet word. Dit beteken dat die skuldige persoon gestraf en die boete betaal moet word. En dis presies waarom Jesus vir jou en vir my aan die Kruis gesterf het; om ons verkeerde optrede reg te stel; om die straf wat ons oor en oor verdien, op Hom te neem.
God het, eerder as om Homself op ons te wreek, omdat ons teen Hom in opstand gekom het, self, deur Jesus se kruisdood, die prys vir ons sonde, wat deur sy geregtigheid vereis word, betaal. As jy daaraan dink, is dit 'n merkwaardige reaksie op ons bose optrede, wat die dood verdien. 'n Reaksie wat uit sy groot liefde vir ons kom.
Dink mooi! Dis beste ding wat ons kan doen, is om die straf aan Hom oor te laat in plaas daarvan om wraak te sweer:
Romeine 12:17-19 Moenie vir enigiemand kwaad met kwaad terugbetaal nie; wees positief teenoor alle mense. Sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense. Geliefdes, julle moet julleself nie wreek nie. Laat die straf aan God oor. Daar staan mos in die Skrif: “Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld, sê die Here.”
Met ander woorde, die beste manier om wraak te hanteer, is om glad nie wraak te neem nie. Vergewe, en gaan aan met jou lewe en moenie soos diegene wat jou seergemaak het, word nie. God sal hulle met sy woede straf indien en wanneer Hy goeddink.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Wed, 28 Feb 2024 - 1110 - God se Groot Werke
Jeremia 32:17 Ag, Here my God, U het die hemel en die aarde gemaak deur u groot mag. Niks is vir U onmoontlik nie.
Het jy al ooit daarna gesmag om iets "groots" vir God te doen? Het jy al gedroom dat Hy kragtig deur jou in ander mense se lewens sal werk? Vir baie mense bly dit egter net 'n droom.Enigeen wat Jesus liefhet, het daardie drome gehad; daardie idee dat ons iets magtigs vir Hom kan doen; iets wat 'n reuse impak op die wêreld en die lewens van diegene rondom ons sal hê. Maar so dikwels, kry die daaglikse realiteite en die druk van ons lewens die oorhand oor ons.
En net daar verdwyn daardie wonderlike droom! En ons kom met 'n harde slag terug aarde toe. Die probleem met daardie drome is dat ons vanuit die verkeerde perspektief na hulle kyk. Ons sien hulle deur die prisma van wat óns kan doen, eerder as van wat God reeds gedoen het.
Kyk wat het die Ou Testamentiese profeet Jeremia geskryf:
Jeremia 32:17 Ag, Here my God, U het die hemel en die aarde gemaak deur u groot mag. Niks is vir U onmoontlik nie.
In 'n tyd toe Israel groot teëspoed gehad het, het God hulle herinner aan Wie die groot krag en mag het en vir Wie niks onmoontlik is nie!
Vanuit ons perspektief lyk grootse werke altyd onmoontlik.
Hudson Taylor, die negentiende-eeuse sendeling na China, het dit eerstehands ervaar. Hy het verskriklike teenstand ondervind. Maar uit sy rype ervaring in sy lewe van diens aan God in die vreemde, het hy geskryf: "Ek het gevind dat daar drie stadiums in elke groot werk van God is ... eers is dit onmoontlik, dan is dit moeilik, en dan is dit klaar."
Daardie grootse werke waarvan ons droom, is nie ons werke nie, dit is God se werke ... vir Hom is daar niks onmoontlik nie.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Tue, 27 Feb 2024 - 1109 - Hoe Sal ‘n Wêreld Sonder Liefde Lyk?
1 Korintiërs 13:1-3Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek 'n stuk klinkende metaal, 'n galmende simbaal geword. Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks. Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.
Kan jy jou ‘n wêreld sonder liefde voorstel? Dis ‘n verskriklike gedagte, nè! Maar vir baie mense is dit nogal maklik en dit verg nie veel verbeelding van hulle kant af nie, want hul lewens is klaar sonder liefde.Ongelukkig is daar vandag ontelbare mense in ons wêreld wie se mees basiese behoefte om geliefd te wees, nie vervul word nie. Hoekom? Omdat hulle omring word deur mense wat nie omgee nie. Mense rondom hulle is so behep met hulle eie dinge, wat dit ook al dit mag wees, en hulle is so gefokus daarop om hulle eie doelwitte te bereik, dat hulle niks liefde oor het om vir hulle medemens te gee nie.
Ek weet. Ek was vroeër een van daardie liefdelose mense. Ek was so op myself gefokus, dat ek tot hulle nadeel en tot my ondergang, geen liefde aan diegene rondom my betoon het nie. En in God se oë maak dit nie saak hoe suiwer en mooi jou doelwitte is, of hoe suksesvol jy hulle bereik nie, want sonder liefde is dit heeltemal waardeloos.
1 Korintiërs 13:1-3 Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek 'n stuk klinkende metaal, 'n galmende simbaal geword. Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks. Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.
Maak tyd om vir hierdie mense wat sonder liefde lewe, lief te wees.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Mon, 26 Feb 2024 - 1108 - Waarborg Sukses
Josua 1:8 Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees. (NLV)
Die onderwerp vir vandag is: sukses. Jou sukses in die koninkryk van God. En as jy 'n bietjie skepties is, dan is dit goed, want wanneer iemand in een asem van God se Woord en van "sukses" praat, moet jy versigtig wees.Watter prentjie tower dit in jou gedagtes op wanneer jy daardie woord "sukses" hoor? Is dit meer geld, 'n groter huis, 'n mooier motor, 'n vakansie, bevordering, status, erkenning? Wat beteken "sukses" vir jou?
Alhoewel nie een van hierdie dinge sleg is nie, trap ons inderdaad in 'n gevaarlike strik, indien ons dink dat dit sukses in God se Koninkryk beteken. Nee, dit is nie God se doel om ons met wêreldse besittings en snuisterye te oorlaai nie.
Natuurlik seën Hy sommige mense op daardie manier, maar dit is nie sy hoofdoel nie. Dit is nie die prentjie wat God in gedagte het wanneer Hy aan sukses dink nie.
Toe Josua as leier van Israel by Moses moes oorneem, om God se volk in die beloofde land te lei, sê God die volgende vir hom:
Josua 1:8 Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees.(NLV)
Die sukses waarvan God hier praat, is om sy planne uit te voer en sy doelwitte te bereik, nie Josua s'n nie. Soos Jesus dit eeue later gestel het, Onse Vader in die hemel, laat u Naam geheilig word. U koninkryk kom, u wil geskied...
En wat waarborg daardie sukses? Om God se Woord in jou hart te ontvang, daaroor na te dink, en in reaksie daarop gehoorsaam te wees. Dis waar jy wysheid sal vind. Dit is waar jy sukses sal vind om dit te doen waarvoor God jou geroep het.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sun, 25 Feb 2024 - 1107 - Laat Daar Lig Wees
Matteus 5:14-16 Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
Soms maak die lewe glad nie sin nie. Die goed wat in jou lewe, jou hart, jou gesin en jou werk aangaan … maak net nie sin nie. Wat jy nodig het, is iemand om 'n lig op dit alles te laat skyn, om jou te help om sin daaruit te maak.As jy 'n Christen is, is hierdie onverstaanbare dinge dikwels ook frustrerend, maar ons glo in 'n almagtige, liefdevolle God. Ons hou vas aan 'n God wat soewerein oor alles is. 'n God wat alles onder beheer het.
Maar dink net hoeveel erger dit nie moet wees vir iemand wat nie vir God ken nie, wat nie die lig van sy liefde in sy hart ervaar nie. En dit is na daardie mense wat God vir ons, wat in Jesus glo, gestuur het – om net soos 'n lantern sy lig in die donker plekke van hul lewens te skyn.
Aan 'n klomp gewone mense – nie die magtige, geleerde, godsdienstige leiers in Jerusalem nie, maar aan die boere, die winkeliers en die arbeiders – het Jesus dit so gestel:
Matteus 5:14-16 Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
My vriend, as jy in Jesus, wat die lig van die wêreld was en is, glo, weet jy dat Hy jou aangestel het om in sy voetspore te volg? Hy het jou aangestel om soos 'n lantern te wees, om sy lig in die lewens van ander te skyn. Dit maak jou vandag, die lig in hulle wêreld.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sat, 24 Feb 2024 - 1106 - Wat Is Goed?
Miga 6:8 Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God. (NLV)
Ons leef in 'n wêreld van skerp kontraste. Swart en wit. Lank en kort. Ryk en arm. Jonk en oud. Maar die belangrikste van al hierdie is: goed teenoor kwaad. Nouja, wat is die verskil tussen daardie twee?Wel, namate die morele beginsels wat vir alle mense van toepassings is, agteruitgaan, word dit al hoe moeiliker om tussen reg en verkeerd te differensieer. Diegene wat sterk beginsels het, word nie net bespot nie, maar ook vervolg.
Soos die apostel Paulus in Romeine 1:32 opgemerk het, het die waardes van die samelewing so verval, dat mense nie slegs kwaad doen en daarmee wegkom nie, maar hul boosheid word oral aanvaar en goedgekeur. Diegene wat hierdie dinge doen, word selfs nagevolg en aangemoedig.
Goed, ek weet ons praat in hierdie versie van die geskiedenis van tweeduisend jaar gelede, maar kom ons wees eerlik, dit kom vandag selfs meer algemeen voor. Diegene wat boosheid beoefen en bevorder, se doel is om goed en kwaad so te vermeng, dat die onderskeid so vervaag, dat alles sommer in ‘n grys area saamsmelt … tot op die punt waar baie mense nie eers meer weet hoe "goed" lyk nie. Kom óns kyk hoe "goed" presies lyk!
Miga 6:8 Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God. (NLV)
In 'n era waar ons vertel word dat vaste morele beginsels uit die oude doos is; ja, in ‘n era waar die versoeking baie groot is om toe te gee aan die verdorwe standaarde wat kamtig die norm is ... stop net daar, my vriend! Luister na God en doen goed.
En wat is goed? Wat vra die Here van jou? Dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Fri, 23 Feb 2024 - 1105 - Raak Ontslae van jou Boosheid
Jakobus 1:21 Raak daarom ontslae van die vuilheid en boosheid wat so welig in julle tier, en aanvaar nederig die woord wat God in julle geplant het. Hierdie woord het die mag om julle te red. (NLV)
Dit lyk asof die enigste manier om heeltemal weg te bly van die boosheid wat hierdie wêreld regeer, is om jouself toe te sluit en 'n geslote bestaan te voer. So sal jy kan wegbly van die boosheid wat tot op elke vlak van die samelewing ingedring het. Hm. Is dit werklik die enigste manier?Ek ontvang onlangs 'n e-pos van 'n man wat deur die VARS- boodskappe tot geloof in Christus gekom het. Hy moet uit vrees vir erge vervolging 'n geheime gelowige bly. In die land waar hy woon, en in sy ouerhuis, met afgode in elke vertrek, kan hy nie openlik vir Jesus dien nie.
Waar jy ook al woon, wat ook al jou omstandighede is, van watter kultuur jy ook al deel is, dis ‘n lewensfeit - die Bose is oral. Kyk na Jesus se broer Jakobus, se waarskuwing:
Jakobus 1:21 Raak daarom ontslae van die vuilheid en boosheid wat so welig in julle tier, en aanvaar nederig die woord wat God in julle geplant het. Hierdie woord het die mag om julle te red. (NLV)
My vriend, ek en jy, kan nie die boosheid in hierdie wêreld ontsnap nie. Die enigste manier om daarvan weg te kom, is om onsself in ‘n klooster te gaan afsonder om daar die vuilheid en sondigheid te vermy. Maar dit is nie wat God wil hê ons moet doen nie.
Hy beveel ons om ontslae te raak van die sonde wat ons geestelike lewe mag bederf; alles wat sleg is in óns lewens – elke soort sonde wat ons doen eerder as om die woord wat God in julle geplant het nederig te aanvaar.
My vriend, jy kan in 'n huis vol afgode woon en kies om hulle nie te aanbid nie. Jy kan omring word deur boosheid en kies om nie deel daaraan te hê nie.
Raak ontslae van elke euwel in jou lewe. Verneder jouself en aanvaar God se boodskap. Hy sal jou red.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Thu, 22 Feb 2024 - 1104 - Hoe Sal Jy Weet?
Johannes 14:22,23Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Hom: “Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?” Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.
Jy moet altyd versigtig wees as iemand beweer dat hy die een of ander spesiale insig, wat niemand anders ontvang het nie, het. En tog, as Christene, is dít presies wat ons kry – dit is 'n besondere openbaring van God self.Op pad na die kruis, waar Hy gaan sterf om te betaal vir die sondes van die wêreld; vir jou sonde en myne, sodat ons vergewe kan word, sodat ons die ewigheid in sy Teenwoordigheid kan deurbring, het Jesus iets vreemd gesê; iets uitdagends; iets wat openbaring vereis. Hier is dit in:
Johannes 14:18,19 “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. Nog net 'n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe.
Met ander woorde, Jesus sê vir die dissipels dat Hy ‘n spesiale openbaring vir hulle het, terwyl ander mense dit nie sal hê nie: Dat hulle vir ewig by Hom sal lewe, terwyl ander nie sal nie. Kom ons kyk mooi hierna:
Johannes 14:22 Toe sê Judas (nie Judas Iskariot nie): Here, hoe sal U Uself aan ons bekend maak, maar nie aan die wêreld nie?
Goeie vraag. Dis ‘n baie goeie vraag.
Johannes 14:23 Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.
Hoe leer ons dan vir Jesus regtig ken? Hoe ervaar ons Hom eerstehands? Die mense wat Jesus liefhet, neem alles wat Hy sê, baie ernstig op; die ander steur hulle nie daaraan nie. God die Vader en Jesus word op ’n baie intieme manier, deur die Gees, deel van die gehoorsame persoon, wat Hom liefhet, se lewe, wanneer Hy in sy hart kom woon en saam met hom lewe.
Moet nooit in jou verhouding met Jesus die belangrikheid en die krag van gehoorsaamheid onderskat nie. Moet net nie!
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Wed, 21 Feb 2024 - 1103 - Moeilike Vrae
Psalm 71:20,21 U het diep nood oor my laat kom, maar U herstel my weer tot lewe. Uit die diep waters van die aarde, uit die doderyk rig U my weer op. U sal my in eer herstel en weereens my vertrooster wees. (NLV)
Wonder jy ooit watter rol God daarin gespeel het wanneer probleme oor jou pad kom? Het Hy per ongeluk daardie probleem misgekyk, of was dit al die tyd deel van sy plan? En indien wel, hoekom het Hy dit laat gebeur?Ek het myself al dikwels daardie vrae afgevra, want wanneer probleme oor jou toesak, vind jy hoe jy struikel, val en allerhande dinge begin wonder … ag, wat is nou besig om te gebeur? So jy vra dan vir jouself die moeilike vrae.
Gister het ons gesels oor die feit dat God so baie kere dwarsdeur die Bybel van sy nimmereindigende getrouheid en standvastige liefde praat. Hoekom? Omdat dit tyd en eerstehandse ervaring neem vir die werklikheid van sy getrouheid en liefde om deel te word van wie ons is. Ons sal uiteindelik wanneer ons die dag in die moeilikheid is, vrede hê, as ons glo dat Hy ons nooit in die steek sal laat nie en dat Hy ons nooit alleen sal laat nie.
En dit klink asof God se voortdurende vormingsproses, waarskynlik in die psalmis se hart aan die gang was, toe Hy vir God gesê het in:
Psalm 71:20,21 U het diep nood oor my laat kom, maar U herstel my weer tot lewe. Uit die diep waters van die aarde, uit die doderyk rig U my weer op. U sal my in eer herstel en weereens my vertrooster wees.
Hy weet dat God soewerein oor sy probleme en moeilike tye is. Hy erken dat God probleme toegelaat het om te ontstaan. Maar te midde van hulle, het hy die vertroue om te weet dat God hom sal herstel; die vertroue om vir Hom te sê ... U het baie krisisse oor my gebring, maar U het my elke keer gered. U het my elke keer uit die kloue van die dood kom haal. U sal my nuwe lewe gee; U sal my help om nog groter dinge te doen. U sal my weer troos!
Laat God toe om, wanneer jy onder probleme gebuk gaan, jou te leer om op Hom te vertrou.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Tue, 20 Feb 2024 - 1102 - Wanneer Jy Net Sommer Weet
Psalm 138:7,8 As ellende op my toesak, sal U my bewaar van die woede van my vyande. U steek u hand uit en red my deur u krag. Here, U sal u doel met my bereik, want u troue liefde, Here, ken geen einde nie. Moenie die werke van u hande laat vaar nie. (NLV)
Het jy al ooit gewonder hoekom God, in Sy wysheid, dieselfde ding oor en oor in sy Woord sê? Dit is 'n vraag wat ek myself al dikwels afgevra het. Hoekom doen Hy dit?Ek kan nie tel hoeveel keer my pa my as kind nie op my plek gesit het, as ek die takies waarvoor ek verantwoordelik was, afgeskeep het. Sy woorde was altyd: As iets die moeite werd is om te doen, my seun, is dit die moeite werd om dit goed te doen.Hy het dit seker honderde kere by my ingedril.
Vandag, meer as 'n half eeu later, bly daardie getrouheid en noukeurigheid en daardie begeerte om in alles wat ek doen my bes te lewer, diep by my ingeburger. Dit is deel van wie ek is, en dis te danke aan dít wat my pa, terwyl ek in die huis was, tot vervelens vir my gesê het.
Miskien is dit waarom God so dikwels in die Bybel van sy getrouheid, en sy standvastige liefde praat. Ons hoor dit telkens in die Psalms by koning Dawid:
Psalm 138:7,8 As ellende op my toesak, sal U my bewaar van die woede van my vyande. U steek u hand uit en red my deur u krag. Here, U sal u doel met my bereik, want u troue liefde, Here, ken geen einde nie. Moenie die werke van u hande laat vaar nie. (NLV)
Wanneer ons deur moeilike situasies gaan, is ons eerste instink om paniekerig te raak en self te probeer planne beraam. Maar elke keer as ons probleme ondervind, wil God ons van sy getrouheid verseker. Hy wil ons daardeur leer om op sy onfeilbare liefde te vertrou, sodat dit uiteindelik deel van ons menswees kan word.
Here, U sal u doel met my bereik, want u troue liefde, Here, ken geen einde nie.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Mon, 19 Feb 2024 - 1101 - Satan se Aanklag
Job 1:10-12U beskerm hom dan, en sy huis en al sy goed. U maak alles wat hy doen, voorspoedig. Selfs sy vee teel vinnig aan. Maar raak nou net aan sy besittings en kyk of hy U nie in u gesig vervloek nie. ”Toe sê die Here vir die Satan: “Alles wat hy het, gee Ek in jou mag oor. Net aan hom self mag jy nie raak nie.” Die Satan het daarna van die Here af weggegaan.
Daar word in die Bybel na Satan as 'n bedrieër en 'n aanklaer verwys. Maar het jy al ooit daaraan gedink dat hy selfs vir God van iets beskuldig het? Wel, dit is presies wat hy tydens Job se lewe gedoen het!Nouja, waarvan het Satan vir God beskuldig? Hier staan dit in Job1, waar Satan met God praat:
Job 1:10-12U beskerm hom dan, en sy huis en al sy goed. U maak alles wat hy doen, voorspoedig. Selfs sy vee teel vinnig aan. Maar raak nou net aan sy besittings en kyk of hy U nie in u gesig vervloek nie. ”Toe sê die Here vir die Satan: “Alles wat hy het, gee Ek in jou mag oor. Net aan hom self mag jy nie raak nie.” Die Satan het daarna van die Here af weggegaan.
Waarvan het Satan vir God beskuldig? Dat Hy Job beskerm en hom seën; dat Hy hom suksesvol maak in alles wat hy doen. Trouens, hy beskuldig letterlik vir God daarvan dat Hy ‘n ondeurdringbare heining van beskerming rondom Job geplaas het.
Ek dink altyd dat wanneer ons ‘n skrifgedeelte gelees het, die belangrikste vraag om aan onsself te stel, is: Wat sê dit vir my van God? Hier sê dit, dat God 'n God is wat ons beskerm. Om die waarheid te sê, ons het gister al gesien hoe God se Engele gestuur word om mense, wat Hom dien, te beskerm.
Reg genoeg; elke nou en dan sal God daardie beskerming onttrek om ons geloof te toets, soos wat Hy hier met Job gedoen het. Maar onthou jy hoe Jesus sy dissipels geleer het om te bid? Help ons om nooit te swig voor versoekings nie, en pas ons op wanneer die duiwel ons wil verlei om verkeerde dinge te doen.(DB)
Dis iets wat ek elke dag bid. Nie dat God my sterk genoeg sal maak om die duiwel te verslaan nie, maar dat God my teen hom sal beskerm.
Mag God jou beskerm en seën.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sun, 18 Feb 2024 - 1100 - Gee die Here ‘n Kans
Psalm 34:7-9 Hierdie ellendige mens het geroep en die Here het gehoor. Hy het hom uit al sy benoudheid gered. Want die Engel van die Here hou wag oor almal wat Hom dien, en Hy red hulle. Beproef en sien dat die Here goed is. Geseënd is die persoon wat op Hom vertrou! (NLV)
Stel jouself hierdie situasie voor: Jy is besig om diamante te delf, maar na maande se uitputtende, sielsvernietigende werk is jy nie suksevol nie. Geen diamante nie! Niks nie! Uiteindelik besluit jy eendag om tou op te gooi en weg te loop. Maar wat jy nie geweet het nie, was dat jy net 'n paar sentimeters van die hoofertsspleet af was!Dis ‘n mooi ou storietjie, maar jy sê seker vir jouself, ek sal tog nooit diamante, of opale, of robyne, of goud delf nie. Ek het geen behoefte om dit te doen nie. Nou maar gaaf.
Maar hoe dikwels bevind ons onsself in 'n moeilike situasie; miskien het ons 'n aaklige baas by die werk, dalk 'n ongemaklike situasie in 'n verhouding, of miskien ervaar ons finansiële probleme, wat ook al die krisis … ons vra God, ons vra Hom, en ons vra Hom, sonder ophou - sonder enige resultate! Geen antwoord nie! Niks nie!
Uiteindelik gooi jy eendag tou op en loop net weg. Maar in hierdie psalm van koning Dawid van Israel, deel hy sy ervaring:
Psalm 34:7-9 Hierdie ellendige mens het geroep en die Here het gehoor. Hy het hom uit al sy benoudheid gered. Want die Engel van die Here hou wag oor almal wat Hom dien, en Hy red hulle. Beproef en sien dat die Here goed is. Geseënd is die persoon wat op Hom vertrou!(NLV)
Nog voordat ons sy hulp vra, is God so dikwels reeds besig om agter die skerms te werk. Sy Engele staan gereed om jou te beskerm. Dis die waarheid! En hier is Dawid se aanmoediging vir jou en vir my in daardie situasie wanneer ons tot in ons siel moedeloos voel en tou wil opgooi en wegstap:
Beproef en sien dat die Here goed is. Geseënd is die persoon wat op Hom vertrou!
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sat, 17 Feb 2024 - 1099 - Die Here Sal Jou Beskerm
Psalm 3:4 - 6 Maar U, Here, beskerm my aan alle kante, U herstel my eer en aansien. As ek na die Here roep, antwoord Hy my van sy heilige berg af. As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my.
Kan jy jou voorstel hoe absurd die begrip destyds was, dat 'n koning vir sy volgelinge 'n dienskneg kan wees? Nee, my vriend, die enigste konteks waarin daardie twee woorde in een sin gebruik is, was om oor ‘n koning se dienaars te praat.Kom ons brei ‘n bietjie uit. Die idee van 'n god wat 'n dienskneg is, wel, dit was net heeltemal gek. Die gode van die heidennasies, wat in die omgewing van die Jode geleef het, was valse afgode. Die mense het die gode gevrees en probeer paai om te verhoed dat die gode se woede hulle nie vernietig nie.
Nouja, ons lees in die Ou Testament dat die God van Israel wel 'n verbond met sy volk gesluit het, wat basies gesê het: as jy my eer, sal ek jou seën. As jy dit nie doen nie, sal ek jou vervloek. Maar selfs daar in daardie verbond, was die begrip van die Dienskneg-koning, die Dienskneg-God reeds opgesluit. Koning Dawid skryf in:
Psalm 3:4-6 Maar U, Here, beskerm my aan alle kante, U herstel my eer en aansien. As ek na die Here roep, antwoord Hy my van sy heilige berg af. As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my.
Hierdie God van Israel, die een ware God, die Een wat uiteindelik sy Seun, Jesus, sou stuur om vir hulle sondes en ons s'n te sterf, was van die begin af die Dienskneg Koning. Die een wat sy mense sou beskerm, wat hulle eer sou bring, wat hulle hoop sou bring, wat hulle sou antwoord wanneer hulle bid, wat hulle rus sou gee.
En weet jy, niks het verander nie. God het nie verander nie.
Jy kan gaan lê en rus en weet jy sal wakker word, want die Here bedek jou en beskerm jou.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Fri, 16 Feb 2024 - 1098 - Jou Pyn sal in Vreugde Verander
Johannes 16:19,20 Jesus het agtergekom dat hulle Hom daaroor wou uitvra, en Hy sê toe vir hulle: “Probeer julle onder mekaar agterkom wat Ek bedoel het met: ‘Nog ’n kort tydjie, dan sien julle My nie; en weer ’n kort tydjie, dan sal julle My weer sien’? Ek verseker julle, julle sal huil en treur, maar die wêreld sal juig. Julle sal baie hartseer wees, maar julle hartseer sal in blydskap verander.
God het die vermoë om ons grootste rampe te neem en dit in sy grootste oorwinnings te verander. En daar is geen groter ramp in die geskiedenis van die mensdom as die lewelose liggaam van Jesus wat aan die Kruis hang nie.Wat is die grootste ramp wat jou nog ooit getref het? Daardie een gebeurtenis wat jou amper verpletter het? Miskien is jy selfs nou in daardie moordende situasie? Kom ons kyk na:
Johannes 16:19,20 Jesus het agtergekom dat hulle Hom daaroor wou uitvra, en Hy sê toe vir hulle: “Probeer julle onder mekaar agterkom wat Ek bedoel het met: ‘Nog ’n kort tydjie, dan sien julle My nie; en weer ’n kort tydjie, dan sal julle My weer sien’? Ek verseker julle, julle sal huil en treur, maar die wêreld sal juig. Julle sal baie hartseer wees, maar julle hartseer sal in blydskap verander.
Die dissipels was verward oor Jesus se woorde en ontsteld oor Jesus se waarskuwings oor die gevaarlike tye wat vir hulle wag. Hulle was bang, nie net oor die wete dat hulle geliefde Jesus gekruisig sou word nie, maar die feit dat Jesus hulle vertel het dat hulle self ook ter wille van Hom doodgemaak sou word.
En jy kan jouself voorstel dat toe Jesus uiteindelik gekruisig is, hulle bedroef was. Hulle het gehuil. Net soos ek en jy gehuil het toe rampe ons getref het.
Maar in hul trane, in ons trane ... in jou trane, het Jesus wat aan die Kruis vasgespyker sou word, hierdie gerusstellende belofte aan ons almal gemaak:
Ek verseker julle, julle sal huil en treur, maar die wêreld sal juig. Julle sal baie hartseer wees, maar julle hartseer sal in blydskap verander.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Thu, 15 Feb 2024 - 1097 - Kies Jou Vriende Versigtig
Spreuke13:20Hy wat met wyse mense meng, verkry self ook wysheid. Meng jou met dwase en jy word self soos hulle. (NLV)
Na wie se raad luister jy? As jy getroud is, is jou gade hopelik nommer een op daardie lys. Maar wat van die res van jou binnekring? Wie is hulle, en moet hulle regtig in jou binnekring wees? Dit is belangrike vrae omdat die antwoorde die verloop van jou lewe positief of negatief kan beïnvloed.Ek stel nie vir een oomblik voor dat ons onsself met byna volmaakte mense moet probeer omring nie. 'n Groot deel van die posbeskrywing vir enige Christen is immers om Jesus se liefde en die Goeie Nuus van Jesus met diegene wat Hom nog nie ken nie, te deel en om deernis te toon teenoor diegene wat seerkry.
Mense kan sekerlik nie eers as naastenby volmaak bestempel word nie, maar tog word ons geroep om daar te wees vir hulle, net soos Jesus selfs aangetrokke was tot diegene wat nie deur mense geag was nie. Maar wees tog versigtig, want as jy te na aan die verkeerde mense kom, kan dit jou ruïneer.
Spreuke 13:20 Hy wat met wyse mense meng, verkry self ook wysheid. Meng jou met dwase en jy word self soos hulle. (NLV)
Wanneer jy saam met wyse mense tyd deurbring, vertel dit ons wie jy op jou lewensreis in jou binnekring toelaat; op wie jy jou gedrag modelleer; en na wie jy jou vir raad wend.
En om 'n metgesel van dwase te wees, vertel ons dat jy hulle toelaat om jou te beïnvloed, om jou raad te gee en dat jy saam met hulle op die verkeerde pad reis.
Kan ek jou weer vra, wie het jy in jou binnekring van raadgewers toegelaat? Dink aan die gesig van elkeen van die mense in jou binnekring en vra jouself of hierdie persoon wys, of dwaas is. Want …
Hy wat met wyse mense meng, verkry self ook wysheid. Meng jou met dwase en jy word self soos hulle.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Wed, 14 Feb 2024 - 1096 - Sien om na Ander se Behoeftes
Romeine15:1-3 Dié van ons met ’n sterk geloof behoort die twyfel en vrese van ons medegelowiges met ’n sensitiewe geloof in aanmerking te neem en nie ons eie belange voorop stel nie. Ons moet aan die beswil van ons naaste dink en hulle so in hulle geloofslewe help opbou. Ook Christus het immers nie aan sy eie sin en wil voorkeur gegee nie. Soos die Skrif sê: “Dié wat U beledig, beledig ook vir My.” (NLV)
In hierdie moderne tyd waarin ons leef, sien jy soveel mense wat met groot lawaai op hul regte aandring. Die gevaar is dat dit ons ook kan beïnvloed om te dink dit is ons reg om sekere eise te stel. Maar moenie dink dat dit 'n nuwe verskynsel is nie.Reeds in die 1ste eeu n.C. toe die Christendom uit Judaïsme ontstaan het, was daar baie onenigheid onder hierdie nuwe Christene oor sake soos: Watter kos mag jy eet? Watter vleis is rein en watter is onrein? Mag jy wyn drink, of nie? En so was daar baie stryery.
Vandag is die meeste van daardie kwessies, vir die oorgrote meerderheid Christene, opgelos. Maar die saak wat die apostel Paulus in sy brief aan die Romeine hanteer, is die feit dat party van die Christene aangedring het op sekere nuutgevonde vryhede wat die geloof van ander gelowiges ondermyn het.
Romeine 15:1-3 Dié van ons met ’n sterk geloof behoort die twyfel en vrese van ons medegelowiges met ’n sensitiewe geloof in aanmerking te neem en nie ons eie belange voorop stel nie. Ons moet aan die beswil van ons naaste dink en hulle so in hulle geloofslewe help opbou. Ook Christus het immers nie aan sy eie sin en wil voorkeur gegee nie. Soos die Skrif sê: “Dié wat U beledig, beledig ook vir My.”(NLV)
Wat sê hy hier? Selfs wanneer jy voel dat jy op iets geregtig is - ek bedoel wanneer jy oortuig is dat jy reg is – is ‘om reg te wees’ en die argument te wen, nie die einddoel waarna ons moet mik nie. Oorweeg eerder die impak van jou reg, waarop jy glo jy geregtig is, op jou buurman … al is jou buurman ook verkeerd.
Met ander woorde, God se boodskap aan ons is dit: moenie aandring op jou regte, indien dit iemand anders skade gaan berokken nie; Christus het nie aan sy eie sin en wil voorkeur gegee nie, maar eerder na die Kruis gegaan om vir jou sonde en myne te betaal.
Hou op om ander seer te maak deur jouself tevrede te stel.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Tue, 13 Feb 2024 - 1095 - Sy Beloftes is Waar
Psalm 18:31 God se pad is volmaak. Die Here se woorde is betroubaar. Hy beskerm dié wat by Hom skuil. (NLV)
Ek wil jou vandag ‘n baie belangrike vraag vra: Dink jy God kan vertrou word? Hy maak immers nogal baie beloftes in sy Woord. Party van sy beloftes lyk eerlikwaar verregaande in ons moderne haastige, deurmekaar lewe. Kan hierdie beloftes; kan Hy, vertrou word?Op byna elke gebied van die lewe is daar ‘n teorie en daar is ‘n praktyk. Jy kan die teorie bestudeer totdat die perde horings kry en tog help dit jou nie altyd daar buite in die hitte van die stryd nie.
Tydens my militêre loopbaan het ons dikwels skynaanvalle op ‘n denkbeeldige vyand uitgevoer. Dit was alles goed en wel, aangesien ons nie lewendige ammunisie in ons gewere gehad het nie.
Ek onthou hoe ek destyds gedink het, hoe dit sou gevoel het indien dit die ware Jakob was? Indien ons in ‘n ware oorlogsituasie gewikkel was. Hoe sou dit gewees het indien daar regte koeëls by ons koppe verby gezoem het? Hoe sou dit gevoel het as ek moes sien hoe my makker, wat net ‘n paar meter van my af staan, in die nek getref word? Sal die teorie in die praktyk werk? Ja, net so is God se dikwels verregaande beloftes nie vir ons ‘n werklikheid nie, totdat dit in die hitte van die stryd beproef en getoets word.
Koning Dawid van Israel het Psalm 18 as ‘n lofsang aan God geskryf op die dag toe die Here hom uit die hand van al sy vyande, veral van Saul, wat hom wou vermoor, verlos het.
Psalm 18:30 God se pad is volmaak. Die Here se woorde is betroubaar. Hy beskerm dié wat by Hom skuil. (NLV)
Dawid het geweet waarvan hy praat. Dit is die woorde van iemand wat eerstehands, te midde van ‘n oorlewingstryd, die beloftes van God getoets het. Ja, dit is ‘n voldonge feit dat God ons soms na gevaarlike plekke lei. Maar sy woorde is betroubaar. Die Here se beloftes is altyd waar. Hy beskerm diegene wat op Hom vertrou.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Mon, 12 Feb 2024 - 1094 - Januarie / Februarie 2024 VARS NUUSBRIEF
Lees als hier
Ons is opgewonde om na 'n verfrissende somervakansie nog 'n jaar in diens van ons Koning te begin. Ons bid dat die tydjie vir jou ryke seën ingehou het.Waarna sien jy hierdie jaar uit? Waarmee gaan Jesus jou hierdie jaar verras? Het jy doelwitte wat jy graag wil bereik? ‘n Vakansie wat jy dalk wil beplan? Verhoudings waaraan jy aandag moet gee? Wie weet wat die Here vir ons in hierdie baie belangrike jaar wat vir ons land voorlê, beplan? Die waarheid is, dat net Hy weet. Ons lees in Handelinge 1:7,8 dat Jesus vir sy dissipels gesê het:
“Die Vader bepaal hierdie datums,” het Hy geantwoord, “en die bedoeling is nie dat julle dit moet ken nie. Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, sal julle krag ontvang en oral mense eerstehands van My vertel – in Jerusalem, oor die hele Judea, in Samaria, en tot in die uithoeke van die aarde.”(NLV)
En dit is presies wat ons elkeen wil doen, nè? Ons weet die tyd is kort en kosbaar en dat ons geleenthede om die boodskap van Jesus Christus aan ‘n honger wêreld uit te dra, al hoe skaarser word.
Sefanja 3:16,17:Daardie dag sal vir Jerusalem gesê word: “Moenie bang wees nie, Sion! Moenie moedeloos word nie. Die Here jou God is by julle. Hy is ’n magtige Verlosser. Hy is buitengewoon bly oor julle. Sy liefde sal julle rustig maak. Met uitroepe van vreugde sal Hy oor julle jubel.” (NLV)
Daarom wil ons jou graag uitnooi om prakties deel van Christianityworkste wees. Ons wil nie op finansies hamer nie, maar die werklikheid is, dat ons jou ondersteuning baie nodig het! (Alle bydraes by die FNB-rekening word slegs deur ons plaaslike bediening benut!) Die Bybel leer ons dat dit God se normale praktyk is om sy mense te betrek by die finansiering van sy werk. Lees gerus 2 Korintiërs 8: 1-15.
Ons waardeer jou voorbidding vir die bediening.
Het jy al vir al jou vriende en familie vertel dat hulle daagliks VARS-boodskappe per e-pos of op ‘n potgooi kan geniet? (Ons het tans oor die 700 boodskappe wat weekliks op potgooi afgelaai word!) Laat weet asseblief as jy enige voorstelle het om VARSbeter bekend te stel.
Ons is altyd baie dankbaar en opgewonde om terugvoer en getuienisse van julle te ontvang!
IN DIE PYPLYNo ‘n VARS – Facebookbladsy om gereelde interaktiewe kommunikasie met julle, ons intekenaars en donateurs, te hê.
o Ons ondersoek die moontlikheid van ‘n “White-label” ( ‘n gedrukte weergawe van die oordenkings met advertensie geleenthede) vir kerke en ons radio-vennote
o Opdatering van ons Webwerf om dit 100% in Afrikaans te hê
o Berni besoek Suid-Afrika DV in Julie 2024
Seënwense en mooi loop
Die VARS-span
Sun, 11 Feb 2024 - 1093 - Bewys Empatie
Markus 6:34 Toe Jesus uit die skuit klim, het Hy 'n groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie 'n wagter het nie. Hy het hulle toe baie uitvoerig begin leer.
Die wêreld waarin ons leef is baie mededingend. Mense wil al die aandag op hulle gevestig hê. Mense dring aan op poste, op indiensneming, op bevordering, op erkenning. Ja, dit is 'n luidrugtige, hoogs mededingende wêreld.Natuurlik is nie almal so nie. Daar is baie mense wat glad nie so mededingend is nie. Maar die omstandighede, die kultuur waarin ons verswelg word, dwing ons dikwels om te baklei om vooruit te kom. Ons word geleer dat dit geregverdig is om mense uit te buit om te kom waar ons dink ons geregtig is om te wees.
Ons het baie koud en selfsugtig geword in ons menseverhoudings. En al die ure wat ons mors deur na daardie klein elektroniese skermpie in ons hand te staar, om uit die werklikheid te probeer ontsnap, vreet nog meer van ons tyd. Ag nee wat, ek het nie tyd om medelye met iemand te betoon nie. Dis totaal verregaande om dit van my te vra! Dit was egter nie die geval met Jesus nie:
Markus 6:34 Toe Jesus uit die skuit klim, het Hy 'n groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie 'n wagter het nie. Hy het hulle toe baie uitvoerig begin leer.
Baie van die mense in daardie groot skare sou dieselfde spul wees wat, net ‘n bietjie later uitgeroep het: "Kruisig Hom, kruisig Hom!" En tog het Jesus medelye met hulle gehad. Hy het hulle as skape sonder ’n herder gesien, as mense wat deur hul godsdienstige leiers op ’n dwaalspoor gelei is.
Ek dink ‘n mens sonder deernis, is sekerlik die aakligste ding wat ek en jy ooit sal sien.
In hierdie materialistiese, mededingende wêreld sal mense jou van tyd tot tyd sleg behandel. Hulle kan selfs verskriklike dinge aan jou doen.
Maar wees Jesus vir hulle. Behandel hulle met deernis.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sun, 11 Feb 2024 - 1092 - Wees Dapper
Hebreërs 4:14-16Ons het dan nou ’n groot Hoofpriester wat deur die hemele beweeg het, Jesus die Seun van God. Laat ons voortdurend aan ons geloofsbelydenis aangaande hierdie Jesus vashou. Hierdie Hoofpriester van ons kan ten volle met ons in ons swakhede saamvoel, want Hy is in elke opsig op dieselfde manier as ons versoek, maar Hy het nie voor die sonde geswig nie. Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy ontferming en genade bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word. (NLV)
Wat hou die toekoms vir jou in? Ek is seker jy het alreeds goeie planne gemaak vir die jaar wat voorlê. Ons het tog almal. Maar dalk is daar ook 'n paar onweerswolke op die horison; 'n paar ontstellende dinge wat kommer oor die dag van môre wek.As jy al ooit die Evangelies van Matteus, Markus, Lukas en Johannes oor Jesus se lewe en bediening gelees het, sal jy ongetwyfeld, nes ek, verstom staan oor sy verbasende wonderwerke, sy kragtige prediking, sy dood en opstanding.
Maar het jy al ooit uit sy perspektief na daardie dinge probeer kyk? Kom ons probeer: Ja, Hy het probleme gehad, baie van hulle. Hy het teenstand gekry van die duiwel en sy demone, van die godsdienstige leiers … selfs van die skares wat sy mag aanskou het. En dit is waarom jy Hom met jou toekoms kan vertrou.
Hebreërs 4:14-16 Ons het dan nou ’n groot Hoofpriester wat deur die hemele beweeg het, Jesus die Seun van God. Laat ons voortdurend aan ons geloofsbelydenis aangaande hierdie Jesus vashou. Hierdie Hoofpriester van ons kan ten volle met ons in ons swakhede saamvoel, want Hy is in elke opsig op dieselfde manier as ons versoek, maar Hy het nie voor die sonde geswig nie. Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy ontferming en genade bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word. (NLV)
Jesus het soveel gely – elke versoeking, elke teëspoed wat ek en jy ooit sal moet trotseer en nog 'n paar wat ons hopelik nie sal oorkom nie. Hy verstaan dus presies hoe ons voel wanneer ons teëspoed beleef. En daarom – daarom – kan ek en jy in ons uur van nood, met groot vrymoedigheid voor sy troon kom om sy guns te ontvang en om sy genade te ontdek. Jy kan jou toekoms aan Jesus toevertrou.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sat, 10 Feb 2024 - 1091 - Moenie Bekommerd Wees Nie
2 Kronieke 7:13,14 As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.
Op hierdie oomblik behoort alles wat tot op hierdie stadium in jou lewe gebeur het, tot die verlede. Jy kan nooit daarna teruggaan nie, maar jy kan toelaat dat dit by jou spook. Ongelukkig gebeur dit met baie mense!Ek weet nie of jy al ooit so daaroor gedink het nie, maar om jou oor die verlede te verkies, is ‘n vrugtelose vermorsing van energie en tyd. Daar is nie 'n enkele ding wat in die verlede gebeur het, wat jy kan verander nie.
Dan is daar diegene wat hulle nie oor die verlede nie, maar oor hul toekoms bekommer. En of jou bekommernis oor die verlede, die hede of die toekoms is, dit lê jou uiteindelik lam. Dit keer jou om dié dinge wat jy moet doen, te doen. Ja, dit verhoed dat jy die oorvloedige lewe, wat Jesus vir jou kom gee het, ervaar. Nouja, wat is die antwoord?
2 Kronieke 7: 13,14 As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.
Dis reg. God laat verseker teëspoed in ons lewens oor ons kom. En wat moet ons daaraan doen? Ons moet bid en vir die Here vra wat sy wil is en wat Hy vir ons in hierdie situasie wil leer. Maar dan moet ons ophou met ons sonde (want teëspoed is dikwels 'n gevolg van ons eie sonde).
‘n Wyse persoon het eenkeer gesê: bekommernis is 'n gesprek wat jy met jouself voer oor dinge wat jy nie kan verander nie. Gebed is 'n gesprek wat jy met God voer oor dinge wat net Hy kan verander.
Verneder jouself, bely jou sonde en bid. En draai weg van jou goddelose weë. God sal jou hoor.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Fri, 09 Feb 2024 - 1090 - Wees Geduldig in Tye van Teëspoed
Jakobus 5:11Ons gee met reg eer aan dié wat in swaarkry uithou. Job is ’n voorbeeld van iemand wat geduldig volhard het. Uit wat uiteindelik met hom gebeur het, sien ons dat God se einddoel goed is. Die Here is mos vol innige meelewing en Hy gee onverdiend sy liefde. (NLV)
Beleef jy tans teëspoed? Wat is dit wat aan jou vreet? Wat beroof jou van jou lewenskwaliteit? En sê my, hoe goed hanteer jy dit?Dit lyk, ten minste so op die oog af, asof sommige mense 'n idilliese lewe het. Maar weet jy, niemand verstaan dat hulle soms met 'n leegheid, 'n diepe ontevredenheid wat hulle nie mooi kan verklaar nie, geteister word.
Dan is daar die ander groep, wat vir ons lyk asof hul lewens 'n totale gemors is. Maar snaaks genoeg, is dit asof hulle ‘n absolute vrede oor hulle het. Hulle glimlag dikwels sommer sonder rede. Daar is 'n diepe, innerlike vreugde, wat vir ons onlogies lyk – ja, dis eintlik regtig onverklaarbaar. Hoe kan dit wees?
Jakobus 5:11 Ons gee met reg eer aan dié wat in swaarkry uithou. Job is ’n voorbeeld van iemand wat geduldig volhard het. Uit wat uiteindelik met hom gebeur het, sien ons dat God se einddoel goed is. Die Here is mos vol innige meelewing en Hy gee onverdiend sy liefde. (NLV)
Aanvaar jou probleme geduldig en volhard. Dit is 'n moeilike opdrag, maar Jakobus sê dit aan die vervolgde Christene wat oor die hele bekende wêreld versprei was, deur hulle te herinner aan die verskriklike probleme waarmee Job in die Ou Testament te kampe gehad het. Inderdaad verskriklike probleme!
En wat het God gedoen? Die Here het gesorg dat dit baie beter met Job gegaan het in die tweede deel van sy lewe as aan die begin. Dit was ‘n duidelike bewys dat die Here ons God vol barmhartigheid en goedertierenheid is.
Hoe kan jy geduldig wees te midde van jou teëspoed? Deur eerstehands die diep waarheid, dat God inderdaad genadig en goedhartig is, te ervaar. En by Hom is daar vreugde, daar is geduld, daar is vrede, daar is … sy seën. Wees net geduldig.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Thu, 08 Feb 2024 - 1089 - Aan Watter Groep Behoort Jy?
Galasiërs 2:20 ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.
Sedert die vroegste tye het die mensdom homself al in groepe verdeel – volgens geografie, kultuur, velkleur, politiek, selfs volgens die sportspan wat ‘n mens ondersteun. Wat ook al die maatstaf, mense hou daarvan om deel van 'n groep te wees.Dit was destyds 'n belangrike element van die kultuur van die verskillende stamme in ‘n gebied. Die een stam moes verseker dat die ander stam nie die oorhand oor hulle kry nie en dat hulle nie hulle grond afneem of hulle verneder nie. Elkeen is immers geregtig om homself te wees. Elkeen is geregtig om met sy stam te identifiseer en te kry wat hy verdien.
Kan ek jou eerstens vra, aan watter groep behoort jy? En, tweedens, hoe beïnvloed jou lidmaatskap van daardie groep jou verhouding met God? Die Amerikaanse pastoor en skrywer, Dale Partridge, stel dit so:
"Wees net jouself" is Satan se vervalsing van God se opdrag, "Wees heilig soos Ek heilig is." Ek wil nie myself wees nie. God moes my van myself red. Ek staan saam met die apostel Paulus wat gesê het in...”
Galasiërs 2:20 ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.
Partridge se standpunt, waarmee ek terloops saamstem, is dat te veel mense, wat hulself Christene noem, deesdae toelaat dat hul wêreldse identiteit hul identiteit in Christus troef.
Ek behoort aan hierdie politieke party. Ek glo in daardie vorm van vryheid. Dit is my seksualiteit. Dis net wie ék is. Klink dit enigsins bekend? Maar as jy in Jesus glo, kan jy glo dat Hy gekom het om jou te red van die ‘ek’ wat jy was.
Jy is saam met Christus gekruisig. Dit is nie meer jy wat leef nie, maar Christus wat in jou lewe.
Moenie toelaat dat jou wêreldse lidmaatskap jou daarvan beroof nie.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Wed, 07 Feb 2024 - 1088 - Die Obsessie om te Beheer
1 Petrus 4:7,8 Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid. Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes.
Die beste manier om te verseker dat dinge, wat ook al daardie "dinge" is, uitwerk soos jy wil hê dit moet, is om dit self te beheer. Natuurlik is dit die antwoord. Beheer alles. Maar weet jy, dis nie hoe dit werk nie. . .Trouens, die lewe het 'n snaakse manier om dinge oor jou pad te bring, wat jy nooit verwag het nie. Soms is dit klein onverwagte dingetjies wat jy maklik kan hanteer. Ander kere is dit egter groot dinge. Jy het dit al beleef, ek het dit al beleef - en ons almal sal dit weer beleef. Maar ongelukkig reageer ons dikwels nie so goed op hierdie onverwagte dinge nie.
Soms word ons smartvrate en onttrek ons onsself. Ander kere wil ons dit met geweld regsien en dit maak dinge net erger.
Die apostel Petrus het aan die vervolgde Christene wat ontsettende dinge beleef het, geskryf om hulle te bemoedig en raad te gee oor hoe om ontberings te hanteer. Sommige van hulle is letterlik lewendig verbrand. Dinge kan nie veel erger as dit word nie, nè?
1 Petrus 4:7,8Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid. Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes.
Hoe wil God hê moet ons optree wanneer daar verskriklike dinge met ons gebeur? Dis reg! Hy wil hê ons moet selfbeheers en nugter wees!
Aan die eenkant, moet ons nie dikbek rondloop nie; en ons moet beslis nie in selfbejammering verval nie. En aan die anderkant, moet ons nie bakleierig raak en die res van die wêreld vir ons ellende blameer nie. Daar is niks so belangrik as die opdrag dat jy jou naaste moet liefhê asof jou eie lewe daarvan afhang nie; veral wanneer jy in die versoeking kom om verkeerd op te tree.
Daag jouself uit om in Christus, met sy krag, die krag van die Heilige Gees, beheersd op te tree wanneer jy nie die dinge wat met jou gebeur, kan beheer nie.
Wees selfbeheers en nugter.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Tue, 06 Feb 2024 - 1087 - Die Drie Fases van Lewe
Matteus 6:19-21 Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”
Dit is ironies dat jou besittings jou baie maklik kan besit. Die dinge wat God vir ons tot ons voordeel en vir ons genot gegee het, oorheers dikwels ons lewens.Hulle sê daar is basies drie fases in die lewe: om goed te begeer, goed bymekaar te maak en van goed ontslae te raak. As jy jonk is, het jy gewoonlik nie die geld om die goed wat jy regtig wil hê, te koop nie, en jy begeer dit. Ek onthou hoe ek as tiener graag 'n transistorradio wou hê … dit was my droom vir . . .eendag.
Soos jy grootword, begin jy om die goed aan te skaf wat jy nog altyd wou hê en sommer nog so 'n paar ander ou goedjies ook! Ditjies en datjies. Soveel besittings dat party mense stoorplek moet huur omdat dit nie alles in hul huise kan inpas nie.
En dan, in die laaste maande van jou lewe, soos ek onlangs vir my bejaarde ma moes doen, moet jy van alles ontslae raak. Sy het nie baie gehad nie, maar ons moes op die ou end 'n sleepwa huur om die meeste daarvan na die stortingsterrein te neem. Weet jy waarvan ek praat? Het jy dit al gesien?
Matteus 6:19-21 Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”
Dit is natuurlik lekker om 'n paar dinge te hê. Party goed kan 'n ware seën wees. Maar wanneer besittings jou uiteindelik besit, word dit 'n vervloeking.
Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak nie.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Mon, 05 Feb 2024 - 1086 - Ken God se Wil
2 Timoteus 3:16,17 Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te onderrig, die verkeerde te weerlê, om ons tereg te wys en om die regte leefstyl by ons te kweek. Dit is God se manier om sy mense voor te berei vir hulle taak, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê hulle moet doen.
Die enkele, grootste kwaal van Christene in baie dele van die wêreld, is ‘n gebrek aan Bybelkennis. Aan die eenkant smag hulle daarna om sy wil vir hulle lewens te ken. Aan die anderkant los hulle hul Bybels iewers op 'n rak om stof te vergader.Dit is ‘n groot aanklag teen Christene wat in vryheid lewe, dat hul broers, wat onder erge vervolging leef, en baie van hulle nie eers 'n Bybel besit nie, die Bybel beter ken en stywer daaraan vashou, as hulle.
Ek onthou dat 'n dosent in my Bybelkollege-dae, wat al meer as dertig jaar in die bediening was, vertel het, dat wanneer hy na 'n nuwe gemeente geskuif het, hy altyd van die veronderstelling uitgegaan het, dat die vlak van Bybelkennis baie laag sou wees. En tot op daardie stadium was hy nog altyd reg. Dis tragies as jy daaraan dink, nè?
Kan ek jou vra, hoe goed is jou kennis van die Bybel? Hoe ‘n belangrike deel vorm dit van jou hart en jou verstand?
2 Timoteus 3:16,17 Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te onderrig, die verkeerde te weerlê, om ons tereg te wys en om die regte leefstyl by ons te kweek. Dit is God se manier om sy mense voor te berei vir hulle taak, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê hulle moet doen.
Ons eie sonde is die grootste struikelblok om 'n godvrugtige lewe; 'n lewe van vrede en krag, van vreugde en diens, te lei. Dis die waarheid! Laat die Heilige Gees toe om deur die krag van die Lewende Woord jou lewe te transformeer.
Jy kan nie God se wil ken as jy nie sy Woord ken nie.
En dit is Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sun, 04 Feb 2024 - 1085 - Moenie die Vyand Aanbid Nie
Daniël 3:5,6 ’n Aankondiger het hardop uitgeroep: “Luister na dié bevel, alle volke, nasies en tale: Sodra julle die trompet hoor blaas en die fluit, siter, lier, harp en ander blaas- en musiekinstrumente hoor, moet julle neerval en tot die goue beeld bid wat koning Nebukadnesar laat oprig het. Enigeen wat nie neerkniel om dit te aanbid nie, sal dadelik in ’n vuurwarm oond gegooi word.”
Ons wêreld is deesdae so boos. Mense verwag dat ons, God se kinders, voor die bose moet neerbuig; ophou om vir God te getuig; en nie slegs saam met mense die dinge van hierdie wêreld aanvaar nie, maar dit toejuig. En die antagonisme teen ons, word by die dag erger, selfs gevaarliker.Dit is iets wat ek beslis in my omgewing gesien het. Het jy dit ook al in jou konteks opgemerk? Dit lyk of die gety van vervolging teen Christene besig is om te styg. Maar weet jy, dis niks nuuts nie.
Toe Israel in die 6de eeu v.C. in Babilon in ballingskap en slawerny weggevoer was, het die Babiloniese koning, Nebukadnesar, geëis dat hulle voor 'n groot, goue standbeeld van homself moet neerbuig en dit aanbid.
Daniël 3:5,6 ’n Aankondiger het hardop uitgeroep: “Luister na dié bevel, alle volke, nasies en tale: Sodra julle die trompet hoor blaas en die fluit, siter, lier, harp en ander blaas- en musiekinstrumente hoor, moet julle neerval en tot die goue beeld bid wat koning Nebukadnesar laat oprig het. Enigeen wat nie neerkniel om dit te aanbid nie, sal dadelik in ’n vuurwarm oond gegooi word.’
Daniël se drie vriende het geweier, en soos hy gewaarsku het, het Nebukadnesar hulle in die oond gegooi. As jy die res van die storie ken, sal jy weet dat God wonderbaarlik ingetree en hulle gered het. Maar dis nie hoe dinge altyd gebeur nie.
Eeue later het Jesus ook geweier om voor die bose neer te buig en op die ou end is Hy gekruisig! Wat ook al die uitkoms, wat die koste ook al is, moenie swig en voor die bose neerbuig nie.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sat, 03 Feb 2024 - 1084 - Bepaal Jou Prioriteite
Handelinge 20:24 Al is my lewe kosbaar, ag ek dit van geen waarde as ek nie my lewenstaak en my bediening wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak nie: Om die Goeie Nuus te verkondig dat God mense liefhet sonder dat hulle iets hoef te doen om dit te verdien.(NLV)
Hoe gereeld evalueer jy jou prioriteite? Hoe gereeld weeg jy hulle in jou kop en hart op, om jou te help besluit watter van hulle bo aan die lysie behoort te wees? Wat moet ek vandag, môre en die volgende dag doen?Die meeste mense bestee glad nie genoeg tyd daaraan om aan hul prioriteite te dink nie. Ja, hulle is te besig om te reageer op die probleme wat die lewe na hulle kant toe gooi. Hulle hanteer die op- en afdraandes van hul emosies, terwyl hulle dikwels net kop bo water hou. Klink dit bekend?
Die meeste van ons se eerste prioriteit is sekuriteit en oorlewing en die tweede is gemak. Ons wil almal veilig en gemaklik wees. Dit is die geykte weg wat ons volg en dikwels oorweeg ons nie eers ander moontlikhede nie, nie waar nie?
En wanneer die lewe rof raak kies ons, met skok en afgryse om ons eie bas te red. Maar dis nie wat die apostel Paulus gedoen het nie. Hy het 'n ander stel prioriteite gehad:
Handelinge 20: 22,23 En nou gaan ek Jerusalem toe, daartoe gedring deur die Gees. Wat dáár met my sal gebeur, weet ek nie. Ek weet dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging op my wag.
En dis presies wat in Jerusalem op hom gewag het. Wat het hom soontoe laat gaan? Hoe kon hy willens en wetens daarheen gaan as hy geweet het hy gaan in die tronk gegooi word?
Handelinge 20:24 Al is my lewe kosbaar, ag ek dit van geen waarde as ek nie my lewenstaak en my bediening wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak nie: Om die Goeie Nuus te verkondig dat God mense liefhet sonder dat hulle iets hoef te doen om dit te verdien.(NLV)
My vriend, kry jou prioriteite in orde.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Fri, 02 Feb 2024 - 1083 - Wag vir ‘n Deurbraak
Galasiërs 6:9,10 Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges.
Om op enige terrein van jou lewe, waar jy 'n deurbraak nodig het, op God te wag, kan ondraaglik wees. En het jy opgelet dat hoe groter jou behoefte is, hoe meer word jou vertroue op Hom soos 'n tuimeltreinrit, oftewel ‘n “rollercoaster ride”?Miskien is dit op die gebied van jou finansies, of jou gesondheid, of die gesondheid van 'n geliefde? Miskien is dit 'n moeilike verhouding wat jou tot in die kern van jou wese vernietig? Wat dit ook al is, kan dit inderdaad ondraaglik wees terwyl jy wag en wonder … Sal God opdaag? Sal Hy doen wat ek wil hê Hy moet doen?
Jy het Hom gevra vir 'n deurbraak. Terwyl jy van sy getrouheid in die Skrif lees, het jy sy vrede beleef. Jy het gevind dat jy op Hom kon vertrou. Maar in die middel van die nag het jy rondgerol en om en omgedraai terwyl vrees jou siel deurboor.
Die druk kry jou onder. Jy is op pad na 'n afgrond toe en Hy het nog nie opgedaag nie. Hoe hanteer jy dit? Wat doen jy terwyl jy wag?
Galasiërs 6:9,10 Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges.
Met ander woorde, terwyl jy op God wag; daar in die middel van daardie moeilike tyd, gaan voort en doen wat kelners doen. Dien ander, en laat die res aan Hom oor.
Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen,
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Thu, 01 Feb 2024 - 1082 - Juig en Treur
Romeine 12:15 Lag en vier fees saam met elkeen wat bly is. Huil saam met elkeen wat hartseer is. (NLV)
Hier is ontstellende navorsingsdata. Ons sal gemiddeld byna 17 jaar van ons lewens met ons neuse in ons selfone deurbring. Dit is 145 800 uur of 33% van ons wakker ure. Dit is ontstellend en laat jou kop duisel.Kom ons kyk net weer na daardie syfers. Oor 'n 24 uur periode gaan ons, kom ons sê, agt uur slaap. Dit laat ons met 16 wakker ure. As ons die helfte van hulle vir vyf dae per week by die werk deurbring en 'n derde van hulle op ons fone, laat dit bitter min ure per dag vir al die ander dinge oor. Beslis nie veel nie!
Wat doen dit aan ons verhoudings? Wat doen dit aan jou verhoudings? Huwelike val uitmekaar. Kinders word afgeskeep. Diepgewortelde sielkundige en sosiale probleme versprei soos 'n wêreldwye pandemie. Dit is 'n somber prentjie.
Wat kan ons doen om daardie siklus te breek? Kom ons pas 'n paar pre-tegnologie, outydse, Bybelse, goddelike wyshede op hierdie desperate sosiale siekte toe:
Romeine 12:15 Lag en vier fees saam met elkeen wat bly is. Huil saam met elkeen wat hartseer is. (NLV)
Met ander woorde, maak die tyd, gee jouself die emosionele ruimte, om empatie te toon. Stop. Vier jy werklik jou kind se oorwinning op die sportveld, of 'n mylpaal in ballet? Lag en vier fees saam met elkeen wat bly is.
En wanneer iemand swaarkry, ly in jou hart saam met hulle. Wees by hulle, sit by hulle en huil soms saam met hulle.
Empatie, om 'n ander persoon se vreugde of pyn te voel, is ongelooflik kragtig. Dit is 'n brug tussen twee mense wat vir 'n leeftyd sterk sal staan. Dit is 'n brug tussen twee mense waaroor Jesus, so dikwels, kies om oor te loop.
Lag en vier fees saam met elkeen wat bly is. Huil saam met elkeen wat hartseer is.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Wed, 31 Jan 2024 - 1081 - Staak jou Geheime Sondes
Psalm 90:8 ...want U weet van al ons slegte dade. Selfs die verkeerde dinge wat ons vir U probeer wegsteek, is oop en bloot voor U.(NLV)
Oor die jare het ek en jy al gesien hoe 'n hele paar prominente Christenleiers in sonde verval. En sonder uitsondering het hul ondergang ontstaan uit die een of ander geheime, verborge sonde. Daarin lê vir ons 'n belangrike les.As jy betrokke is in iets wat jy vir ander moet wegsteek; vir jou vrou of man, jou vriende, jou kinders … ondersoek dit dan noukeurig. Want daar is ‘n baie goeie kans dat dit sonde behels.
En terwyl die ander mense dalk nie sien wat aangaan nie, is daar Een wat wel sien. Kyk wat sê Moses vir God in:
Psalm 90:8 ...want U weet van al ons slegte dade. Selfs die verkeerde dinge wat ons vir U probeer wegsteek, is oop en bloot voor U.(NLV)
En my vriend, vroeër of later, sal God daardie geheime sondes aan die lig bring. Dit kan reeds in jou leeftyd gebeur, soos dit vir baie van daardie gevalle leiers gebeur het. Dis tragies, ja, maar dit is beter. Ten minste sal jy die geleentheid hê om daarmee te breek, om jou daarvan te bekeer en om deur God vergewe te word.
Dit sou oneindig erger wees, indien daardie verborge sonde eers op die oordeelsdag, wanneer die geleentheid tot bekering verlore is, aan die lig kom.
Charles Spurgeon het eenkeer gesê: Here bevry ons van diegene wat engele in die openbaar, heiliges by die kerk en demone by die huis is.
Kan ek jou vandag uitdaag om eerlik met jouself te wees. Is jy besig met die een of ander verborge sonde in jou lewe? Klou jy in die geheim aan hierdie demoniese duisternis vas, terwyl jy jou in die openbaar as 'n engel van die lig voordoen?
Indien wel, neem nou die inisiatief. Praat met die Here. Hanteer dit met Hom, want dinge wat ons virHomprobeer wegsteek, isbuitendien oop en bloot voorHom.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Tue, 30 Jan 2024 - 1080 - Die Here is Ewig
Psalm 90:1,2 Here, U was ons toevlug van geslag tot geslag. Voordat die berge gebore is en U die wêreld voortgebring het, van ewigheid tot ewigheid, is U God.
Ons lewens bestaan hoofsaaklik uit daaglikse sleurwerkies. Ek sê nie dit is 'n slegte ding nie, dit is seker maar hoe die lewe is. Maar ons kan die risiko loop dat ons uiteindelik onder die onbeduidende klein dingetjies begrawe word en die groot prentjie uit die oog verloor.Nouja, wat gaan jy – vandag, môre, die volgende dag doen? Seker dieselfde as wat jy verlede Maandag, verlede Dinsdag, en verlede Woensdag gedoen het. Dis hoe dit gaan. En dan, te midde van die sleurgang van die lewe, tref iemand, of iets, jou skielik met 'n bal uit die skeelkant op die krop van jou maag.
Nouja, ons hanteer dit, ons staan op, ons stof onsself af en gaan voort. Die lewe gaan maar op die ou trant voort. En dag na dag raak ons blik gevestig op die hier en nou, en dit tap ons vreugde, ons hoop, ons geloof, ons liefde.
Kom my vriend, kom sluit vandag by my aan sodat ons saam na die hemelse groot prentjie kan kyk.
Psalm 90:1,2 Here, U was ons toevlug van geslag tot geslag. Voordat die berge gebore is en U die wêreld voortgebring het, van ewigheid tot ewigheid, is U God.
Dis fantasties! Halleluja. Van voor die begin van tyd en tot aan die anderkant van die einde van die tyd, sonder einde, is God ons God. Hy was, is en sal vir altyd ons tuiste, ons toevlug, ons Verlosser, ons vreugde wees.
Ons God is ewig en verdien al ons lof. Is Hy besorg oor die klein dingetjies van ons lewens? Is Hy betrokke? Die antwoord is 'n besliste ja! So, terwyl jy vandag, môre en die volgende dag besig raak … dink aan hierdie wonderlike waarheid:
...van ewigheid tot ewigheid, is U God.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Mon, 29 Jan 2024 - 1079 - Die Here Kan Baie Meer Doen
Efesiërs 3:19,20 Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef. Mag julle heeltemal met die volheid van God vervul word. Hy moet geprys word – Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra. (NLV)
Elkeen van ons was seker al een of twee keer op moedverloor se vlakte. En as jy moed verloor, word jy desperaat.Wanhoop en moedeloosheid is albei simptome van ‘n laagtepunt. Wanneer jy geen hoop meer het nie, dan weet jy jy het jou laagtepunt bereik. Jy voel asof jy nie vandag gaan oorleef nie, wat nog te sê van môre, volgende week, volgende maand, of volgende jaar...
Ek weet, ek was al daar. Miskien was jy ook. Dit is op daardie plek wat baie mense besluit om hulle eie lewens te neem ... Wat is die doel van dit alles? Hoe kan ek aanhou om te lewe?
Vir enigiemand wat hulle nou in daardie situasie bevind, en vir enigiemand wat hulle eendag in daardie situasie gaan bevind, is daar hoop:
Efesiërs 3:19,20 Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef. Mag julle heeltemal met die volheid van God vervul word. Hy moet geprys word – Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra. (NLV)
Ons kan sy liefde nie met woorde beskryf nie: dit is te groot en te wonderlik. Geen mens kan dit met sy verstand uitredeneer nie, want dit is baie groter as wat ons as mense is. Dit is hier; dit ‘n werklikheid en dit is tot jou beskikking. Mag God, deur die krag van die Heilige Gees, jou lewe met sy teenwoordigheid oorspoel sodat daar nie ’n stukkie van jou lewe is wat nie deur God se teenwoordigheid geraak word nie.
My vriend, daar is 'n môre. Daar is 'n toekoms. Om die waarheid te sê, met die krag van God se liefde wat in jou werk, kan Hy dinge vir jou doen waarvan jy nie eens kon droom nie... baie meer as enigiets wat jy selfs aan kan dink of vra.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sun, 28 Jan 2024 - 1078 - Vestig Jou Hoop Op die Here
Efesiërs 3:18,19 Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.
'n Vriend in nood is 'n vriend in dood. Ek sal só ‘n vriend op wie jy kan staatmaak; iemand wat deur dik en dun aan jou kant is, iemand wat vir jou skerm, vir jou lief is en vir jou omgee, selfs wanneer jy in 'n donker plek is, vir geen goud ter wêreld verruil nie. Beslis nie!Ek onthou toe ek amper dertig jaar gelede op 'n baie desperate donker plek was. Dit was so donker dat ek dit ernstig oorweeg het om my eie lewe te neem. God het toe 'n paar wonderlike mense rondom my geplaas, maar selfs hulle was nie in staat om diep in my siel in te reik en om my pyn weg te neem nie. Dit was daar dat ek Jesus vir die eerste keer werklik ontmoet het. Hy was die een Lig wat konsekwent in daardie ink-swart donkerte geskyn het.
Kom ons kyk na die tweede deel van Paulus se gebed vir sy vriende …
Efesiërs 3:18,19 Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.
Wat 'n wonderlike gebed!
Dit is ook my gebed vir jou. Laat ek jou vertel, in daardie donker plekke waarin ons onsself soms bevind, is die ervaring van die omvang van God se onvoorwaardelike liefde in Jesus Christus vir jou, die één ding; die enigste ding wat jou van jou pyn kan genees.
Mag julle.... begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek!
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Sat, 27 Jan 2024 - 1077 - Die Here Maak Jou Innerlik Sterk
Efesiërs 3:16,17 Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.
Het jy al opgelet hoe dit wil voorkom asof party mense geestelike krag het en vasbeslote is om deur die storms en orkane van die lewe te veg, terwyl ander soos hulpelose kurkproppe heen en weer op die see geslinger word?Ons het die laaste paar dae gesels oor God se hulp wanneer daardie donker dae van tyd tot tyd, onvermydelik, oor ons lewens toesak. Maar, dis moeilik om sy beloftes te glo, wanneer dit voel asof die lewe sy rug op ons gedraai het.
Want wanneer ons emosies met ons rondomtalie speel, is dit amper asof ons gestuit word deur iets wat verhoed dat ons die lewensreddende hulp wat God bied, ontvang. Miskien is dit waarom die apostel Paulus vir sy vriende die volgende gebid het in:
Efesiërs 3:16,17 Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.
Wat 'n wonderlike gebed! En dis een wat ek vandag ook vir jou wil bid; dat God die vensters van die hemel sal oopmaak en sy krag oor jou sal uitstort, sodat jy onder alle omstandighede innerlik sterk sal wees. En ek weet dat Hy getrou is om jou al die krag te gee, wat jy nodig het, wanneer Hy jou vul en met sy Heilige Gees deurdrenk.
Mag ons Here Jesus Christus deur die geloof in jou hart woon.MagHy jou, tot sy eer, sterk maak deur jou geloof in Christus!
Want dit is sy belofte, sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Fri, 26 Jan 2024 - 1076 - Die Here Gee Jou Krag
Habakuk 3:19 Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.
Ons benodig krag, spoed en behendigheid om probleme te hanteer. Dit is wat ons nodig het wanneer dinge teen ons draai, wanneer twis, verwarring en pyn uit alle rigtings ons bedreig.Gister het ons in die Ou Testament gesien hoe die profeet Habakuk, ten spyte van teleurstellings, sy vreugde in die Here vind. In sy gebed leer hy ons dat wanneer al die goeie dinge wat ons vir onsself beplan het, tot niet gaan, God ‘n strategie het om ons oorwinning oor ons omstandighede te gee. Juis in die aangesig van jou teëspoed gee die Here jou die krag om met jou koersvaste geloof in Hom, bly te wees en te juig oor God, jou Verlosser.
In die volgende vers lees ons van die uitkoms van Habakuk se uitdagende, koersvaste geloof. Hy getuig van God se genade wanneer hy die Here in die aangesig van die droewige dinge, wat met hom gebeur, prys:
Habakuk 3:19 Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop.
Waar kom hierdie krag vandaan? Is dit iets wat jy uit die niet moet optower? Nee, my vriend! Die Here, jou Here, gee jou die krag. Hy help jou om soos 'n ribbok te hardloop en Hy lei jou veilig op die berge.
Stel jou net voor hoe die ribbokke, wat rats oor klowe en skeure spring, die veiligheid van die bergtoppe bereik. Dit is ‘n prentjie van spoed, krag en vaardigheid. Wie het Habakuk se donker dae oor hom laat kom? God het.
Wanneer ons nie kan nie, kan God. Wanneer ons swak is, is Hy sterk. En dit is die krag, die spoed en die vaardigheid wat Hy - selfs in ons donkerste dae, of nouja, veral in daardie donker dae - sal gee aan diegene vir wie Hy lief is.
Here God, gee my krag. Help my om soos 'n ribbok oor daardie bergtoppe te hardloop.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Thu, 25 Jan 2024
Podcasts ähnlich wie God se Woord VARS vir jou Vandag
- Conversations ABC listen
- Global News Podcast BBC World Service
- El Partidazo de COPE COPE
- Herrera en COPE COPE
- The Dan Bongino Show Cumulus Podcast Network | Dan Bongino
- Es la Mañana de Federico esRadio
- La Noche de Dieter esRadio
- Hondelatte Raconte - Christophe Hondelatte Europe 1
- Dateline NBC NBC News
- 財經一路發 News98
- La rosa de los vientos OndaCero
- Más de uno OndaCero
- La Zanzara Radio 24
- L'Heure Du Crime RTL
- El Larguero SER Podcast
- Nadie Sabe Nada SER Podcast
- SER Historia SER Podcast
- Todo Concostrina SER Podcast
- 安住紳一郎の日曜天国 TBS RADIO
- アンガールズのジャンピン[オールナイトニッポンPODCAST] ニッポン放送
- 辛坊治郎 ズーム そこまで言うか! ニッポン放送
- 飯田浩司のOK! Cozy up! Podcast ニッポン放送
- 吳淡如人生實用商學院 吳淡如
- 武田鉄矢・今朝の三枚おろし 文化放送PodcastQR
Andere Kinder und Familie Podcasts
- Focus on the Family Broadcast Focus on the Family
- Compostelle: j'ai fait mon sac! Charlotte DUCOUT
- Meditation Sounds Meditation Sounds
- Dr. James Dobson's Family Talk Dr. James Dobson
- Detective OTR Old Time Radio DVD
- Baby Music Radio Karen Sokolof Javitch
- Deep Sleep Sounds Deep Sleep Sounds
- Focus on Parenting Podcast Focus on the Family
- Cola City Crime - A True Crime Podcast Cola City Crime
- 4 kids by kids Podshape
- Love & Love Barani Manikantan
- Muslim Joseph
- Healing & Dealing Charlotte Estrada
- Children's Stories Sol Good Network
- Stories - Children Sol Good Network